My eerste kennismaking met Kaokoland was in 1993. Die plek het my so aangegryp dat ek daarna al ’n paar keer familie en vriende wat dit graag wou sien, saamgeneem het.

Die roetes wat ons volg, het deur die jare heelwat verander. Die eerste paar keer wat ons gegaan het, het ons nie geweet waar die mooiste woestyntonele is nie, en ek het nie ’n idee gehad waar om die woestynolifante te kry nie. 

Ons het baie verdwaal, maar dit het veroorsaak dat ons die wêreld goed leer ken het. Ons het juis een slag op daardie kaal vlaktes anderkant Oranjedrom rigting verloor. En toe ons weer ons koers kry, het ek besluit daar moet ’n baken wees wat kan help om die pad te vind. 

Daar is drie paaie wat by daardie punt bymekaar kom, maar jy kan skaars die spore van die paadjies sien want dit is ’n harde gruisoppervlak en daardie wêreld se kwaai wind waai alle tekens van spore op die grond gou-gou toe. 

Toe ry ek maar in 2004 ’n groen drom van Zeerust af saam, gaan plant dit daar waar die paaie vertak en gooi dit vol klippe en so verdwaal ons nie meer daar nie.

In 2010 het Hennie Welman my gevra of hy met sy omgeboude Kewer kan saam as ons weer Kaokoland toe ry. Dié Kewer is eintlik die Suid-Afrikaanse weergawe van ’n Baja Bug – ’n Volksie wat omgebou is om veral in sand, woestyne en op strande, te kan ry. 

Ek het dadelik “ja” gesê, hoewel ’n paar manne skepties was. Uit ervaring het ek geweet dié Volkswagen en sy baas sal dit maak want in die jare tagtig het ek en my broer die Roof of Africa-veldren in Lesotho gery en daar het ek gesien dat hulle sonder moeite oor baie slegte paaie en klippe kan ry.

Die eerste paar keer wat ons gegaan het, het ons nie geweet waar die mooiste woestyntonele is nie, en ek het nie ’n idee gehad waar om die woestynolifante te kry nie.

Boonop weet ek Hennie ken sy storie. Op een van ons vorige reise saam het die brandstofpomp opgepak, maar voordat ek ’n koue bier onder ’n mopanieboom se koelte kon klaarmaak, het Hennie die pomp met ’n ander een vervang.

Die een bekommernis was egter dat Hennie se Volla al baie oud was. Dis was ’n 1973-model en ons sou met hierdie reis oor die Van Zylspas ry. Die groot vraag op almal se lippe was of die Volla dit maak? Wel, daar sou net een manier wees om uit te vind, en dit was om die ding te gaan ry en te kyk wat gebeur.

Ons groep ry het uit Zeerust na Kaokoland toe vertrek en op Kamanjab tenks en jerriekanne vol gemaak. Ons het die pad na Epupa gevat en van daar af na Kaokoland toe.

Kewerbloed in die are

Hennie is ’n man wat weet van ysters en hy is Volksie-mal. Hy het ’n string veranderinge aan sy Kewer aangebring – die onderstel is versterk en gelig vir meer grondvryhoogte, hy het 31 duim-wiele opgesit, ’n spesiale koppelaarplaat en vliegwiel ingesit, ’n 2.0 Golfenjin ingebou en natuurlik ’n dakrakkie opgesit.

Vir die reis het hy vyf jerriekanne met brandstof, ’n waterkan, stoel, slaapgoed en kleresak in die Kewer gelaai en ’n spaarwiel en tent op die dakrak vasgemaak. 

Hy het ook genoeg onderdele en gereedskap ingepak en sy kos en drinkgoed was in my voertuig gepak. In my Hilux, saam met my en my vrou, Hettie, het Santjie van Niekerk en Gerda Vermaak gery. 

Die groot dag breek aan.

Die oggend wat ons Van Zylspas moet uit, breek uiteindelik aan. In die kamp heers  ’n vreemde stilte en daar word sommer langer na die sleepstange en banddrukmeters gekyk. 

Hoewel die hele pas so 12 tot 13 km lank is, is die heel ergste die afdraand net ná die uitkykpunt oor Marienfluss.

Hennie geniet die uitsig oor die Marienfluss op Van Zylspas

Die eerste paar kilometer van die Van Zylspas het so stoei-stoei gegaan en almal het ’n goeie voorsmakie gekry van wat nog kom. By die uitkykpunt het ons mooi foto’s geneem en ’n botteltjie Rescue Remedy omgestuur.

Een vir een is ons toe daar af. Eerste ek, Hettie en Gerda met die Hilux, toe Jannie en Elmarie Kock met hulle Land Cruiser VX, daarna Lang Hennie en Marie du Plessis met ’n Land Cruiser dubbelkajuit.

Maar die beste word mos vir laaste gebêre, en so staan ons almal uiteindelik aan die kant van die pad – met kameras reg – en wag dat die Kewer sy staal moet wys. Maar toe die kameramanne hulle oë uitvee, is hy oor die slegste plekke. Dit was eintlik ’n antiklimaks want dit het heeltemal te maklik en te goed gegaan en daar was nie eens bietjie sports nie. 

Ons ander klomp in ons Toyotas het dit egter maar moeilik gehad, want ons het elkeen ook ’n wa gesleep.

Hennie en sy kewer moes vroeër as die res van ons huis toe vertrek en hoewel ons nog ’n paar dae in die omgewing rondgery het, moes hy en die Kewer ons by Puros verlaat. Die res van ons is na die Hoanibrivier en ons het via die Palmwag Crowhter-roete tot by Palmwag gery.

Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #83 (Junie 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus as jy so iets raaksien.