Ons peul uit die bakkie nes die amptenare die venster van hulle glashokkie by die Caledonspoortgrenspos na Lesotho oopskuif.

Elkeen het ’n pen in die hand, want hier is net een in die kantoortjie. Dis 6 vm. en yskoud. Ons het gisteraand op Heilbron geslaap en vanoggend 4 vm. in die pad geval. Ons paspoorte is binne sekondes gestempel. Ons kruie stadig teen die gevriesde Moteng- en Tlaengpas op, neem foto’s by elke uitkykpunt en kom twee uur later aan by die AfriSkioord. Ons beknopte bakkie hou stil voor die backpackers “Check out at 10:00, Check in at 16:00” staan op die deur. Dis 9 vm.

Ons piekel na die sneeuhelling en verruil ons stapskoene vir sneeuskoene. 

Afriski
Afriski

Nadat jy herhaaldelik die sneeubaleffek fisiek ervaar het, begin jy en die sneeu mekaar verstaan. Die geluid van ys onder jou ski’s motiveer jou om regop te bly. Die ysklont wat voorheen in jou pad was, tel jy nou op om jou dors mee te les. Jy verwelkom die snerpende wind wat jou vroeër laat bibber het – dit kan warm raak en ski is ’n workout! Dit neem ’n paar uur, maar sodra jy kan staan, is daar geen keer nie!

Met sneeu in ons skoene, kouse, ore, snorre en baarde stap ons uitgehonger na die voertuie toe. Ons eet tuisgemaakte gerooktehoenderwraps in die parkeerterrein.

Uiteindelik is dit 4 nm. Die AfriSki Backpackers is sonder twyfel die oord se goedkoopste opsie en jou ander opsies wissel in prys per nag in selfsorghuise. Die backpackers het ’n gemeenskaplike kombuis, opwaskamer, badkamer en ’n kuierdeel met ’n vloer van sintetiese gras.

Vroegoggend skyn sonstrale deur die gordynlose vensters. Ons ontwaak een vir een. Beskuit word in koffiebekers gedoop. Iemand sing vals die bekende animasiefilm Frozen se “Do You Want to Build a Snowman?”. Terwyl ek demonstreer hoe my sneeuplank gister vasgehaak het, stamp die meisie langs my haar bakkie pap om op my. “Dit sneeu. Dit flippen sneeu!” gil sy. Buite fladder fyn sneeuvlokkies op ons voertuie se windskerm. Dit lyk soos konfetti – en dis regte sneeu, nie masjiensneeu nie (die oord het ook masjiene wat sneeu maak; dus is ski gewaarborg in die wintermaande). Dis -4 °C. Almal storm binnetoe en trek nog ’n laag klere aan. Binne minute is die sneeuskoene aan en almal – met wisselende grade van selfvertroue – is op die sneeu.

Aanvanklik konsentreer ek op die slyp van my ski-vaardighede, maar soos wat ek gemakliker deur die sneeu sny, kan ek my kop lig en inneem wat rondom my aangaan. Dié terme hoor jy gereeld: “snowplow” (as ’n skiër sy ski’s na binne draai om spoed te verminder of van rigting te verander), “hillside-toeside” (as ’n skiër heen en weer draai as hy by ’n skuinste af ski) en “pizza-stop” (dis wat die instrukteurs skree as ’n beginner sukkel om te stop). 

Dan kry jy natuurlik ook die motiveringsgesprekke wat benoude outjies met hulleself voer: “Confidence exceeds ability”, “ek ís ’n kansvatter” en, my gunsteling: “Slap arms, tande toe, slap arms, tande toe.”

Een ding is egter ononderhandelbaar: Jy lag nooit vir iemand wat val nie. En nie omdat dit nie snaaks is nie, want dit ís vreksnaaks. Jy lag nie, want dan verloor jy moontlik jou balans. Jy ski bloot óm die persoon, knik dalk, en sê weer vir jouself: “Confidence exceeds ability!”

Vanmiddag eet ons soos opgevoede mense by tafels. Die oord het ’n restaurant genaamd Sky en ’n meer bekostigbare koffiekroeg – die Gondola Café. Jy kan enigiets van glühwein tot ’n woolly mammoth (warmsjokolade met Amarula) by die Gondola Café koop. Hier’s ook houttafels en bankies as jy langs die skihellings wil eet. Ná middagete op die Gondola Café se dek storm ons soos dors honde na water terug hellings toe. Ons ski en val gereeld, maar in die algemeen gaan dit goed.

Afriski
Afriski

Probeer bum boards uit – ’n plastiekbordjie waarop byna net jou boude pas. Dis vet pret. Elkeen gryp ’n bord en stap tot in die middel van die sneeuhelling. ’n Instrukteur verduidelik die reëls: Jy moet basies so vinnig as wat jy kan, op dié klein stukkie plastiek afgly. En glo my, daai stukkie plastiek laat waai! Dis nogal ’n storie om ná die tyd die sneeu uit allerhande snaakse plekke te kry.

Die aand is ons gaar. Letterlik, want ons het vergeet om sonskerm aan te smeer. Wie’ t geweet jy kan brand in die sneeu? Wel, ’n mens brand. En seer. Smeer dus jou gesig spierwit voordat jy die sneeu aandurf.

Ná vier dae is ons kosvoorrade uitgeput en ons knieë blou, en lê die sneeu diep in ons harte. Dis huistoegaantyd. Ons kronkel weer af met die mooi bergpasse. Almal in die kar is vreeslik in hulle skik, want ons kan ski!

Beste tyd om te gaan? Ons bespreek vir die laaste naweek in Julie – kenners meen dis wanneer hier die meeste sneeu op die berge is.Kontak: afriski.net


Hierdie artikel is geneem uit ons argief. Alle inligting is onlangs nagegaan, maar feite en geite kon intussen verander het. Laat weet gerus as jy so iets raaksien - stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za

Lus vir vakansie?
Gebruik die Afrikaanse soekenjin www.wegreis.co.za om vliegkaartjiepryse vir binne- en buitelandse vlugte te vergelyk. Teken in vir die nuusbrief om koeponkodes te ontvang vir afslag op enige binnelandse- of buitelandse bespreking (geldig tot 31 Maart 2020)!