Die ding het lank gelede begin met my sus Celia en haar vriendin Judy wat op ’n kol te veel prente in boeke gekyk het van plekke waar nie baie mense nog met ’n perd gery het nie. So kom hulle toe af op die Torres del Paine-park in Patagonië, wat el fin del mundo – of “die einde van die aarde” – genoem word.  

Hulle het natuurlik gesigte gesien van wafferse cowboys wat oor die prairies ry, en nie gedink daar’s ’n rede hoekom nie baie mense nog daar perdgery het nie.  

Maar so ís perdemense soos Celia nou maar eenmaal. Sy het kleintyd op Aspat deur die gang van die plaashuis buite De Rust gejaag – een stel stoeptrappe op, die ander stel stoeptrappe af. Daarvoor het sy ’n drag slae gekry (wat nie gehelp het nie).   

Einde 2006 vra sy of ek nie wil saamkom op dié perdetrippie nie. Ek, wat jare laas op ’n perd was; met ’n geliefde wat nie weet met watter kant ’n perd eet nie.  

Dag 1 

Uit ’n cowboyfliek 

’n Jaar later ontmoet ons die res van die groep – altesame 11 – in Buenos Aires. Ons koop alles wat ons vergeet het en vlieg dan oor Santiago in Chili na Punta Arenas op die Straat van Magellaan. Dit lyk soos die Karoo in ’n goeie jaar, net sonder doringbome.  

Nadat ons die plek ’n bietjie verken het, vertrek ons uiteindelik na die Parque Nacional Torres del Paine, ongeveer 310km noord van Punta Arenas. Dis ’n ongerepte wildernis met bergpieke, mere, woude, pampas (grasvelde), bossieveld en woestyn oor 240km² versprei. Ons kampplek is ’n puesto, ’n oorwinterhut van die gaucho’s (cowboys) van die Estancia Tercera Baranca op die oosgrens van die Torres.  

Van hier af sien jy al die berge wat soos vingers die lug in reik. Dis soos iets uit ’n ou cowboyfliek. En net soos in ’n cowboyfliek is hier ook nie juis geriewe nie: ’n yskoue stroompie vir jou stoflyf en ’n geriefie – wel, miskien is “geriefie” ’n te sterk woord.   

Vir aandkos maak die kampkok, Chacana, vir ons empanadas, die beroemde Suid-Amerikaanse vleispasteitjie. Hier op die pampas smaak dit so reg soos gebraaide skaapboud in die Groot-Karoo. 

Perde
Die Criollokruisras waarop ons gery het, is sterk, vasvoetig en baie fiks. Dié perde kan tot 40 km per dag aflê en is besonder mak –niks se gekniehalter of vasbind is nodig nie.

Dag 2 

’n Chileense Oukersaand 

Die volgende oggend ontmoet ons die perde. Jorge, ons gids, en die gaucho’s Patrice en Richard kyk ons fyn deur en ken in ’n japtrap vir elke ruiter ’n perd toe wat sy of haar aard en ryvermoë soos ’n handskoen pas. Ek ry vir Ce-Ce die perd. 

Ons ry vir die dag uit na ’n waterval, Cascada Zamora, om vertroud te raak met die Western-styl saals, tooms en ons perde. Die paadjie loop teen steil berghange af, maar die perde loop met vaste voete en ’n koel kop.  

Op hierdie eerste van baie steiltes kyk ek maar nie te veel af nie en laat die perd begaan.  

Die omgewing is pragtig en ons sien talle kondors (reusagtige roofvoëls met ’n vlerkspan van oor die 3m), rheas (iets tussen ’n jong volstruis en ’n kraanvoël) en guanaco’s (nuuskierige langnekbokke waarvan die wol voorheen vir klere gebruik is). Ná ’n piekniekete by die waterval ry ons met ’n ander roete terug.  

Die aand hou ons en die gaucho’s ’n jolige Oukersaandfees met lamasado: ’n Hele lam wat op ’n raamwerk van metaal oopgespalk en so skuinsskuins teenaan die vuur gebraai word. Terwyl dit gebraai word, word dit met sterk soutwater geverf. Niks fênsie souse of speserye nie. Ons teug aan coco de mono (’n drankie gemaak van Brasiliaanse neute) wat Jorge se ma gemaak het. 

Dag 3 

Die tog begin 

Op Kersdag word die caballos (pakperde) gelaai en begin ons ry in die rigting van die Cuernos en die Torres (letterlik die horings en die torings – bergspitse wat lyk soos reusevingers wat uit die landskap verrys) en Lago (meer) Paine.  

Ons swaai weg voor die Laguna Azul (dis ook ’n meer, maar het nie ’n uitloop nie), waar ons middagete eet en mik na Laguna Stokes, waar ’n reisiger van die vorige eeu, lady Florence Dixie, kamp opgeslaan het toe sy die Torres in die oog gekry het. Die aand slaan ons kamp op langs die rivier teenaan Lago Paine, in ’n veld vol wit madeliefies.  

Dis soos iets uit ’n sprokie. 

Perde
Jy slaap in jou eie tentjie, wat langs die Laguna Verde sy staan moet ken in die wind. Dis pragtig, maar koud!

Dag 4 

Troepiedoepie 

Ons ry al met Lago Paine se waterkant tot by Lago Dickson en dan deur digte woude van suidelike berkebome (die Northofagusspesies) verby die verbluffende noordelike pieke van die Painereeks. 

Middagete is by ’n hut wat van Desember tot Maart deur Chileense polisiemanne (carabineros) gebruik word om die grens met Argentinië te bewaak.  

Die ouens word met ’n helicopter afgelaai en moet klaarkom met ’n paar perde vir patrolliewerk en radioverbinding met die park se hoofkwartier; ons kuier is vir hulle dus ’n groot makietie. 

Ons eet met ’n uitsig oor die Dickson-gletser wat ons stil laat. In die namiddag ry ons terug na die kampplek – die meer aan die een kant en kranse aan die ander.  

Dag 5 

Sit-sit so 

Die pakperde, wat vir ’n dag kon rus, word weer met tafels, stoele, tente en gasbottels gelaai – ek skat ’n goeie 250 kg elk. Ons rit na die volgende oornagpunt, Estancia Laguna Amarga, neem ons deur uiteenlopende landskappe: Ongerepte groen valleie, berkewoude, asuurblou mere en oop pampas. Ons eet middagete teen ’n rantjie waar die wit madeliefies weer skouerhoogte staan. 

Dis hier waar ons vir die eerste keer sien hoe ’n perd gaan sit. Een van die perde word deur ’n gaucho opgesaal wat die geweefde buikgord te styf na die perd se sin trek. Toe gaan sit die perd op sy agterstewe soos ’n hond. Hy verseg om op te staan voordat sy buikgord laat skiet is. Dit sou hierna nog ’n paar keer ge beur. 

Dag 6 

“El Presidente” 

Ons ry ’n rukkie langs die meer af, dan oor een van die park se groter paaie, en uiteindelik hoër en hoër op in ’n vallei, tot ons by Lago Sarmiento Chico afklim vir ete. Hier is die Torres teenaan jou en die wind ruk verbete.  

Vroegaand kom ons by die kampplek, Estancia Lazo, aan. Ons sê stilletjies dankie dat ons tente reeds opgeslaan is, want die wind waai woes. Die kamp is teen die Laguna Verde met sy smaraggroen water. Die estancia het gelukkig ’n kroeg waar ons ons seer lyf met ’n glasie pisco sour (’n tipe Chileense gin & tonic) kan lawe.  

Die boer van die estancia en sy baqueanos (beesmanne) is besig om jong bulkalwers van die trop af te keer en dit gee ’n gebulk af wat oor die meer weergalm.  

Die gebulk begin opnuut die volgende oggend halfses en bereik ’n crescendo toe die trop van 600 diere na ander weiding geja word.  

Hier is geen bakkies, motorfietse, quads of sulke hulpmiddels nie, want die terrein is eenvoudig te onbegaanbaar en ver (en petrol te duur). ’n Stuk of ses honde en ses mans en vroue te perd, wat hulle sit-sit-so waaragtig goed ken, kry die werk gedoen, al wil baie koeie met jong kalwers liewer tuis bly.  

Dis lekkerder om hierna te kyk as na ’n rugbywedstryd. 

Perde
Die mees afgeleë gletser in die park is na ene Dickson genoem.
 

Dag 7 

Nét sout 

Met dreigende reën en ’n tierende wind vertrek ons deur pragtige ou woude op teen die berg Sierra del Toro. Ná middagete in ’n bos wat ’n bietjie skuiling teen die sifreën bied, bedaar dit gelukkig en ons word met ’n uitsig oor die hele park beloon – Lago del Toro aan ons voete en die Greygletser in die verte. Terug by ons kampplek langs Laguna Verde knip ons ’n vinnige uiltjie voor aandete. 

Dit ís immers vakansie… 

Van aandete gepraat: ’n Mens moet avontuur op die perd se rug soek – die Chilene is vleisrys-en-aartappelmense en geur hulle kos net met sout. Peper word as ’n baie sterk geurmiddel beskou en jy vra vergeefs daarvoor.  

Dag 8 

Warm water! 

Alles word weer opgepak en ons begin weswaarts na die park se middelpunt ry. Ons stop om die perde ’n ruskans te gee en buikgorde vas te trek voor die uiters steil daling langs die Sierra del Toro tot by die park se administratiewe kwartiere. Dis ’n senutergende affêre vir die ruiters, maar die perde hanteer dit soos die veterane wat hulle is.   

Ná middagete is dit die pragtige grasvlaktes van die pampas wat voor ons oop lê en ons maak ’n haastige galoppie oor die laaste klompie kilometer na die kampplek langs die Rio Serrano, waar daar – o heerlikheid! – storte is, mét warm water.   

Dag 9 

Oulaas op die Oujaar 

Dis ons laaste rydag en ’n lekker stywe een daarby. Ons galop heerlik oor die pampas in die rigting van die Greygletser op Lago Grey met die graniettorings van die Paine Massif wat bo ons uittroon. 

Ons hou piekniek by die Hosteria Lago Grey, voordat ons oor ’n swaaibrug van hout deur ’n klein woud tot op die strand van die meer stap. Hiervandaan neem ons ’n boot tot by die gletser. Dis ’n onvergeetlike gesig, veral met ’n glasie pisco sour in die hand, bedien op gletserys.  

Ons jaag vir oulaas terug na ons kampplek, met die pampas wat wyd om ons lê. ’n Mens kry ’n idee van die reis se strafheid wanneer van die perde op pad na die kampplek van skone uitputting gaan lê. Hierdie perde is van die fiksste wat ek al teëgekom het – en ek het met Nooitgedachters grootgeword.  

Ons vier die einde van die reis en die Oujaar op ’n pragtige stil aand met goeie geselskap, lekker kos en ordentlike Chileense wyn. Agter ons loop die kristalhelder gletserwater van die Rio Serrano verby, weg, ver weg – na el fin del mundo