Voor hulle troue het Christo en Danelle Bosch in verskillende provinsies van Suid-Korea skoolgehou. Dit het beplanning en ver ente se reis geverg om mekaar te sien te kry. Om dit die moeite werd te maak, het hulle toerismedinge by sulke ontmoetings ingereken – soos die jaarlikse bergforel-en-ysfees in Hwacheon. Danelle vertel.

Christo wag my in op Gunsan se treinstasie. Dis 12 vm. en ons het nog ’n ver ent om te reis. Maar dié vooruitsig, sowel as die vier-en-’n-half uur uit die Incheon-provinsie in die noorde tot by hom, skeel my min – hier in die vreemde is g’n moeite te veel om mekaar te sien te kry nie.

Ons vang saam die trein na Yongsan en vandaar na Chuncheon. Hier klim ons oor op ’n bus na Hwacheon. Die uitdaging is nie alleenlik om al die treine en die bus betyds te haal nie, maar eerder om in gebroke Koreaans en gebaretaal te probeer verduidelik waarheen ons op pad is. Die treinritte verloop sonder probleem, maar die babelse verwarring veroorsaak dat ons die bus byna verpas. Ons beland net-net betyds op die oorvol bus en moet die uur lange rit in die paadjie tussen die rye sitplekke staan. Christo is ’n hemelbesem, en hy moet sy nek knak om onder die bus se dak in te pas. Maar ons byt vas! 

Uiteindelik, ná sewe uur, stap ons by die toegesneeude feestelike dorpie van Hwacheon binne. Dit sneeu, de laaste inligtingbordjie is in Koreaans en ons het nie slaapplek nie. Weer moet ons gebroke Koreaans en handgebare die ding doen, maar uiteindelik kry ons darem blyplek in ’n oulike Heidi-huisie met ’n skewe dak en ovaal venstertjies. Ons smyt ons bagasie haastig neer en hardloop die trap af om die dorpie te gaan verken – ons is uiteindelik hier, laat die fees begin!

Hwacheon Sancheoneo, oftewel die bergforel-en-ysfees, is in 2012 deur CCN aangewys as een van die Sewe Winterwonders van die Wêreld. Die dorpie se gelyknamige meer is een van die eerstes wat in die Koreaanse winter vasvries en ook die kern van die fees se hoofaktiwiteit – yshengel. Die dorpie is uitgedos vir die geleentheid: Oral waar jy kyk, hang liggies en lanterns; die strate is omskep in ysskaatsbane, die mense bou sneeumanne, neem foto’s voor massiewe ysbeelde wat oor weke gebou is… Ek het nog nooit so iets beleef nie! ’n Mens kan jou maklik heelnag lank aan alles verwonder, maar terselfdertyd wens ek die ure om tot môre se groot pret…  

Nog voor die wekker sy tweede lui kan gee, is ons op en pantser onsself vir die koue. Vandag vang ek ’n vis, kondig ek vol bravade aan. Vandag kry ons koud, sê Christo. Dis -28°C buite!

Oral op straat staan groepies Koreane om verwarmers saamgedrom. Ons mik in die rigtig van die meer – elke oggend word daar 6 000 visvanggate in die ys geboor – 5 000 hiervan is vir die Koreane bedoel, die res vir toeriste. Saam met ons dagbesoekerkaartjies kry ek en Christo elkeen ’n visstok, ’n piepklein, ongemaklike stoeltjie en twee Ziploc-sakkies – dis om die forel wat jy uitgetrek het, te bewaar. 

Ons kry ons sit om een van die gate en ’n kwaai Koreaan gee die instruksies: “Drop fish stick to undersea. Pick up. Fish see stick and bite.” So maklik soos dit. 

Die yslaag is sowat 40 cm dik en die water daaronder seker sowat 6 m diep. Terwyl Christo my probeer wys hoe om my stok reg vas te hou, is daar skielik ’n pluk aan my lyn! Ek vlieg skoon op van verbasing, onderin die gat spartel ’n forel aan die hoek. En toe hou dit nie weer op nie – binne skaars tien minute trek ek en Christo die een vis na die ander uit, ’n mens sou sweer ons het al voorheen op Survivor leer oorleef! 

Dit lyk nogal aardig – om ons voete lê die gevangde forelle in Ziploc-sakkies en rondflap. Ek kan dit nie hou nie! So vinnig as wat Christo visse uittrek, gooi ek hulle terug. Net twee vissies vir elkeen van ons word uitgehou om gaar te maak.

Die Koreane by die hengelgat langsaan nooi ons om deel te neem aan hulle middageteritueel. Die vis word sommer net daar op die ys gaargemaak en voor elke happie moet jy eers opstaan, vir die ander mense buig, ’n sluk soju (dit proe soos vodka) vat en jou vissie groet voor jy verder aan hom knibbel. Weer en weer word dié gebruik herhaal.

En oral rondom ons speel hierdie en ander feestelike toneeltjies af: Gesinne kamp uit op die gevriesde meer, kinders word op sleë rondgesleep… derduisende mense neem aan die yshengel deel! Om twaalfuur is ons ingeskryf vir die bobslee-resies en daarna verwonder ek my aan die uitgekerfde sneeustandbeelde. 

Ons stap deur ystonnels met gevriesde visse vasgevang in die mure en ontdek die yspaleis aan die suidpunt van die dorpie. Hier is alles uit ys gemaak: die mure, vloere, meubels… ek kan maar net raai hoe lank dit die kunstenaars geneem het. Vir een of ander rede kry ek lus om aan alles te wil lek, Christo moet my net terughou!

Met sneeu in ons kouse en foto’s saam gevriesde visse, kom ons terug Suid-Afrika toe met hope stories. Met ’n dagbesoekerkaartjie as bewys, was ons deel van een van die Sewe Winterwonders van die Wêreld. 

Hwacheon Sancheoneo, dit was pret!

EK WIL OOK GAAN!
  • ’n Mens vlieg tot by die Incheon-lughawe. Daar is nie direkte vlugte tot in Suid-Korea nie, en ’n mens vlieg via een van die groot lughawens, soos dié op Dubai of Hongkong.
  • Om van die Incheon-lughawe tot by Hwacheon Sancheoneo kom, neem sowat 4 uur.
  • In Hwacheon aangekom, kan jy by die inligtingsentrum langs dit busstop vra waar om blyplek te kry. Ons verblyf het sowat R600 vir ons albei vir twee nagte gekos.*
  • Hwacheon Sancheoneo vind in Januarie plaas en ons koud is nie hulle koud nie. Pak jou warmste serp, mussie en handskoene in, maar koop lliewers daar ’n warm gansdonsbaadjie as om een saam te piekel. Sneeudigte skoene en warm wolkouse is ’n moet. 
  • Besoek *english.visitkorea.or.kr vir pryse en openbare vervoeropsies. (Tik “Hwacheon Sancheoneo” by die soekfunksie in.)



* Die storie het oorspronklik in ons Februarie 2015-uitgawe verskyn. Die pryse sou dus sedertdien verander het.