Botswana is eenvoudig ’n moet as jy jou 4x4 gekoop het om rowwer areas as die randstene by jou kinders se skool aan te durf. Nie net is dit ’n klipgooi weg uit Gauteng nie, dis een van die min bestemmings in Suider-Afrika waar jy in sulke afsondering veilig kan voel. As jy leeus en olifante wat verby jou kamp skuur veilig kan noem. Ek en my vrou, Yolandi, het saam hierheen gereis.

Die panne – dis hoekom!

Ons eerste bestemming was Khama Rhino Sanctuary. Ons het die grens by Stockpoort/Parrshalt, net wes van Groblersbrug, oorkruis. 

My vrou het egter heelwat meer na ons tweede bestemming uitgesien, want sy wou haar splinternuwe Nikon D750 op Kubu-eiland op die proef stel. Net ná die dorpie Orapa swenk die pad links Kubu-eiland toe en van hier af is dit nie lank nie of alles en almal rondom jou begin verdwyn. 

Eers wanneer jy op die westelike oewer van die Sua-pan beland, besef jy hoe enorm hierdie pan werklik is. En dán begin jy eers uitsien na wat voorlê!

Die Makgadikgadi-panne is byna net so groot soos Gauteng en kan vanuit die ruimte gesien word. Die hemele is spierwit ingekleur met sterre en duisende mense stroom jaarliks hierheen om dit af te neem.

MAANLANDSKAP. Om op die Makgadigadipanne te ry is pure plesier!

Om by Kubu uit te kom is egter makliker gesê as gedaan. Ons was in Mei daar, ’n maand of wat ná die nat seisoen, maar om die panne droog te kry is byna onmoontlik. Noue ontkomings is onvermydelik en ons eerste een was etlike kilometers voor Kubu.

Die enigste bevestiging van ’n pad, afgesien van dit op Tracks4Africa se GPS-kaart, is twee spore wat ’n mens beswaarlik ’n pad kan noem. So kom ons af op diep modderspore wat swenk na links, selfs al dui Tracks4Africa aan dat die pad nou na regs moet gaan.

Ons enigste keuse was om links te ry en en toe gewaar ons ’n hele paar opsies waar mens weer na regs kan ry. Ons vat die derde opsie en ek hoop dat die ou gesegde “third time lucky” tot ons redding sal kom. Alles behalwe!

Skaars vyf meter in die diep modder in begin die Cruiser te gly. Ek besef ek moet rieme neerlê of ons slaap vanaand net hier en met ’n gebrul pluk die V8 Land Cruiser ons Conqueror-boswa deur die modder. Yolandi reken ek oordryf as ek vertel hoe ek die boswa deur haar ruit kon sien soos wat hy agter die Cruiser gegly het, maar ek hou by my storie.

Die Makgadikgadi-panne is byna net so groot soos Gauteng en kan vanuit die ruimte gesien word.”

Derde rat lae bestek met die agterste ewenaarslot gesluit was die wen-kombinasie wat ons deur die eerste van vele dik sout-modderbeslae gekry het. 

Waar’s die pad?

Vier modderpoele later en sowat 200 meter ná ons afdraai na regs kom ons agter die Tracks4Africa-karretjie is nie meer op die pad nie. Hoe nou gemaak? Ons was nog op twee duidelike spore maar van ’n ander pad was daar geen teken nie. Ons ry toe maar reguit aan en hoop dat die pad Kubu toe sou draai.

Toe ons egter Kubu aan ons linkerkant sien kwyn en die Tracks4Africa-pad nie eers meer op die GPS se skermpie wys nie, besef ons dis tyd om terug te draai.

Asof een keer deur daai poele nie genoeg was nie, moes ek hulle nou ’n tweede keer aandurf! Die pad het weer op die GPS se skerm verskyn en vyftien minute later het ons kamp opgeslaan.

Hoe ons die regte pad gemis het, is tot vandag ’n raaisel.

Kubu se sterrehemel is alles wat ’n mens verwag en meer. Die stilte, afsondering en soutpanne wat soos die see tot by die horison strek, maak enige mens lus om terug te gaan. 

Vrede tussen die kremetarte 

Ons is nou op pad Baines’ Baobab toe.

Dis sowat 220 km van Kubu af, maar dit kan jou enigiets van vyf tot sewe uur besig hou. Omtrent 30 km van Kubu af, kom jy by ’n bek-en-klouseer-beheerpunt waar jy deur ’n hek ry. Daar kan jy kies om noord te hou en deur die dorpie Thabatshukudu te ry, dan Sexara om die A3-teerpad by Zoroga te ontmoet.

Dis die vinnigste pad teerpad toe en ry al wat ’n pan is mis, maar ons het by die beheerpunt uitgevind dat die Ntwetwepan droog is en ons kon daar wes hou om die meerderheid van ons roete op die panne deur te bring.

Wat ’n ervaring was dit nie! Ek kon 80 km/h op Ntwetwe ry en die rit was sagter as enige teerpad. Al wat jy voor, agter, links en regs van jou kan sien, is pan, pan, pan en nogmaals pan!

Alles het vlot verloop tot net ná die dorpie Kauxae, waar die pad weggeraak het onder ’n dam. 

Daar was ’n tweespoorpad oos verby die dam, maar dié was nie op die T4A nie.

Dit was egter ons enigste uitweg en die pad het gelukkig 15 km later weer by die T4A-pad aangesluit.

Die res van die tweespoorpaadjie na Gweta was heel billik . . . tot dit 5 km voor Gweta in ’n beeskraal geëindig het.

Partykeer moet ’n mens eenvoudig meer op gevoel as op tegnologie gaan. T4A se kaart het nie die laaste vyf kilometer tot by Gweta akkuraat aangedui nie, maar gelukkig het gevoel ons daar uit gekry.

Ná ’n lang, uitputtende dag op die pad het ons gedink die dag se avontuur is verby toe ons by die hek van Baines’ Baobab aanmeld, maar min het ons geweet wat die laaste 25 km sou inhou.

By die ontvangslokaal het hulle iets genoem van die panne wat nat is en dat ons nie daardeur moet ry nie, maar ons het nie regtig verstaan wat die persoon bedoel nie. Blindelings volg ons die T4A-kaart, wat ons in die middel van die panne tot by kampplek nommer 2 gelei het. Nadat ek oor die tiende soutblok gery het en die Cruiser in die soutpanne begin wegsak het, het ek gevoel iets is nie pluis nie.

Ek het dadelik stilgehou en uitgeklim om eers die pad vorentoe te stap. Ook maar goed so, want 20 meter verder het ek kniediep in die panne weggesak. 

Wat omdraai egter soveel moeiliker gemaak het, was dat ons kampplek nommer 2 oor die pan kon sien! Ons slaapplek was skaars ’n kilometer van waar ons was, en ná so uitputtende dag op die pad was die versoeking baie groot om deur te druk Gelukkig het ons die versoeking weerstaan, omgedraai en ’n pad ontdek wat rondom die pan tot by staanplek nommer 2 geloop het.

Dis ook hier waar Yolandi uiteindelik haar sterrefoto’s kom neem, met die pragtige kremetarte waaronder ons gekamp het. 

Die volgende dag moes deurstoot na Derde Brug in Moremi.

Moremi is iets wat ek nie kan verduidelik nie. En as jy hier ’n luiperd sien, word jy nie vertrap soos by ’n inkopiesentrum nie. Ons het op die Bodamatau-sirkelpad ’n luiperd stoksielalleen vir ’n uur en ’n half gevolg. Dead Tree Island is ook ’n moet en hier het ons afgekom op ’n leeupaar. 

Dead Tree Island in die Moremi.

Maak seker by ontvangs watter paadjies is rybaar en watter nie. Hier is uitdagende waterhindernisse met die Delta wat op en af stoot, ry dus baie stadig en versigtig. 

Die Moremi se Afrika-olifante is grasieus, maar aggressief, en gee nie om hoe nuut of blink jou ryding is nie. Ons is ten minste twee keer deur ’n olifant in die Moremi gejaag. 

En moenie dink die aande is so rustig dat jy net lekker kan ontspan nie. Ons is die laaste oggend by Derde Brug omstreeks 03:30 wakker gebrul deur ’n maanhaar skaars 20 meter van ons boswa af. 

Nie so salig in Savuti

Die Baines-grondpad was maar net ’n voorsmakie van wat vir ons gewag het op die 70 km sandpad tussen die Mababehek en Savuti. Ons het bykans drie uur aan dié pad gery. 

Die Savuti-vleiland strek sover as wat die oog kan sien.

Maar die oomblik wat jy die magtige Savuti-vleiland aan jou oostekant beskou, is die harde gery en geskud uit en uit die moeite werd.
Hier is volop roofdiere – jakkals, luiperd, leeu, noem maar op.

In een oggend wat jy rondom die moeras ry, sien jy die Groot Vyf. En met die magtige moeras vir agtergrond is hierdie enige wildfotograaf se droom.

Voor jy egter Savuti toe kom, sorg dat jy jou sandryvernuf verbeter, want hier gaan jy dit nodig kry. 

Ons laaste nag was ’n bederf by Nata Lodge. Dit was regtig lekker om luuks te bad en in ’n restaurant bedien te word. Botswana sal ons verseker weer sien.

* Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #95 (Julie 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon sedertdien verander het - laat weet gerus as jy so iets raaksien.