Ek is ’n ywerige natuurfotograaf en was al by baie nasionale parke dwarsoor Suider- en Oos-Afrika, maar dis steeds die Manapoele- nasionale park in Zimbabwe wat my hartsnare roer. Dié plek lok jou keer op keer terug en mense wat die plek goed ken, raak skoon emosioneel daaroor. Sommige wil nie eens daaroor praat nie sodat dit “hulle s’n” kan bly, hoewel die Facebookblad “Friends of Mana Pools” reeds meer as 12 000 vriende het – en dit groei daagliks!

Die Manapoele is weggesteek in die noordwestelike hoek van Zimbabwe, tussen die Zambiese eskarp en die Groot-Zambesirivier, met Zambië aan die oorkantste oewer. Die park is meer as 1 400 km van Gauteng af.

Systap die Beitbrug-grenspos (dit kos naels byt) en ry verder na die Ramokgwebana/Plumtreegrenspos. Die park is sowat 17 uur se moeisame ry (moontlike grensposdrama uitgesluit) van Pretoria af.

Maar jou beloning aan die einde van die pad is wonderlike fotogeleenthede!

Hier is van my beste foto’s van die gebied.

GROOTVOET LYK KLEIN

Mannapoele
Foto: Johan Hosten

Die manjifieke groot bome (veral anabome en mahonia of rooi-essenhoutbome) kom plek-plek voor in woude – in die diep spoelgrond van die Zambesirivier se eeue oue vloedvlakte.

Hierdie woude sorg op sigself vir mooi landskapfoto’s. Die doelwit van die meeste fotograwe is om die diere ín die woud af te neem, verkieslik met ’n mistige (stowwerige) en dikwels gekleurde agtergrond.

Selfs olifante lyk klein teenoor dié reuse. Dit skep die drama en atmosfeer wat Mana-foto’s so spesiaal en herkenbaar maak. Die geheim is om die diere klein in die raam te kry om sodoende meer van die omgewing te wys. (Jy hoef dus nie te probeer om te naby die wild te kom nie).

Nabyskote wat die hele dier die raam laat vul, kan net sowel by enige ander plek geneem gewees het.

DIE KONING HOU JOU DOP!

Mannapoele
Foto: Johan Hosten

Dis nogal angswekkend om plat op jou maag te lê en leeus op ’n afstand van 20 m dop te hou – gelukkig was ’n ervare gids naby. Ek was ook dankbaar dat hulle dikgevreet was! Wees nietemin altyd versigtig. Vinnige bewegings is beslis taboe, en hardloop is selfmoord.

OGGENDSTOF

Mannapoele
Foto: Johan Hosten

Hierdie is een van daai spesiale oomblikke in die anaboomwoude by die Manapoele. Byna al die plantegroei is teen die einde van die winter gevreet en vertrap, en die oppervlak is ontbloot.

Dan waai die wind die stof op en dit help om towerbeelde te skep, veral as die son vroegoggend en laatmiddag in die goue uur daardeur skyn. Al wat kort, is ’n koor van engele om die buffel te begelei. 

NOAG SE ARK

Mannapoele
Foto: Johan Hosten

Die Manapoele is bekend vir die unieke mistigheid, soms blou van kleur gedurende die dag en geel-oranje teen die goue uur. Teen die einde van die lang, droë winterseisoen trek die meeste diere in die vallei nader aan die Zambesirivier en die meer standhoudende poele (vandaar die naam) in die ou vloedvlakte om naby water te wees. Daar is ’n magdom wild en jy ry of stap slegs klein entjies om diere te sien.

Hierdie foto – te voet geneem – wys van die verskillende spesies wat saamdrom. Die olifante pluk gewelddadig die boomstamme om anaboompeule af te skud. Die ander diere trek dan ook voordeel. Die wild is al gewoond aan mense te voet en hardloop nie sommer weg nie; beweeg net stadig. Die beste zoemlens bly maar jou voete.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 149 (Maart 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.