Elke jaar het die Gereformeerde gemeente Hartbeespoortdam ’n Afrikabostoer vir 4x4-entoesiaste wat liewer is vir grondpad as vir teerpad. In Julie 2015 het ons die Jurgens Xplorer aan ons Toyota Land Cruiser Prado gehaak en saam gesleep Mosambiek toe. Op dié toer het 29 mans, vroue en kinders in 10 voertuie die agterpaaie gevat en in twee weke amper 3 500 km gery.

Kyk noord

Ek en Hennie, my man, en ons dogters, Ané en Loura, het ons toer by die huis op Brits begin. Die eerste aand slaap ons op Tzaneen. Daarna is ons deur die Krugerwiltuin se Phalaborwahek en ons bly in die Punda Mariaruskamp oor.

Die Prado is lekker gemaklik en ek het nou al geleer die getroue wa kom sonder probleme agterna. Saans wanneer ons stilhou, is alles wat in die wa vasgemaak is, steeds vas en alles is heel. Op ons Mosambiektoer was dit ook so – tot hier teen die einde toe nóg die kar nóg die wa verder kon gaan.

Met Crooks Corner langs kry ons koers Mosambiek toe, maar by die Pafurigrenspos kry van die mense in die toergroep probleme: Hulle het nie hulle aansoekbewyse vir volledige geboortesertifikate vir die kinders nie en moet terugdraai Louis Trichardt toe om dié saak reg te stel. Die res van ons ry solank tot in die Mapaigebied.

Vir die nag slaan ons in die bos kamp op omdat ons nie seker is hoe diep die Limpoporivier by die oorgang is nie. Ons wil dit nie in die donker oorsteek nie. Met Jupiter en Venus naby mekaar het ons ’n skouspel in die sterrehemel en die stilte en vrede van die bos is die voorspel tot ’n rustige vakansie in die natuur.

Ná dagbreek is dit tyd om die Limpopo oor te steek. Die loop is amper droog en ons is effens teleurgesteld dat ons dit so maklik kan oorsteek. Ons vat die halfgemaakte pad tot naby Mabote waar ons die aand in ’n gruisgat langs die pad kamp.

Dis lekker op vakansie

Vroegoggend vertrek ons met ’n lied in die hart en lekker vooruitsigte na Vilanculos. Ons wil vroeg daar wees om voorraad aan te vul en die res te ontmoet wat die probleme met die reisdokumtente moes gaan uitstryk.

Ons staan vier lekker nagte oor by die pragtige Casa Chibububo-lodge. Ons gaan draai by van die eilande met ’n dau en ry met die 4x4’s op die sand by Inhassoro.

Ons geniet die son, see, salige rustigheid en die warm storte. By ’n restaurantkroeg drink ons 2Mbier en natuurlik Tipo Tinto-rum-en-Morango (rooi koeldrank) terwyl ons oor die Indiese Oseaan sit en uitkyk.

VAAR MET ’N DAU. Die groep het met bote by van Mos
VAAR MET ’N DAU. Die groep het met bote by van Mosambiek se eilande gaan draai.

Pomene, hier kom ons!

Fris en vars pak ons die lang pad na Pomene aan. Ons ry laglag deur die mooi natuurbewaringsgebied met hordes rooikloumodderkrappe in die moerasse tot langs die strand.

In Pomene is ’n man wat homself Satan noem. Hy sê hy is die “chief in charge”, en wys vir ons waar is die private uitspanplek van ons vriend Piet Joubert van Piet Retief in Mpumalanga. Ons staan drie nagte onder die kokospalms by Piet se Plek. Met die seesand onder ons vuil voete is dit salige dae met min sorge en baie rus. Dié plek wil ek gewis weer sien. Die mense is vriendelik en die strande prentjiemooi.

Ons groet Pomene met ’n sug, maar ook met die lekker vooruitsig om nuwe plekke te sien.

Bilene en Milibangalala

By Bilene bly ons twee nagte in ’n vakansieplek se klein kampterrein oor. Ons ry al om die Uembje-meer en drink ’n lekker koue bier. In Bilene se hoofstraat met sy horde stalletjies koop ons vir oulaas aandenkings: ’n draadhelikoptertjie waarvan die lemme met ’n elektriese motortjie draai, kleurryke lappe en houtballe.

Die pad deur Maputo is ’n belewenis en iets wat ’n mens minstens een keer moet sien, maar volgende keer kan ons maar om Maputo ry. Dis ’n gedruis van mense en voertuie, en jy ry 60 km/h op die snelweg, want daar is verkeerspolisie om elke draai.

Ons kom net voor 6 nm. by die Maputo-olifantpark se hek aan. Dit is al sterk skemer en ons pak die sowat 40 km na die Milibangalala-kamp in die donker aan. Dit hop en dit skuur, maar ons wa kom ouder gewoonte getrou agterna.

Die natuur hier is uitsonderlik, die strand spierwit en die branders woes en groot. Ons besluit om die laaste oggend van ons toer nie in konvooi terug te ry nie, maar almal op hulle eie tot by die olifantpark se hek. Só het ons dalk ’n groter kans om olifante te sien.

Bilene
BLAASKANS. Op Bilene se strand.

O, gaats!

Ek en Hennie lê en wag dat dit moet lig word. Alles is ingepak, opgepak en vasgemaak om vroeg weg te trek. Die fles koffie en padkos is reg, en net voor 7 vm. haak ons die wa en daar gaan ons, maar...doef! Dis ’n nare geluid, en nié ’n mooi gesig nie. Die wa lê 5m agter die Prado met sy koppelstang in die stof.

Ek is moedeloos en die wahaker gee ’n paar knope hier langs my. Gelukkig het ons goeie vriende wat help, en met mannekrag word die wa opgelig en weer gehaak. Wat ’n verligting!

Hennie gluur my aan toe ek vra of daar nie dalk fout is met die wa nie. Ons ry stadig en in stilte voort en soek olifante in die bos. Oor die tweerigtingradio hoor ons hoe ons vriende een ná die ander aankondig hulle val ook in die pad.

Dit is bulte op en die pad is vol slote en diep gate. Die Prado wieg heen en weer en hop soms hoog – met die wa agterna. Die pad vurk en Hennie kies die opdraande. Die kar beur en kreun sentimeter vir sentimeter vorentoe. Hennie gee vet en ons is amper oor die laaste hoogtetjie, en dan...kkkrrrrrrrrr... kkkrrr. die sitplek. Hennie trap rem en sit die kar in “Park”. Die geraas word stil. Dan sit hy die kar weer in “Driv”. Onmiddellik is die oorverdowende kkkrrrrrrrrr weer met ons.

Toe skakel hy maar die kar af: “Nou ja, hier sit ons nou.” Ek trek die tweerigtingradio se mondstuk nader om ons toerleier, Louw du Plessis, te laat weet ons gaan nie teen 9 vm. by die hek wees nie.

Dis die ratkas, sê Hennie.

Dit voel alles half onwerklik. Die GPS sê ons is 66 km van die grenspos by Kosibaai af.

Die Prado staan skuins en ongelyk. Ons moet albei dryfasse afhaal sodat die kar gesleep kan word. Die son bak warm op ons neer. Later is vyf manne onder die kar doenig met ’n klomp hande wat gereedskap aangee. Die sand is egter te diep en al raad is om die Prado met ’n kinetiese tou op gelyker grond uit te sleep.

Ek het al ons bestemmings op die reis met lipstiffie op die Prado se agterruit geskryf. Agter Millibangalla staan daar nou groot in pienk geskryf: “The End”.

Padkos word pienkniekkos en die wens om olifante te sien word ’n stille wens dat hier nié nou olifante moet aankom nie.

Die aanvanklike plan om die konvooi uit te rek en een-een tot by die hek te ry het nou heeltemal platgeval.

Die stoet is nou ’n Ford Ranger wat die Prado – met ons vier binne-in – sleep, nog ’n Ford wat die Xplorer sleep en ’n Ford wat die agterhoede dek.

KREEF
EET KREEF! Louw du Plessis, Ronnie Brewis en Vlam Pieterse met ’n knewel vir die pot.

Nee, nie weer nie!

Ons vorder stadig en tel letterlik die kilo’s af tot by die grenspos.

Die versekeringsmaatskappy en die AA kan ons eers anderkant die grens help.

Met die voorafbetaalde SIM-kaarte van Vodacom wat ons vir die reis gekoop het, maak ons ’n oproep of drie. Ons vriend Piet, by wie se plek ons in Pomene gebly het, stuur solank ’n insleepvoertuig grens toe, asook sy Ford Ranger sodat ons daarmee tot by ons laaste stop in Swaziland en by die huis kan kom.

Met die kar op sleeptou hop ons éérs rond. Een koppie koffie oor my skoot later is ons deur die ergste gate en slote. Nou is dit net 10 km grens toe. Dit gaan só goed dat Hennie soms ingedagte die petrol trap.

Agter kom Ronnie met ons wa aan, maar dan hoor ons hom oor die radio: “Die woonwa het afgehaak...”

Die stoet kom tot stilstand.

Die radio knars weer: “Die woonwa se as is morsaf – hy gaan nêrens heen nie.”

Ons is magteloos en moedeloos en weet nie of ons moet lag of huil nie. Ons stap bult-uit tot by die blou Ford en daar lê ons wa die tweede keer vandag met sy neus in die stof. Dis nog 8 km tot by die grens en daar is geen manier om die wa verder te sleep nie.

Hennie en Louw vat die pad na Ponta do Ouro om hulp te gaan soek.

In die toergroep is manne met planne – ’n regte klomp MacGyvers. ’n Nabye gehuggie lewer ’n paar stewige houtpale op en hulle bring al wat ’n vasmaakband uit karre en waentjies te voorskyn. Hulle lig toe die Xplorer met ’n domkrag op en spalk die onderstel soos ’n gebreekte been. Ná baie sweet en stof durf ons die laaste stuk sandpad tot by die grens aan.

SPANWERK. Om die stukkende Pajero te sleep moes di
SPANWERK. Om die stukkende Pajero te sleep moes die dryfasse eers afgehaal word.

Tot weersiens

Net voor 4 nm. kom ons sukkel-sukkel by die grenspos aan waar ’n Ford Ranger-dubbelkajuit vir ons soos ’n wafferse ridder op ’n wit insleepvoertuig staan en wag.

Ons stoor die wa met sy gespalkte onderstel eers teen R40 per dag in die parkeerterrein en die Prado word op die insleepvoertuig gelaai waarmee die Ford Ranger vir ons gebring is.

Die belangrikste en kosbaarste goed laai ons op die Ford Ridder en ons gaan soek lafenis by die vulstasie op Kosibaai.

Hier groet die groep mekaar vir oulaas. Niemand gaan Swaziland voor donker haal nie en ons moet nou maar hoed vasdruk en huis toe mik.

Teen sterk skemer gaan ons die insleepvoertuig met ons Prado net voor Jozini verby. Teen 10 nm. stop ons op Brits, sonder ons kar of ons wa, maar met ’n lekker vakansiestorie om te vertel.

Ja, Mosambiek is nie vir sissies nie. Saam met die sonbrandroom is goeie vriende die belangrikste ding wat jy soontoe kan vat.

Die Prado loop weer. Dit was ’n huls in die ratkas wat gebreek het. Die Xplorer is afgeskryf, maar ons het dit teruggekoop en maak dit weer nuut. Mosambiek sien die Briele weer.


Hierdie artikel het oorspronklik in WegSleep #85 (Januarie-Februarie 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.