“Julle is almal stapelgek. Dié meer gaan julle dood beteken,” laat weet Vern Coward, bestuurder van die Katse Lodge in Lesotho. “Die wind waai stormsterk hier by ons en die branders slaan genadeloos teen die damwal.”

Dis nou nie eintlik wat ek drie dae voor ’n avontuurtog waaraan ek al ses maande lank beplan, wil hoor nie. Veral nie van Vern, wat ons droom help bewaarheid nie.

Ons plan is om in die lengte (van noord na suid en dan weer terug na waar ons begin het) oor Afrika se hoogste dam, die Katsedam in Lesotho, te roei.

“En, net so terloops, daar hang swaar, donker wolke om die berge en dit sneeu in die hoogliggende gebiede,” lui Vern se boodskap.

“Is julle seker julle sien nog kans?” Natuurlik! Ons is oorgehaal.

Ek hoop heimlik dat die weer sal verbeter nadat die front verbygetrek het. Twee kouefronte het kort ná mekaar reeds die land in hulle greep gehad. Die eerste een het meer as 2m sneeu op die Lesothohoogland gestapel. Passe is versper en landwyd het die koerante oor dramatiese reddingstogte berig.

Maar ons is elf ervare roeiers – vier van ons in dubbelkano’s (K2’s), een in ’n enkelkano (K1) en twee in enkelseekajakke – en oorgehaal om die dam ook op ons kerfstok te kry. Ek en Rob Bolton het albei al die wêreld se langste varswatermeer, die Tanganjikameer (677km), kafgedraf. Dave McKenzie het al die Karibameer (220km) getem, en Craig Legge het driekwart van die Zambezi afgelê.

Roei op die Katsedam

Pietermaritzburg na Katse Lodge

’n Eerste blik 

Ons vertrek vroeg op ’n snerpend koue Donderdagoggend met ons kano’s, kajakke en ons toerusting van Pietermaritzburg af.

Teen 8 vm. is ons deur die grenspos, opgewonde oor die Sanipas wat voor ons lê. Ons vorder stadig teen die berg uit, en binne ’n uur is ons in Lesotho.

Ná die grensformaliteite gaan drink ons ’n beker warm sjokolade by die Sani Top-hut. Dis koud buite – skaars 5 ºC. Ons geniet die pragtige uitsig van die sonnige KwaZulu-Natal ver onder ons. Al die pieke om ons is spierwit.

Ons ry noordwes na Mokhotlong, deur ’n landskap van massiewe valleie, majestueuse berge en klein Basotho-nedersettings wat teen die berghange klou. Op die agtergrond hoor ons die geklingel van skaap- en koeiklokke.

Net voor Mokhotlong, by die St. James-sendingstasie, draai ons links. Ons begin deur dramatiese passe daal en klim en kom teen 2 nm. by Thaba-Tseka aan. Ons koop lekker koue Maluti-bier by ’n Basotho-taverne voordat ons die laaste drie uur en 90km aandurf.

Terwyl ons teen nóg ’n steilte uitry, lê die Katsedam skielik onder ons. Daar is uitroepe van blydskap toe ons die eerste keer dié massa water sien.

Ses maande lank het ek my probeer indink hoe dit lyk. Ons het kaarte opgespoor, hier en daar op die internet op foto’s afgekom en die dam op Google Earth bekyk. 

Niks kom egter by die gevoel wat jy kry as jy daai glimmende massa water van só naby sien nie. Katse kronkel soos ’n donker, vet slang 46km ver in ’n Y-vorm tussen hoë berge deur. Die damwal is aan die onderpunt van die Y, en die herberg, ons beginpunt, lê in die Y se mik. Dis die hoogste dam bo seespieël in Afrika en, met ’n wal van 185m, ook die diepste.

Die water is spieëlglad en dit lyk asof die meer deur die berge ingesluk is. Ons kano’s trek lang-lang strepe op die wateroppervlak.

Dis só diep en smal dat die verdamping maar omtrent een tiende van die Vaaldam s’n is, wat dieselfde volume het. Slim.

Toe die Katsedam in 1997 die eerste keer geleidelik vol water gemaak is, het die enorme drukking op die omliggende heuwels klein aardbewings veroorsaak.

’n Tonnel van 45km voer water noordwaarts na die Vaalrivierstelsel vir Gauteng, en hou turbines aan die gang om hidroelektriese krag aan Lesotho te verskaf. Ander tonnels bring weer water van ander riviere en die Mohaledam af na die Katse.

By Katse Lodge groet ’n glimlaggende Vern ons, met geen teken van die kommer wat hy oor die telefoon uitgespreek het nie.

Net genoeg daglig bly oor vir ’n drinkie op die stoep wat oor die dam uitkyk. Voor ons ons kop neerlê, pak ons al die nodige goed in die kano’s sodat ons lekker vroeg kan wegkom.

Katse Lodge na iewers naby Lejone 

Spieëlgladdewaters

Die oggendlug is helder en koud. Ons kan sommer voel ons is byna 2000m bo seespieël. My voorgevoel oor die weer was reg: Die kouefronte is verby en dit is ’n perfekte dag om te begin roei.

Nadat ons ’n spanfoto laat neem het, kom ons aan die gang.

Gelukkig sak nie een van die swaargelaaide K2’s te diep in die water nie en sommer gou word ons begroet deur die omliggende berge se pragtige weerkaatsing op die water. Die water is spieëlglad en dit lyk asof die meer deur die berge ingesluk is. Ons kajakke trek langlang strepe op die wateroppervlak.

Ons vorder goed, en dis nie lank nie voordat ons van al die lae klere ontslae begin raak. Die son is nou fel en die wind het heeltemal gaan lê, en daarom is die water wat die roeispane elke nou en dan oor ons spat, welkom.

Ons sien ’n eilandjie waar ons vir middagete kan stop. Ons sukkel effens om aan wal te kom, want dis skaars so groot soos ’n halwe tennisbaan.

Peter Nicholson en Dave begin dadelik lyn natmaak, en dis nie lank nie voordat ons hulle opgewonde hoor roep: Hulle trek ’n hele paar pragtige reënboogforelle van sowat 400g elk uit. Omdat hulle aan die klein kant is en ons hulle nie behoorlik sal kan gaarmaak nie, laat ons die visse dadelik weer vry.

Nadat ons nog ’n goeie ent op die dam gevorder het, sleep ons net ná 3nm. ons kano’s uit die water en kry ’n kampeerplek wat redelik gelyk is. Sulke plekkies is maar skaars hier, want die heuwels loop amper almal byna regaf die dam in.

In die Lesotho-hoogland oorval die skemer jou sommer vinnig.

Kort ná 6nm. begin die son agter die toringberge sak en gougou daal die donkerte en koue oor ons neer.
Ons aandete – Two-Minute Noodles – en veral die bottel sjerrie en whisky wat omgestuur word, help darem teen die ergste koue.

Ek en Dave slaap onder die sterrehemel terwyl die res van die groep in tente opkrul.

Terug na Katse Lodge

Lyngooi vir forel

Vandag is dit weer sonnig en ons probeer sommer vroegoggend al naby die dam se bron aan die noordelikste punt forel vang.

Ons kry sommer vinnig ons roeiritme en spoor weer ’n lekker plekkie op vir middagete – naby ’n groot tonnel waar swaartekrag die water verwoed by die tonnel se bek uitstoot. Dis die perfekte plek vir ’n verfrissende swem. Die vissermanne gooi weer die lyne in, maar dié slag sonder welslae.

Ná middagete begin die Katsedam vir ons grom. Namate die middag vorder, raak die wind sterker en ons laaste 8 km is nogal ’n stryd op die water.

By elke baai wat ons oorsteek, voel dit asof die wind uit ’n ander hoek kom – ons moet dus die heeltyd ons roeitegniek aanpas.

Hoewel ons nooit in enige werklike gevaar is nie, moet ons versigtig wees, want as jy iets onnosels aanvang, kan jy omval en in die yskoue water beland.

Wanneer ons om die laaste kaap gaan en ons eindpunt in ’n stillerige baai bereik, kyk ek op my GPS: Ons het binne twee dae 92 km afgelê.

Ons “parkeer” ons kajakke en vier ons sukses met koue Malutibier – ’n heerlike einde ná twee dae se heerlike roei.

Katse Lodge na Pietermaritzburg

Kajak teen die sneeu af!

Kano's op die sneeu

Ons verlaat Lesotho by die Caledonspoort-grenspos en ry deur Fouriesburg, Clarens en Harrismith in die Oos-Vrystaat terug huis toe.

Aan die bopunt van die Mafika Lisiu-pas noordwes van die damkom ons af op ’n helling wat toe lê onder die sneeu. Dis toe dat ons ’n nuwe sport ontdek: Sneeukajak.

Dis gewis ’n hoogtepunt vir dié van ons wat nog nooit geski of sneeuplank gery het nie. Ons gly volspoed teen ’n helling van 900m af op ’n plastiek-sneeukajak, en ons rol rond van die lag.

Dit was ’n wonderlike manier om die reis mee af te sluit. 


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #31 (Mei 2007) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.