Baie mense het al gehoor van Sandwich-hawe in Namibië, maar as jy so na die roete kyk, het min dit nog gery.

Sandwich-hawe lê omtrent 45 km suid van Walvisbaai in die Namib-Naukluft-reservaat, maar die pad is uiters verraderlik. Enige spore wat jy maak word feitlik oornag deur die genadelose wind en getye uitgewis.

Net vir die dapperes

Met Walvisbaai – waar die soutpanne druis van die watervoëls – in ons truspieëls, het ons die “pad” na Sandwich-hawe deur die droë riviermond van die Kuisebrivier bereik. 

Die oppervlak lyk aanvanklik onskuldig, maar moenie jou laat flous nie – daar is oorgenoeg stories van die riviermond wat onverskillige en arrogante toeriste in die dryfsand vasgevang het.

Jy kan kolle tref wat droog op die oppervlak is – en ernstig vasval. Of nóg ernstiger, jy kan nat sand soortgelyk aan die turf in die Makgadikgadi-panne in Botswana teëkom.

As jy ongelukkig (of dom) genoeg is en een van die kolle raakry, is jy in die moeilikheid. Jou voertuig sal die harde, droë kors breek en wegsink in die vloeibare chaos wat daaronder versteek lê. En dan sít jou turf.

Ek het die ongelooflike storie gehoor van die een voertuig wat heeltemal verdwyn het. Dit het ’n ruk later weer gedeeltelik bo die oppervlak verskyn, maar onderstebo – want die lug in die bande het dit laat omdop.

Ons het gelukkig sonder teëspoed deur die delta gery en het ons daarna op ’n dramatiese kuslyn bevind. Dit is onbeskryflik mooi, ’n wonderwêreld waar die see en die woestyn mekaar op asemrowende wyse ontmoet.

Die duine toring skouspelagtig in die lug en val skielik in die see weg. Maar dis eers as jy die kruin bereik dat jy die skoonheid van die strandmeer en die moddervlaktes behoorlik kan waardeer.

Die klim is die moeite werd. Hier kry jy die ongelooflike gevoel van die uitsonderlike afsondering van die kus.

Deur die begraafplaas

Die gebied rondom Sandwich-hawe is van groot ekologiese belang.

Met duine van hoër as 100 meter vorm die gebied deel van die Namibsandsee, een van die grootste sandvelde ter wêreld.

Die streek is onlangs tot ’n Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar, veral vanweë die rol wat mis speel om die plant- en dierelewe in die ekstreme klimaat te help oorleef. Dit is die enigste kuswoestyn ter wêreld waar mis die primêre bron van water in die duinvelde is. 

Wanneer jy die grensdraad van die Namib-Naukluft Nasionale Park bereik, moet jy die volgende in gedagte hou: Slegs 4x4’s word toegelaat, jy moet ’n geldige permit hê en jy mag nie tydens hoogwater ingaan nie.

Springgetye en die voortdurende verandering in die vorms van die duine weens die wind maak die roete baie onvoorspelbaar. Jy moet styf teenaan die Atlantiese kuslyn opry. As jy daar deur die hoogwater betrap word, kan jy moontlik een van die lang lys slagoffers van die gebied word. Dit word nie verniet “die begraafplaas” genoem nie.

Die laaste oorblywende vissershuis is besig om tot niet te gaan.

Natuur 1, Beskawing 0

Maar dis nie net voertuie wat al hulle moses by Sandwich-hawe teëgekom het nie. Vele ander projekte moes ook al hier voor die elemente swig.
Die streek se kleurvolle geskiedenis het reeds in 1486 begin. ’n Portugese seevaarder, Diogo Cão, het die gebied eers Porto d’Ilheo genoem, maar die naam is later na “Sandwich” verander, moontlik weens die oorlogskip die HMS Sandwich wat in 1792 hier skipbreuk gely het.

In die 18de eeu het dié kosbare varswaterbron op Namibië se ongerepte kus ’n hawe vir walvis- en robjagters en handelaars geword. Volgens oorlewering het die plaaslike bevolking selfs vee oor die woestyn aangejaag om dit by die hawe vir glas, krale en ander negosie te ruil.

Maar mettertyd het die wind en die getye weer die gebied opgeëis en die hawe het versand.

Sandwich-hawe se laaste snak na asem was ’n projek om ’n guano-eiland (waar vrugbare voëlmis vergaar kon word) met sandpompe te bou. Maar ook dit het nie lank gehou nie. Die woestynjakkalse kon met laagwater die eiland bereik en die voëls op hulle neste aanval.

Dit het nou die titel Vleilandgebied van Internasionale Belang, en is wêreldbekend vir sy oorvloed voëllewe.

Die gebied is ook tot ’n Ramsarterrein verklaar (Ramsar verwys na ’n internasionale verdrag vir die bewaring en volhoubare gebruik van vleilande).

Saam met die Walvisbaai-vleilande word dit as een van die drie topvoëlkykterreine in Afrika beskou.

Die ou hawe is nou ’n getystrandmeer, waar die voortdurende duinvordering getemper word deur die rietbeddings op die voet van die duin. Hierdie rietbeddings word deur brakfonteinwater van ’n waterdraer onder die Namib gevoed.

Hierdie unieke plek het ’n hawe vir duisende voëls geword, sowel as ’n belangrike rusplek tydens voëlmigrasies. In ’n onlangse opname is 40 000 voëls van 34 verskillende spesies getel, wat insluit flaminke, pelikane, die bontelsie, steenlopers, die damarasterretjie en die endemiese duinlewerik. Daar is ook heelwat van die kleiner waadvoëls in die omgewing, en dis glad nie ongewoon om ’n jakkals op die strand of ’n dolfynin die water te gewaar nie.

As ’n bonus sal jy moontlik ook tussen Julie en November die suidelike noorkappers sien. Hierdie oseaanreusebegin stadig na die omgewing terugkeer nadat hulle in die 1960’s in groot getalle deur walvisjagters afgemaai is.

Van die noordelike punt van die strandmeer mag jy net die gebied te voet verken. Hier sal jy waarskynlik jakkalsspore in die nat sand sien, of dalk die skaars graafneusakkedis raakloop.

Ons gids, Bruno, het ons gewys hoe om hierdie piepklein reptiele onder die sandoppervlak op te merk en met die hand uit te skep. Baie opwindend!

Jy sien oral geitjies en goggas, sowel as die stekelrige narra-plante. Die vrug van die plant, ’n soort waatlemoentjie, is ’n belangrike voedingsbron vir die Topnaar-bevolking (’n Nama-stam) wat in die geweste bly.

Net ’n klein entjie weg van die kus aan die binneland het ons op ’n springboktrop afgekom wat hulle dors les deur aan plante te knibbel.

Dis merkwaardig dat al hierdie lewe onderhou word deur die vogryke mis wat snags van die koue Benguela-stroom af waai, wat dan kondenseer vir die lewensnoodsaaklike water in die droë Namib.

Die pragtige uitsig oor Sandwich-hawe is jou beloning vir die steil klim.

Amper die einde

Ons moes weer spore maak voordat die inkomende gety ons vasvang, maar dit was nog nie die einde nie. Ons het eers ’n bietjie opwinding op pad huis toe beleef.

Ons het die duine met ons 4x4’s bestorm en soos kinders in die sand gespeel. Dis onbeskryflik om sulke duine uit te ry. Jy ry by skynbaar onmoontlike hellings af met jou hart wat in jou keel sit. Dan bou jy weer vinnig spoed op om  die volgende duin te bestorm met die adrenalien wat deur jou are bruis.

• Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy#75 (September 2015) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.