Ons het met ’n 1948 Plymouth Special Deluxesedan gereis, met ’n dakrak vir ons tent en bagasie en plek vir agt mense. In die kattebak was ’n stel reistasse wat saam met die motor gekoop is en presies ingepas het.

Ons het onder meer by die bekende Bischoffkamp by Polanastrand in die destydse Lourenço Marques (deesdae Maputo) gebly.

Besoekers het ’n tent gekry om in te slaap, met ’n tweede tent as kombuis. Die tente was karig gemeubileer met staalbeddens, ’n staaltafel, ’n waskom met ’n skottel, en hout- en ysterstoele.

Polanastrand
Polanastrand

Daar was baie primitiewe ablusieblokke. Die storte het met kettings gewerk. As jy die ketting los, het die water (altyd koud) ophou vloei. Dus moes jy leer om met een hand te stort... Van die toilette praat ek eerder nie. Vandag sal ’n gesondheidsinspekteur dit een kyk gee en sê “aikona!”.

By die ingang van die kamp het ’n Portugees snoepgoed uit ’n kiosk verkoop. Ons gunsteling was A1-roomyse, ’n handelsmerk van Lourenço Marques se roomysfabriek. Ons het veral van die wafers gehou, ’n stuk roomys so groot soos ’n 250 g-blok botter met twee beskuitjies aan weerskante. Die kiosk-eienaar het drie 78-plate besit: “On Top of Old Smokey”, “Beautiful Brown Eyes” en “April in Portugal”. Hierdie drie plate het hy van sonop tot sononder gespeel en krakerige luidsprekers het dit oor die kamp uitbasuin.

Dis ook hier waar ek my broer en sy vakansieromanse in die donker agtervolg het om iets van die liefde te leer. Terwyl ek hulle bekruip, het ek verdwaal en per ongeluk in ’n waterkanaal beland. Ek was flenters – knieë, elmboë en voorkop... en het ’n erge klankie aan my gehad. Terug by die kamp wou my ma geskok weet wat ek aangevang het. “Dis hoe ’n mens lyk as jy leer vry, Ma,” het ek skaam geantwoord.


Hierdie artikel is geneem uit ons argief. Dit het oorspronklik in Weg #146 (Desember 2016) verskynAlle inligting is onlangs nagegaan, maar feite en geite kon intussen verander het. Laat weet gerus as jy so iets raaksien - stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za