Ek hou van rotsklim, ysswem en fietsry. Ek is vir maande aaneen ter see (ek’s ’n navigasie-offisier vir ’n Kanadese skeepsmaatskappy), maar die lekker ding is dat ek ook lang tye verlof kry wanneer ek aan wal is. Dan wil ek soveel moontlik opwindende dinge doen en sien.

So bevind ek my laasjaar ná ’n fietstoervakansie deur die suide van Namibië en die Richtersveld op Springbok in die Noord-Kaap. Die gedagte om vir ’n dagreis terug Kaap toe vasgedruk in ’n motor te sit, staan my nie juis aan nie. Ek hoor mense sê die R355 loop deur ’n oop, droë landskap besaai met niks, waar skerp klippe jou bande aan flarde kan skeur.

Dis sowat 600 km van Springbok af tot op Ceres met dié pad, en net daar besluit ek: Dit sal fantasties wees om die lengte van die pad met my fiets te trap!

Dag 1 

Dis altyd ’n uitdaging om aan die begin van jou reis jou been oor die fiets te gooi en die eerste trap te gee – daar is nie meer omdraaikans nie. Jy moet die ding deursien tot die einde! Maar dis opwindend om iets nuuts aan te pak en dit verjaag gou enige twyfel in jou gemoed. 

Vandag is ’n dag van opdraandes wat nie end kry nie – net-net steil genoeg om jou bene te laat werk. Die briesie van voor help nie, maar ek en my fiets vat dit rustig tot bo-op die platorand. As ’n mens na ’n kaart van die Noord-Kaap kyk, sien jy nie sommer waar elke streek begin en eindig nie. My reis het in Namakwaland begin en ek verwag om binnekort Boesmanland binne te ry. Ek vra’n bokwagter langs die pad: “Nou wanneer is ek dan in die Boesmanland?” 

Hy glimlag. "Meneer, Meneer sal sommer sien. Die mense daar in die Boesmanland is baie gelukkig. As die mense ophou staar met kyke in hulle ogies en begin glimlag, dan weet Meneer. Jy is nou in die Boesmanland!"

Ná 80 km ry ek verby Vaalputs, Eskom se kernkrag-stortingsterrein, waar ek my waterhouers volmaak. Ek ry aan tot waar ek nie meer die ingang na Vaalputs kan sien nie, en soek ’n geskikte kampplek vir die aand. Ek vind ’n plat stuk grond so ’n meter of wat van die pad af. Dis veilig… as hier nie mense is nie, dan is hier ook nie kwaaddoeners nie. Daar het dan die hele dag net een motor verbygery! Ek maak rustig my kitspasta gaar en lees daarna my boek… M. Scott Peck se The Road Less Travelled – heel gepas!

Dag 2

Die son skyn, dis nie te warm nie en daar is ’n oop grondpad wat my roep. Vandag is darem nie so ’n skok vir die ligaam of die siel nie. Vreemde name kom en gaan – afgeleë plekkies soos Kliprand. Ek wil vandag tot by Loeriesfontein ry, sowat 150 km verder. Gelukkig is die pad nie te sanderig of te stamperig nie en die bene nie te wankelrig nie. Soos die vrou by Kliprand se winkel sê: “Oppas, dis maar ’n skerp pad daai".

Ek staan ewe rustig by ’n kruising en eet ’n energiestafie toe ’n man met ’n wilde Kersvaderbaard in ’n wit Land Cruiser-bakkie langs my stilhou. "My donner, waarheen is dié ou op pad? Is hy werklik hier of sien ek goed?!" sê hy. 

"Hallo, Oom," groet ek huiwerig. 

Die volgende oomblik bars ’n kabaal los. Penne skiet orent, en ek sien hoe ’n ystervark met ’n skoffeldraffie die donker nag in waggel.

Dit lyk asof hy skrik, en dan sê hy: "Middag, Boetman, so jy is werklik hier".  En dan trek hy weer weg dat die stof so staan. 

Die landskap verander stadig maar seker: rooi sandpad met graslande so ver soos ’n mens kan sien, word grys klippies en bossies met die silhoeëtte van kokerbome wat wagstaan in die middagson. Dis 5 nm. wanneer ek Loeriesfontein doodmoeg binnesuiker.

Ek mik reguit Spar toe, waar ek twee hamburgers, twee sjokolade-Steri Stumpies (elke fietsryer se droomdrankie) en ’n pakkie salami verorber. Daar’s darem nog kitspasta vir aandete ook. ’n Mens raak hónger op die lang pad, veral as jou fiets swaar gelaai is met jou toerusting. Dit was seker daai Eskom-kernkragafval wat my vandag so ’n bietjie ekstra woema gegee het!

Ek betaal selde vir verblyf. Daar’s amper altyd ’n rivier (of ’n krip, as jy regtig vuil en desperaat is) om in te was. Ek maak myself in ’n rivierbedding net buite Loeriesfontein tuis, naby genoeg aan die dorp om myself môreoggend met ’n koppie boeretroos by die plaaslike hotel te gaan bederf.

Gewoonlik slaap ’n mens lekker as jou liggaam so moeg is soos myne, maar vanaand hou iets my wakker. Ek hoor ’n geritsel buite my tent en slaan ongeërg teen die seilwand met my hand om die dier weg te jaag.

Die volgende oomblik bars ’n kabaal los. Penne skiet orent, en ek sien hoe ’n ystervark met ’n skoffeldraffie die donker nag in waggel.

Dag 3

Dit is vandag net 80 km tot by Calvinia, my volgende oornagplek, en ek lê dus ’n bietjie langer in my snoesige slaapsak. Ek slaan rustig kamp af. Dis Maandag … dink ek? Dit neem sowat twee dae om heeltemal van die buitewêreld te vergeet. Al wat saak maak, is of my fiets se wiele draai, of ek genoeg water het en waar ek my volgende koppie koffie gaan kry. 
Mense is maar eenmaal nuuskierig. Hulle sien ’n ou op sy fiets, en peper jou met vrae. Ek gee nie om nie.

Dis deel van die lekker en dis nogal iets besonders om met vreemdelinge te praat. Die meeste van die tyd wil hulle entoesiasties oor hulle eie stukkie aarde gesels, maar soms kyk hulle jou aan asof jy ’n skroef of 20 los het. Ek teug aan ’n koppie koffie by die Loeriesfontein-hotel toe ’n man my vra waar ek die vorige aand geslaap het. “Net hier buite die dorp in die rivierbedding, Oom,” antwoord ek. 

“Jy kan nie daar slaap nie! Dis waar al die sataniste bymekaarkom,” raas hy. Dis seker iets wat ’n mens net op ’n klein dorpie sal hoor!

Later sien ek die skedel van ’n duikertjie, horings en al, ’n ent buite Loeriesfontein langs die pad lê. Ek maak die skedel voor aan my fiets vas en doop hom “Punt in die wind”. My bene en sitvlak is nou al goed seer na gister se lang dag in die saal.

Ek stop by Calvinia se Spar vir proviand, want die volgende stuk van die R355 is ’n meneer: Die 256 km tussen Calvinia en Ceres is die langste stuk pad tussen twee dorpe in Suid-Afrika wat nie deur ’n ander dorp onderbreek word nie. Iemand by die Spar vra hoekom ek nou juis die pad wil ry. Daar’s mos niks maar niks in die Tankwa nie? ’n Bietjie niks is ook mos mooi, dink ek.

Ek ry so ’n paar kilometer tot buite die dorp waar ek tent opslaan. Ek’s darem naby genoeg om nog selfoonsein te hê sodat ek met my geliefdes kan praat.

Dag 4 

Van hier af raak dinge effens vreemd. Ek gly grasieus by die Bloubergpas af, al met die kontoerlyne langs tot doer onder in die Tankwa-Karoo. Die volgende 150 km is ’n reguit stuk pad tot by die Karoopoort. My bande sing en die wêreld raak saam met my siel stil. Ek praat hardop met myself. ’n Skoenlapper sweef verby. Hoe vinnig kan ’n skoenlapper vlieg, wonder ek? Vir 15 minute ry ek al agter hom aan. Sy topspoed, met ’n briesie van agter, is 30 km/h!

’n Paar kilometer verder sien ek ’n duikertjie voor my in die pad. Die heinings van die Tankwa-Karoo- nasionale park aan weerskante is egter hoog, en die bokkie kan nie wegkom nie. Dit spring en hardloop voor my uit, heen en weer oor die pad. Ná 3 km voel ek soos die Boesmans van ouds wat hulle prooi gejag het deur hulle uit te put.

Ek wil beslis nie die dood van die oulike bokkie veroorsaak nie, maar ek moet bieg: Die gedagte aan ’n lekker wildsvleissteak maal deur my kop. Ek versnel, steek hom genadiglik verby en hy hardloop weg in die teenoorgestelde rigting. My bene brand en my longe pleit vir nog suurstof.

Die son sit al hoog en ek het vandag reeds 100 km getrap. Dalk kan ek dit vandag nog tot by die Tankwa Padstal maak – sowat 80 km voor Ceres? Yskoue bier, roosterkoekburgers en koffie! Hulle leuse is nie verniet “ietsie van als in die middel van nêrens” nie.

Die gedagte hieraan is die motivering wat ek nodig het om verder te trap. Ek wonder net wie die sadis is wat besluit het daar moet elke 10 km ’n bordjie wees wat sê hoe ver dit nog tot op Ceres is. Elke keer as ek ’n bordjie sien en besef hoe ver ek nog moet trap, is dit soos ’n vuishou op die krop van my maag.

En toe word my hart gebreek. Ná 170 km en ure se uitsien na smaaklike kos en ’n koue bier, kom ek by die Tankwa Padstal aan, net om ’n kennisgewing te sien: Hulle is toe op Woensdae. Vandag is Woensdag. Ek kan dit nie glo nie. Ek voel hoe die trane in my oë opwel. Ek staar uit oor die Karoo-vlakte wat nou in ’n rooi gloed gehul is terwyl die son sak.

Dis oukei, sê ek vir myself, slaan maar tent op – daar’s kitspasta vir aandete. 

Dag 5

Toe die padstal 9 vm. oopmaak, staan ek al voor die deur, want ek is goed honger. Hulle dra vir my ’n ete aan wat ’n klein dorpie sou kon voed. Twee yslike roosterkoekburgers, ’n bord aartappelskyfies en vier koppies koffie. Ek smul skaamteloos. 

Maar gou tref die realiteit my: Ek moet nog die laaste 80 km tot op Ceres trap – deur die Karoopoort en oor die Theronsbergas. Ek het nie aanmoediging nodig nie. Daar’s storm weer op pad van die Kaap se kant af, maar ’n sagte bed, die geselskap van vriende en ’n gesellige warm vuur wag vir my op die dorp – ná vyf dae van avontuur is ek lus vir ’n stukkie bederf. Toe ek Ceres binnery, vra ’n vreemdeling waar ek en my pakkaas vandaan kom. Ek het die R355 van Springbok na Ceres gery, sê ek trots.

“En hoeveel pap bande het jy gekry?” wil hy weet.

Nie een nie, sê ek.

Hy antwoord: “Dan was jy seker ’n saint in jou vorige lewe!”

HENKO SE PAKLYS
  • Tent
  • Slaapsak en -mat
  • MSR-stofie
  • Koplig
  • Kamera en driepootstaander
  • Genoeg kos vir 3 dae
  • 6 liter water
  • Noodhulpkissie
  • Kaart
  • Honderde kabelstroppe en duct tape
  • Sjokolade
  • 1 stel fietsryklere
  • 1 stel slaapklere
  • 1 ekstra broek en hemp
  • Plakkies
  • Gunsteling mes
  • Boek om te lees
  • Onderdele vir die fiets


Dié artikel het in April 2017 (#150) in Weg verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.