FOTO’S TORBEN PHEIFFER

“Toe ek in Amerika gebly het, het ek en ‘n pel altyd daaroor gepraat om van die Kaap tot in Kaïro met ‘n Land Rover te ry. Later het ek na Indië verhuis en op een vakansie het ek ’n motorfiets vir ’n dag gehuur.

“Toe ek die aand weer by my tent kom, het ek gewonder: Sal dit nie lekker wees as ek nie hoef op te hou nie.”

Dit het Torben twee en ’n half jaar gekos om genoeg geld te spaar, navorsing oor moontlike roetes te doen en al die toerusting aan te skaf wat hy sou nodig hê. Op 11 September 2005 het hy uit Delhi vertrek.

Twaalf lande (Pakistan, Iran, Turkye, Sirië, Jordanië, Egipte, die Soedan, Ethiopië, Kenia, Tanzanië,Malawi en Mosambiek), tien maande en 38 000km later het hy op 17 Julie by sy ouerhuis op Hermanus aangekom.

“Ek is nie seker of ek gou weer so ’n toer sal aanpak nie. Ek sien uit na ’n bietjie stabiliteit om ’n salaris te kry en te weet waar ek elke aand slaap. Maar miskien oor vier of vyf jaar... Wie weet? Daar is altyd Suid-Amerika, die weskus van Afrika, Asië en so baie ander plekke wat wink.”

As toetslopie het ek in Augustus 2005 vyf weke lank deur Noord-Indië getoer. Voor dit het ek nog nooit ’n groot motorfiets gery nie en dit was ’n strawwe kennismaking met die werklikheid wat sou volg, want die pad was vol water, modder, sand en rotse.

Só het ek agtergekom ek het hopeloos te veel bagasie.

’n Mens vat bitter min klere: Ek het ’n denim, drie T-hemde en ’n paar onnies gehad. Ek het ook ’n tent, slaapsak, ’n klein stofie, potte, noodhulptassie, kamera en onderdele vir die motorfiets saamgeneem.

Waaroor ek spyt is, is dat ek nie juis plek vir boeke gehad het nie. Later het ek boeke geruil met reisigers wat ek teëgekom het, maar ’n mens kry nooit wat jy eintlik wil lees nie. Op die ou end eindig jy altyd met ’n Danielle Steele.

Van die begin af het ek myself belowe dat ek die motorfiets self sou moes kon optel. My KTM640 Adventure is ’n enkelsilinder en ligter as byvoorbeeld ’n BMW GS. Hy het ook ’n groot petroltenk en is ontwerp vir waar ek wou ry: ’n Mengsel van pad en offroad.

My motorfiets het nooit ’n naam gekry nie, maar ná ’n ruk het ek haar Cruella de Vil begin noem – half mooi, maar regtig mean.

My drie gunstelinglande was Iran, Sirië en Pakistan. Hulle word nie negatief deur toerisme geraak nie. Ek was gewoond aan Europa, Afrika, Amerika en selfs Indië, maar nie aan die unieke Midde-Oosterse kulture nie.

Wat my diep getref het, was die gasvryheid in die Midde-Ooste. Dikwels het mense vir my tee gekoop, of my genooi om by hulle te kom bly. En dit was arm mense, hoor.

Wat nog lekker van die Midde-Ooste is, is die kos. Ek het baie gehou van fuul, ’n Arabiese boontjiegereg en in Iran het ek weer kalepache geëet: Dis die oog, brein en pote van ’n skaap wat 12 uur lank gekook word. ’n Mens eet dit net voor 7 vm., want blykbaar gee dit jou soveel energie dat jy tot aandete nie weer honger is nie.

Daar is baie meer goeie mense in die wêreld as slegte mense. Hierdie toer van my het my geloof in die mensdom bevestig.

Een van die indrukwekkendste plekke waardeur ek gereis het, was Persepolis, die ou Persiese hoofstad wat in 500 v.C. gebou is en deur Alexander die Grote afgebrand is. Die Himalajas is asemrowend mooi – dit lyk soos die Alpe op steroïede. El Alamein is weer baie roerend, omdat soveel Suid-Afrikaanse soldate tydens die Tweede Wêreldoorlog daar gesterf het. Die Nylrivier was vir my spesiaal met sy blou water en groen oewers in die woestyn.

Die ruïnes by Petra.

In een dag gaan jou emosies op en af soos op ’n roller coaster. Ek moes in die noorde van Soedan vier, vyf dae lank deur diep sand ry. Op een dag het ek seker ses keer geval. Die laaste keer het ek net in die sand bly lê en geskree: Wat maak jy? Op daardie punt was ek reg om tou op te gooi. Ek was toe sowat 500 km van die naaste groot dorp en ek moes maar weer opstaan en ry. Maar daai aand toe ek in die woestyn kamp en dis doodstil en die sterre kom uit, het ek die dag se probleme vergeet.

Die ergste was die wanhoop toe my enjin in die Soedan gebreek het. Vir omtrent ’n week het ek nie geweet of ek dit sou kon regmaak nie.

’n Wastertjie in die waterpomp het gebreek en dit was die een ding wat ek nie op die mark kon koop nie. Ek moes dit uit Duitsland bestel. Dat ek self die motorfiets reggemaak het, met die hulp van die werkswinkelhandleiding en ’n internetbesprekingsgroep, is seker een van die dinge waarop ek die trotsste is. Ek het geen meganiese kennis gehad toe ek die toer begin het nie en moes diep in die enjin werk.

Ek het uiteindelik ’n maand vir die wastertjie gewag en onder ’n boom gekampeer. Ek het geleer om net stil te wees, sonder om iets te doen en ek het ure lank gesit en dink.

Musiek het baie gehelp. Ek het my backpacker-kitaar (dit het ’n volle kitaarnek, maar ’n Kleiner klankkas) en ’n iPod saamgevat.

As ek ’n temalied vir my toer moet kies, sal dit seker “Woodstock” van Crosby, Stills, Nash & Young wees, want ek het oor en oor daarna geluister.

Ek het agtergekom ek is nie so ’n onafhanklike mens soos wat ek gedink het nie. Jy het mense nodig wat vir jou lief is en vir wie jy lief is.

SAND-SJEIK. Die foto is geneem ná omtrent die vyfde sanddrif waardeur Torben tussen Siwa- en Baharija-oase in Egipte moes ry. Hy het uiteindelik net twee keer in die los sand geval, waarvan een keer voor ’n groep soldate net nadat hy vir hulle gesê het hy en die motorfiets kan énigiets hanteer!

Toe ek in Junie in Nairobi aankom, moes ek weer ’n paar goed aan my motorfiets doen. Teen daai tyd was ek al so lank op reis dat ek nie meer emosioneel krag gehad het om stadig te toer en die meeste van elke geleentheid te maak nie.

Ek het toe in twee weke tot op Hermanus gery.

Ek het op ’n nat, Kaapse wintersdag by die huis aangekom. Die laaste 100 km het ek net aan rooibostee, ’n warm bed en ’n stort gedink. En om die volgende oggend nie weer die motorfiets hoef te pak nie.

Dit is eintlik verbasend maklik om so ’n toer te onderneem; dit verg net ’n bietjie deursettingsvermoë.

Maak net seker jy is voorbereid. Moenie suinig wees wat toerusting betref nie; koop goed van gehalte. Jy wil nie in ’n woestyn sit met skoene wat breek nie.

Moet ook nie bang wees om te sê ek wil nou stilhou, of ek wil nou rus, of ek gaan nou huis toe nie. Jy moet bereid wees om na jouself te luister.

Ek het nie noodwendig myself op hierdie reis gevind nie,maar ek het uitgevind ek is wie ek altyd gedink het ek is.


Hierdie is ’n verkorte weergawe van die artikel wat oorspronklik in Weg # 28 (Februarie 2007) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.