Ek het in 2003 al daaroor begin droom om Verneukpan in die dorre Noord-Kaap te besoek,maar met een doel voor oë: Om met my eie vlerke te gaan vlieg. Ja,met ’n vlieër bo my kop.

Maar toe vat dit jare voordat ek ’n groepmanne van Johannesburg ontmoet wat ook groot aanhangers van dié sportsoort is. Binne drie weke het ek vir my ’n vlieërplank gekoop en alles was gereël. Toe, in Augustus 2006, breek my kans uiteindelik aan...

Kampplek vir ’n bataljon

Ná deeglike beplanning en lang ure op die pad – in voertuie wat soos vlugtelingtrokke gelaai is – kom ons by Verneukpan aan. Reg voor ons eenvoudige kamp is ’n oop kol van ongeveer 8x 5km – dus 40km2, oorgenoeg speelplek vir ons spulletjie mans wat so opgewonde is soos die kroos op Kersoggend!

Die oppervlak van drooggebakte klei is ideaal vir ons borde en die karretjies se wiele.

Ons slaan ons tente in ’n rekordtyd rondom die lapa op. Ondanks die verswelgende hitte (by die 40°C) is ons nie die kamp se enigste inwoners nie; ons “gaste” het ons sommer gou verwelkom...

Ons het nie geweet van die blindevlieë wat jou steek op enige plek wat jy durf ooplos nie. (Ook nie van die stortwater wat ruik soos ’n swaweleksperiment wat erg skeef geloop het nie.)

Dis omtrent ’n gesig, dié sewe mans wat soos ballerinas ronddans en hulle bene klap. Jy kan ook net so lank vir iemand staan en lag, want kort voor lank besluit die vlieë jy lyk smaakliker. Ons leer darem gou die blindevlieë is nie tuis in die skaduwee nie – hulle raak vinnig gedisoriënteer en keer terug na waar sonlig is.

Onder die sterre braai en kuier ons heerlik, vergelyk en spog met ons vlieërs en karretjies... En natuurlik is daar ’n paar groot vlieërrystories wat g’n hengelaar sou kon uitdink nie.

Uiteindelik, punt in die wind!

Die volgende oggend is ons voor die son op. Wie kan dan laat slaap as jy so opgewonde is? Terwyl ons die sonsopkoms bewonder, drink ons koffie en eet beskuit.

Teen seweuur raak die eerste vlieërs aan die hemel. Dis duidelik die karretjie-ouens het heelwat ervaring; hulle melk die oop ruimte en goeie wind behoorlik.

Ek en Franz maak gereed vir ons eerste vlieërplankvlug. Die wind waai teen 14 knope en ek besluit om my ou watervlieër van 9,5 m² te gebruik. My ervaring met die vlieër op die branders help beslis en ek kom verbasend gou reg.

‘Testing, testing...’

Aanvanklik maak ’n mens ’n paar tegniese foutjies. Hoe vinniger jou spoed, hoe moeiliker is dit om die bord te beheer. Die landplank werk soos ’n skaatsplank: As jy wil draai, druk jy na óf jou toon óf jou hak se kant toe. As jy baie vinnig ry, maak enige beweging ’n dramatiese verskil...

Onder die sterre braai en kuier ons heerlik, vergelyk en spog met ons vlieërs en karretjies... En natuurlik is daar ’n paar groot vlieërrystories wat g’n hengelaar sou kon uitdink nie.

En dan, as jy die saak probeer regstel, oorkompenseer jy na die ander kant toe, amper soos ’n aangeklamde touloper in ’n sirkustent.

As jy vinnig wil ry, moet jy die bord so reguit as moontlik hou en so min as moontlik van rigting verander.

Ek leer sommer vinnig hoe absoluut noodsaaklik veiligheidstoerusting is: Sonder ’n helm en knie- en elmboogskutte sal jy baie gou voos geval wees.

Wat’s dié VVV’s?

Vlieërsport sluit ’n hele paar aktiwiteite in, en vir elkeen gebruik jy ’n spesifieke soort plank of kar. Elkeen se oppervlakte en die manier waarop dit werk, verskil.

Jy kan op water ry – dit word vlieërbranderry of “kite-surfing” genoem en is die een wat die bekendste is.

Te veel van ’n goeie ding is net nog beter, daarom kry jy ook vlieërplankry (of “landboarding”), waar jy iets gebruik wat soos ’n skaatsplank op steroïede lyk, sweefski (“snow-kiting”) met ’n sneeuplank, en vlieërkar-ry (“kite-buggying”), met een van daai driewielkarretjies met net een sitplek.

Met watter vlieër vlieg ek?

Vlieërs is taamlik eenvoudig – jy meet die grootte daarvan in vierkante meter. Die kleintjies gebruik jy in ’n sterk wind en die grotes in ’n matige wind. Dis nogal ’n kuns om die regte grootte vlieër vir die windsterkte te kies, daarom het die meeste entoesiaste minstens een grote en een kleintjie.

Op ons Verneukpan-avontuur was daar sewe uiters entoesiastiese vlieëniers: Vyf van die ouens het ’n karretjie gehad en twee het ’n landplank saamgebring. Saam met my was Chris Meyer, Dirk Botha,Wesley Backhouse, Franz du Plessis, Kevin Lambrecht en Francois Vermeulen.

Jy vlieg!

Terwyl ek en Franz ons vlerkies op die landplanke toets, put die karretjie-ouens ure se genot daaruit om resies te jaag. Hulle stel sommer nuwe rekords op.

Die vastrap op die klei is ongelooflik, en jy moet nogal jou storie ken om nie om te slaan nie.

Die laaste lid van ons groep, Chris, is ons bewaker. Hy het ’n jaar tevore sy rug beseer en kan nie meer self vlieg nie.

Met sy vierwielmotorfiets, tweerigtingradio en noodhulptassie is hy die bystand en help enige van ons wat in die pekel beland of dalk ’n pleister kort.

Ons kry gou ons eie roetine en die volgende vier dae verloop redelik rustig. Ons staan vroeg op, vlieg, eet ’n laatontbyt, vlieg weer tot die son sak, geniet aandete, kuier, en vang ’n ysige (stink) stort. Dan, teen negeuur, is ons al vas aan die slaap: Tot die dood toe moeg, maar tevrede.

’n Stukkie Verneukpan in jou sak

Die laaste oggend staan ons vroeg op, pak en val in die pad. Ons lywe is seer, maar ons gemoedere gesalf.

Ons het groot opwinding ervaar op Verneukpan, maar ook vrede – in ’n deel van ons land waar ’n mens nie sommer toevallig verby ry nie.

Waarom Verneukpan?

Die uitgestrekte vlaktes en Augustus-winde maak Verneukpan ’n wenner vir dié soort speelgoed.

Verneukpan strek oor 600 km² en op die hele pan is daar slegs ’n paar duim verskil in hoogte.

Vir almal behalwe die heel grootste kibbelaars is dit eenhonderd persent plat.

MET VLIEËNDE VAANDELS

Vlieërplankry is ’n unieke ervaring. Hier is ’n paar van die hoogtepunte in die vier dae dat ons daar was.

Hou vas! Die karretjies se gemiddelde spoed was 40-70 km/h (volgens ’n fietsspoedmeter). Wesley het ’n rekordspoed van 89 km/h gehaal.

Beginnersgeluk? Die vlieër- en bordryvermoëns van Franz, wat voor die reis omtrent geen ervaring gehad het nie, het elke dag verbeter. Hy wen beslis die trofee vir die beste vordering.

Plat op die pan. Ek het twee keer baie hard met die grond kennis gemaak: Die eerste keer het ek amper my skouer afgeskryf en die tweede keer my knie. Franz het ’n“split”gedoen, met een been op sy bord en die ander op die grond. Dít is vir geen man lekker nie. Dirk het ook twee keer skouspelagtig geval – sy enkel sal nooit weer dieselfde wees nie. Francois het op sy beurt ’n val-en-rol-ongeluk oor klipharde grond opgevolg met ’n regopspring en saluut vir die kamera.

Is dit ’n voël, is dit ’n vliegtuig of ’n vlieërplank? Kevin het sy massiewe 16 m²-watervlieër vir ’n rit met sy karretjie gebruik. Nadat hy amper deur die klankgrens gebreek het en skaars kon stop, het hy geweier om verder met die groot vlieër te probeer en ’n twee uur lange tog terug kamp toe aangepak.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg 35 (September 2007) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.