Weg-lesers Ilka en Michael Goth van Johannesburg skryf:

Ons het die voorreg gehad om ’n besonderse olifantritueel dop te hou in Botswana se Chobe- nasionale park. Op pad na die Ihahakampterreinm het ons stilgehou langs die Choberivier. Dit was warm en die olifante het kom suip en in die modder baljaar.

Een koei het ’n paar keer ineengesak en weer probeer opstaan. Die ander olifante het haar probeer ophelp, maar sy het uiteindelik – ná ’n bloedstollende gil – gaan lê. Ná ’n ruk het sy glad nie meer beweeg nie en dit het gelyk asof sy gevrek het. 

Al die olifante het na haar gedraai. Dit was doodstil. Selfs die kleintjies het ophou speel. Dit het gelyk asof hulle groet. Later het die olifante weer hulle gang gegaan, behalwe die groep die naaste aan haar.

Hulle het lank getalm en haar lyf met hulle slurp aangeraak. Later het net een olifant oorgebly en water oor haar lyf gesprinkel. Ons moes terugkeer na ons kampplek en het die twee in vrede gelaat.

Die wildlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord: Die meeste diere stel nie eintlik belang in hulle dooies nie. Maar daar is gevalle waar sjimpansees, dolfyne en olifante besorg is oor siek of dooie individue van hulle spesie. Olifante toon dikwels belangstelling in karkasse, selfs in verbleikte beendere en kopbene.

Navorsing wys olifante van dieselfde familie sal na die karkas terugkeer in die dae ná die dood, veral koeie wat ’n kalf aan die dood afstaan.

In dié geval is die olifante wat agterbly, waarskynlik deel van dieselfde familie. Dit lyk egter asof olifante ’n algemene besorgheid vir olifante het en nie net vir hulle eie trop nie. Olifante sal byvoorbeeld selfs ’n onbekende olifant, wat met ’n doofpyl geskiet is, oppas en probeer ophelp. Dis egter onmoontlik om te bepaal of olifante rou.

Hulle toon beslis ’n reaksie by ’n karkas, met afskeidings wat teen die slape afloop. Maar ons weet nie of olifante medelye toon of swaarkry ervaar as hulle afkom op ander olifante in pyn nie.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #150 (April 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.