Ek staan soms verstom oor van die onderwerpe wat op kampforums en sosiale media bespreek word – en die raad wat dan opgedis word. Ek het gereeld al gesien hoe iemand kla die woonwa skok hom as hy aan die aluminiumstroke raak. Die persoon het egter nie gesê wanneer of waar die woonwa hom “geskok” het nie.

Ek voel die eerste vraag wat ’n mens moet vra, is of dit by die huis of in ’n kampplek gebeur het. Terloops, ek kan nie een vrou onthou wat oor dié probleem kla nie. Die “skok”, wat selde meer as ’n matige sensasie is, beteken gewoonlik daar is iewers fout met die bedrading, en meer spesifiek die beaarding.

Stringe kommentaar van sogenaamde kundiges het egter al bewys dat hier heelwat onkunde ter sprake is. Die algemeenste verklaring is dat die hoekstutte se voetjies – wat van plastiek of bakeliet gemaak word – verwyder moet word.

Volgens die slimjanne kan die voetjies die wa isoleer en dus verhinder dat die besigheid geaard is. Hulle sal jou dan verder vertel dat jy nie hout- of plastiekblokke moet gebruik om die hoekstutte op die grond stewiger te kry nie.

Enige kampplek behoort ’n voldoeningsertifikaat te hê, en slegs geregistreerde elektrisiëns mag dit uitreik.

En dan is daar die mening dat jy ’n ysterpaal van 2 m in die grond moet slaan en dié dan met ’n draad of ketting aan die wa koppel. Nou wonder ek of iemand al ooit ’n waterpyp of elektriese kabel gekwes en sodoende ’n groot konsternasie vir die oordbestuur veroorsaak het.

’n Mens moet eerder die fout gaan soek by die woonwa se kragkabel en bedrading, of by die kampplek of jou huis se elektriese toevoer (as jy daar geskok is).

Alle woonwahandelaars of entrepreneurs wat woonwaens by jou huis diens, behoort die woonwa se kragkabel en bedrading ook te toets. ’n Ander opsie is om ’n eenvoudige en goedkoop toestel aan te skaf en dan die kragpunt by die kampplek of in jou wa te toets. As al drie liggies brand, is die bedrading en beaarding reg.

Multiproppe het gewoonlik nie ’n aarddraad nie, want dit skep ’n brandgevaar as te veel toestelle daaraan gekoppel word.

Ek wonder verder of alle kampplekke se kragtoevoer aan veiligheidstandaarde voldoen. Enige kampplek behoort ’n voldoeningsertifikaat te hê, en slegs geregistreerde elektrisiëns mag so ’n sertifikaat uitreik.

Die SABS-standaarde (SANS 10092: 2015 Uitgawe 4) met betrekking tot woonwaparke vereis dat enige elektriese punt wat herstel, vervang of opgeknap word, na die blou SABS-goedgekeurde soort omgeskakel moet word. Daarom behoort die behoorlike versiening van kragpunte op ’n weeklikse onderhoudskedule ingesluit te wees.

Die veilige gebruik van oorde se kragpunte behoort beslis die hoogste prioriteit te geniet. Die SABS maak staat op die bestuur van oorde om professionele praktyke na te streef.

Terloops – as jou elektriese toevoer afskakel omdat jou buurman dit oorlaai met sy lugreëling of foutiewe ketel, voldoen die oord se bedrading nie aan die SABS se standaarde nie.

Elke staanplek behoort sy eie aardlek te hê – net soos jou woonwa se verdeelkissie.

Om op te som: Jou woonwa se bedrading en elektriese koord moet voor én ná elke kamp versien word. En betaal dan eerder ’n bietjie meer om veilig en gerieflik te kan kamp.