Ek is eintlik heel gelukkig wat lekbande betref. Oor die jare het ek darem nie te veel bande aan spykers of skerp klippe afgestaan nie, maar die noodlot het my onlangs getref in die Tankwa-Karoo- nasionale park.

Ek het vooraf geweet ek het nie die regte bande vir dié omgewing nie en moes twee keer op dieselfde warm, stowwerige pad die prys hiervoor betaal. Die ontbering is vererger deur my onvermoë om twee van die wielmoere los te draai.

Uiteindelik kon ek wel daarin slaag, maar ek was vies vir die bandedienssentrum omdat hulle die moere so styf vasgedraai het – én vir myself omdat ek nie beter voorbereid was vir die Karoo nie.

Ek is deesdae die trotse eienaar van ’n ordentlike wringsleutel waarmee ek altyd self die wielmoere vasdraai ná ’n besoek aan ’n bandeplek.

In die grendeltyd het ek ’n magdom interessante inligting op die internet ontdek wat ’n verskeidenheid onderwerpe bespreek. Ek wou myself onder meer leer tromme speel en het op Photoshop en ander fotografieprogrammatuurvideo’s gaan kyk hoe om beter foto’s te neem.

Ek het ook heelwat bronne ontdek wat handel oor voertuigonderhoud, iets wat noodsaaklik is vir ons voertuie wat weke lank doodstil staan. Veral een bron het my geïnteresseer omdat dit gegaan het oor hoe jy met wielmoere en -boute ’n nederlaag kan verhinder soos die een wat ek in die Tankwa gehad het.

As jy só ’n hardnekkige bout of moer teëkom, is dit raadsaam om indringolie op die skroefdraad te spuit.

Die video oor dié netelige saak is gemaak deur iemand met ’n meestersgraad in die ingenieurswese. Hy voer aan daar is grondliggende elemente wat wielmoere en -boute betref – ek het sy raad in my “gereedskapkas” van kennis gepak: Die heel belangrikste is dat moere en boute met die korrekte wringkrag vasgedraai moet word, volgens die vervaardiger se spesifikasies.

Die volgorde waarin jy hulle vasdraai, is eweneens belangrik. Voertuie wat nie gereeld gebruik word nie (soos avontuurvoertuie, sleepwaens en boswaens) kan roesplekke tussen metale ontwikkel, en dus ook tussen boute en moere óf in sekere gevalle tussen boute en die wielnaaf waarin hulle vasgeskroef word – en selfs op die metaal van die wiel self.

Hierdie roes kan veroorsaak dat jy meer wringkrag nodig het om moere of boute los te draai. Dit kan daartoe lei dat ’n moer of bout net skielik afbreek terwyl jy met jou volle gewig daarteen beur. As jy só ’n hardnekkige bout of moer teëkom, is dit raadsaam om indringolie op die skroefdraad te spuit. Gebruik ’n rubberhamer om kort, skerp houe teen jou moersleutel te gee. Volg elke hou op met ’n effens harder hou as die vorige een – dit sal die halsstarrige, geroeste moer laat losskiet eerder as wat dit afbreek weens te veel wringkrag.

As dit by selfdoenprojekte soos hierdie kom, is voorsorg natuurlik beter as nasorg. ’n Dun lagie koperghries (copper slip) op die skroefdraad van die wielboute en die naaf se oppervlakke waarteen die wiel gaan druk, sal keer dat roes jou grys hare gee.

Dit is ook baie belangrik dat die korrekte wielmoere en -boute gebruik word met nuwe wiele, veral as dit namarkse wielvellings is. Die monteeroppervlak tussen die wielmoer of -bout en die staal- of allooiwiel het ’n bepaalde hoek wat sorg dat die wiel en naaf perfek teen mekaar pas. Enige wysiging op hierdie plasing gaan keer dat die boute stewig vasgedraai word, wat weer kan afstuur op ’n ramp.

Laastens: As jy koperghries op die skroefdraad gebruik, moet jy jou wringkraginset verlaag. Heelparty vervaardigers beveel aan dat jy 30% minder wringkrag moet uitoefen op ’n behandelde bout of moer as wat jy normaalweg sou.

Volgens die ingenieur op YouTube moet jy slegs ’n klein bietjie koperghries op die moere en boute én op die naaf en wiel self gebruik. Jy moet ook die vasdraaiwringkrag van 110 Nm verlaag tot 80 Nm. Jou wiele sal nie afval nie en jy gaan ook nie sukkel om een af te haal as jy hom moet vervang met ’n noodwiel nie