Ek weet nie wat is die skaarsste ding om te sien as ’n mens deesdae toer nie: ’n leeu of ’n gebreekte kar. Deesdae se karre gaan staan mos nie sommer nie. Daar wink dalk ’n liggie op die instrumentepaneel wat jou beleefd waarsku dat daar iewers in die blikbrein en miljoene mikroskyfies ’n probleem ontstaan het, maar dis niks waaroor jy jou onmiddellik hoef te bekommer nie.

Los dit maar vir ’n werktuigkundige in ’n blou oorpak wanneer jy weer by ’n handelaar uitkom. Die dae van manne wat langs ’n verlate pad kop onderstebo soos ’n geknakte windbuks halflyf binne-in hulle kar se enjinruimte lê, is iets van die verlede.

’n Mens kry ook nie aldag mense wat duim omhoog met ’n leë kannetjie en ’n R10-noot in die ander hand beduie dat hulle sonder petrol gaan staan het en ’n geleentheid soek nie.

’n Blikbrein waarsku jou op vele maniere: hoeveel petrol oor is, wat jou brandstofverbruik is, hoeveel kilo’s jy nog kan ry – en by wyse van spreke hoe kwaad jou vrou gaan wees as jy nie onmiddellik stilhou sodat die kinders ’n draaitjie kan loop nie. Ja, indien jy dit regkry om sonder petrol te gaan staan in ’n moderne kar, moet iemand jou matrieksertifikaat afneem.

Daar is egter steeds ’n groot gelykmaker as dit kom by langs-die-pad- stanery, en dít is die berugte pap wiel. Hy tref almal: oud of jonk, man of vrou, ryk of arm. Jou kar kan hóéveel knoppies en liggies hê, maar as ’n leiklip op die R355 tussen Ceres en Calvinia besluit dis jou beurt, dan is dit so.

Mense met duur Duitse motors gaan aanvoer hulle het runflats en dat hulle nie bang is vir ’n pap wiel nie. Daai Runflat kan jou egter net tot op die naaste dorp bring, iewers soos Calvinia of Stampriet, waar niemand hom kan vervang nie.

Selfs in groot stede kan jy weke wag vir ’n vervanging. Daar is ’n voorspelbaarheid aan watter wiel waarskynlik pap sal raak. Wanneer iemand vertel hulle het ’n pap wiel gehad, is mý kampvuurtruuk gewoonlik om te vra of dit op die linkeragterwiel was.

Tot almal se verbasing is ek gewoonlik reg. My geheim is dat groter klippe op ’n grondpad uitgery word na die rand van die pad. Wanneer die linkervoorwiel só ’n klip laat kantel of hop, en die linkeragterwiel dan die klip op die skerp kant tref voor hy weer sy lê kan kry, is dit wanneer die linkeragterwiel die spit afbyt. Die meeste van my eie pap wiele was links agter, asook die meeste vriende saam met wie ek getoer het – dís hoe ek weet. 

Ons ry stadig en hou ons oë oop vir die leeus. Die afwagting is tasbaar – selfs die kinders fluister.

Sommige paaie is berug. Die R355 tussen Ceres en Calvinia laat groot manne se broek bewe. Die leiklip van die Tankwa het min respek vir ’n band. As jy ’n rondreisende sirkus vol hansworse wil sien, moet jy bloot by die Tankwa-padstal gaan stilhou terwyl die AfrikaBurn-fees aan die gang is. Die parkeerplek is vól stadsjapies wat sukkel om pap wiele om te ruil.

As jou daaglikse aktiwiteite hoofsaaklik is om Instagramfoto’s te neem en duur koffie in Seepunt te drink, gaan jy uiteraard sukkel om ’n wiel om te ruil in die woestyn. Daar is ’n goeie rede waarom Calvinia-boere eerder die 100 km ompad oor Vanrhynsdorp neem Kaapstad toe – die R355 is g’n grap nie.

Die ander riller is die C14 tussen Solitaire en Walvisbaai in Namibië. Toe padskrapers destyds volop was, was dit ’n lieflike pad. Deesdae herinner dit aan ’n post-apokaliptiese slagveld soos die voertuie langs die pad staan met pap bande. Dis nou as daar plek is vir aftrek tussen al die oorsese toeriste wat hulle huurvoertuig gerol het nadat hulle aan die slaap geraak het weens te veel apfelstrudel en Tafel Lager.

Drie jaar gelede het ons gesin saam met vriende op ’n vakansie vertrek. Ek en Stiaan is jare al vriende, van universiteitsdae af, en ons kom goed oor die weg, want ons vul mekaar se swakhede aan. Hy weet alles van rekenaars af terwyl ek daarvan niks weet nie. Ek weet weer alles van ’n pap wiel regmaak, terwyl hy maar net hulpeloos kan toekyk. Met hierdie uiteenlopende talente is ons saam Namibië toe.

Ons ry voor met Stiaan en sy gesin wat volg. Dis my werk om as ’t ware die pad te vee vir moontlike pap wiele, maar duidelik kwyt ek my te goed van my taak, want 10 km buite Helmeringhausen tref die ongeluk my: Ja, die linkeragterband. Ek ruil die band om en ons stryk aan.

’n Uur buite Solitaire kom ek agter Stiaan-hulle is nie meer agter ons nie. Dit is egter moeilik om stadiger te ry en te wag dat hulle ons inhaal, want die toeriste in hulle gehuurde bakkies is haastig en ek sien nie kans dat een van hulle met ’n maag vol apfelstrudel van agter af in my vasjaag nie.

Later, toe my vrou ook begin twyfel in my vriendskap met Stiaan, trek ek uiteindelik af en wag. Ek draai egter nie om nie, want ek neem aan hy het sy kinders bloot ’n draai agter ’n bos laat loop. Maar later maak ek tog ’n U-draai en ry terug. Ek verwag ’n nare ongelukstoneel en berispe myself dat ek nie vroeër al gaan kyk het nie.

Daar heers ’n doodse stilte in ons kar terwyl ons terugry Solitaire toe. Skielik, uit die stof, verskyn Stiaan se motorligte en ons kom langs mekaar tot stilstand. Ek verwag dat hy met my gaan raas omdat ek hulle verlaat het, my beskuldig dat ek eintlik maar ’n mooiweersvriend is, maar toe vertel hy my met oorgawe dat hulle ’n pap wiel gekry het (links agter, hoe dan anders?) en hoe hy dit self geruil het.

Die breë glimlag op sy gesig het vergoed vir die geskeurde band agterin die bagasieruim.

Ons ry stadig en hou ons oë oop vir die leeus. Die afwagting is tasbaar – selfs die kinders fluister. Hulle fluister só sag dat ek skielik ’n “plop”-geluid hoor by die regtervoorwiel, gevolg deur die ritmiese “tik-tik” van iets wat in my band gesteek het.

Op Walvisbaai het ons ’n nuwe band aangeskaf, want van die ou band was daar beswaarlik genoeg rubber oor vir ’n paar plakkies. Van Walvisbaai af is ons die binneland in, oor Okahandja onderweg na Tsumeb, met Etosha as eindbestemming.

Dit sou ons eerste keer in Etosha wees, en van die Namutonihek af het ons dadelik begin wilde diere sien. Ons almal het geweet: Nou is ons as ’t ware in die wildtuin. Ons het aangekruie Halali toe en die aand daar oornag. By die gelyknamige watergat het die Put Foot Rally se mense ons vermaak met hulle joligheid. Blykbaar was daar ook diere in die omtrek.

Die volgende oggend was ons vuur en vlam om leeus te gaan soek. ’n Paar mense in die kamp het gepraat van ’n groot trop by die Rietfontein-watergat. Toe ons daar aankom, was daar troppe wild, maar geen leeus nie. Met klein kinders in die karre kon ons nie lank stilsit en wag nie. Later raak dit gevaarliker binne die kar as buite. Net toe ons wegtrek, kom ’n reservaatvoertuig aangery en vertel ons daar is ’n trop leeus net ’n entjie van Halali se hek af. Dit was ’n teken, en ons vat die pad terug Halali toe.

Ons ry stadig en hou ons oë oop vir die leeus. Die afwagting is tasbaar – selfs die kinders fluister. Hulle fluister só sag dat ek skielik ’n “plop”-geluid hoor by die regtervoorwiel, gevolg deur die ritmiese “tik-tik” van iets wat in my band gesteek het.

Ek hou stil, toevallig in die omgewing waar die leeus onlangs gewaar is, en nadat ek die wêreld deeglik bespied het, klim ek uit om die band na te gaan. Uit die band steek ’n 8 mm-bout met ’n groot vleuelmoer. Verder ry is buite die kwessie, want die band sal flenters skeur vóór ons Halali se hek haal. Ek sal die noodwiel hier moet opsit.

Stiaan-hulle hou langs ons stil en ek verduidelik my plan: Ek ruil die wiel en hy kyk uit vir leeus. Ek is nie besonder lus om van agter af deur ’n leeu bespring te word terwyl ek die wielmoere losdraai nie. Die gewigtige verantwoordelikheid laat Stiaan bleek om die kiewe, maar ons is banger vir ons vrouens wat die kinders by die huis wil kry as vir die leeus.

Kyk, daai dag sou ek Lewis Hamilton se kuipespan na amateurs laat lyk het. Dit is verbasend hoe vinnig adrenalien jou ’n wiel kan laat ruil. Onder die luide aanmoediging van my kinders en vrou binne die kar – en Stiaan se onheilspellende “Ek sien nog geen leeus nie” elke paar sekondes – het ek daardie dag ’n nuwe spoedrekord vir wielomruil opgestel wat seker baie lank ongeëwenaar sal bly.

Ek het die vleuelmoerbout as aandenking gehou en toe ons by die huis kom, het ek dit bo my braaiplek geplaas. Dit herinner my dat die onmoontlike met ’n bietjie aanmoediging wel moontlik is.

Die groot geheim is iemand moet agter jou staan en af en toe fluister: “Ek sien nog geen leeus nie.”

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook