Terwyl jy nou hier lees, is daar iewers in die Australiese outback ’n perd wat ’n groentjie-cowboy van sy rug af gooi dat hy doer trek. En reg oor die land hoor jy die gestotter van enjins soos die jong klomp wat op plase daar gaan werk, sukkel om ’n ratkas te verstaan. Pype is aan die bars, damwalle loop oor, en iewers het ’n nuweling pas sy eerste bulletjie gebrandmerk… met die nommer onderstebo!

Paula Cole vra tereg: Waar is al die cowboys dan heen? Wel, die regte Australiese cowboys is myne toe, waar hulle ’n ordentlike salaris kan verdien en in goeie lugreëling kan werk.

Die hardebaarde wat in die uitgestrekte binneland voortbeur, is seningrige ouens wat dingo’s jag, of argelose reisigers wat tevrede is met ’n Spartaanse blyplek, beesvleis vir ontbyt en die verleidelike skoonheid van die outback.

Dis juis dié verwronge verhouding van behoefte en voorsiening wat vir ouens soos ek – bleek omdat ek heeldag agter ’n lessenaar in Kaapstad sit – die geleentheid gee om my kleinseuntjiedrome na te jaag: Om ’n cowboy te word! Dit beteken ook die deursnee-Australiër moet twee keer soveel swets wanneer hy weer en weer take aan inkommers moet verduidelik.

En natuurlik wéér wanneer daardie take beoordeel moet word. Daar is iets aan dié ritueel wat inherent passief-aggressief is: Die aanhoudende gekopskud en mompel soos net ’n Australiër dit kan doen.

Om jou cowboy-kleure te verwerf word jy gestuur na ’n plaas net buite die dorp Goomeri in Queensland. Hier doen jy ’n blitskursus wat jou al die fasette van landbou probeer leer sedert ons oervaders ’n bees mak gestoei het. Alles word in net vyf dae ingeprop, maar daar is la-a-ang middagetes, en ná die middagtee om vieruur kom alles tot stilstand.

Jy leer ken een van die steunpilare van die Australiese werksetiek: vroeë huistoegaantyd.

Die kursus wat ek bygewoon het, is gereël deur ’n organisasie wat vir buitemense werk vind – hulle is veral goed daarmee om te swyg oor die ekstra koste. Hulle het darem elke aand roomyskoek voorgesit vir nagereg, wat dit darem ’n bietjie makliker gemaak het om hulle sondes oor te sien.

Joanna, ’n afgetrede Brit, bestuur nie net die organisasie nie, maar ook haar man, Dan. Op ’n keer moes iemand ’n boodskap vir Joanna neem, en tot sy skok moes hy uitvind Dan hou daarvan om bedags in sy Adamsgewaad by die huis rond te hang…

‘Dit maak nie saak hoe onbeholpe ’n cowboy is nie; jy is steeds ’n cowboy. Min dinge klop daai gevoel.’

Joanna het Darryl en Karen, ’n paartjie wat op ’n nabygeleë plaas bly, ingespan om van dié “klasse” aan te bied. Hoewel Joanna nie hulle dam se gans was nie – sy laat my ’n bietjie dink aan Heidi se juffrou Rottenmeier – het hulle haar verduur omdat sy hulle betaal.

Darryl het ons geleer hoe om hooibale met ’n trekker op die tel en te vervoer, en hoe om ’n boom met ’n kettingsaag te laat val. Karen het my geleer hoe om ’n heining reg te maak terwyl jy in ’n woordewisseling met jou eggenoot besig is – ’n kuns wat sy vervolmaak het. Die grootste deel van ons tyd het die handlangers egter net op motorfietse rondgespeel.

Ons het in ’n houthuis gewoon saam met drie rugsakreisigers wat meestal werkloos was: ’n Belgiese paartjie wie se verhouding in ’n wankelrige stadium was (hulle is kort tevore afgedank omdat hulle “nutteloos” is), en ’n Britse meisie wat om soortgelyke redes die trekpas gegee is. “Sy wil vee aanjaag, maar sy kan nie eens regop bly op ’n kantoorstoel nie,” het Darryl een oggend gemor.

Al drie van hulle was in ’n penarie: ’n Regte werk sal sorg vir ’n inkomste, maar dan is hulle die motorfietsspeletjies en roomyskoek elke aand kwyt. Rafael, die Belg, het een aand tussen gulsige monde vol roomys teenoor my beken: “As ons dié plek oorleef, kan ons maar trou.”

Op die laaste dag van die kursus het ons soos gesoute cowboys vee gaan aanjaag. Met motorfietse, quadfietse en tweedehandse perde het ons probeer om die vee terug in die kampe te kry (my perd was ’n hings met een oog, en sy naam was Penny).

’n Week later was ek op ’n regte beesplaas in Sentraal-Queensland, een van 330 000 akker (dis sowat 1 340 km² – massief, dus).

Daar het ek besef ons “oefening” op Goomeri was ’n foefie: Die stokou, verwilderde beeste daar word al jare lank elke Vrydag deur aspirant-cowboys kamp toe gejaag.

Hulle sou dit waarskynlik toe-oë kon doen, sonder enige aanmoediging.

Die vee wat ek nou moes aanjaag, was so wild soos buffels. Hulle moet jy kortvat met ’n selfversekerde ruiter, ’n helikopter… en ’n rits vloekwoorde.

En dit blyk hulle verstaan niks anders as daai dralende Australiese aksent nie.

Dit het elke keer soos ’n oorwinning in die kleine gevoel wanneer die laaste koei ingedagte die kamp indrentel.

Dit maak nie saak hoe onbeholpe ’n cowboy is nie; jy is steeds ’n cowboy. Min dinge klop daai gevoel. Daarby word jy ’n beter cowboy elke keer as jou perd jou afgooi of jou toesighouer jou die kop was. Ná ’n paar dae in die saal oor die wye kakie velde word jou John Wayne-stappie omtrent tweede natuur, en jy verdien elke yskoue bier wanneer die wolkies saans hoog in die lug pienk verkleur.

Die beste deel is egter as die nuwe ouens hulle met ’n kraakvars hoed en skoon stewels aanmeld. Dan het jy deur en deur die voorreg verdien om ál kopskuddend – en luidkeels – te mor elke keer wanneer hulle vergeet om die hek toe te maak en die vee alwéér sonder toesig sirkus hou.

* Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #120  van Oktober 2014 verskyn.