Nie ek of Katherine was al ooit in Namibië nie, en ons woon al jare in Kaapstad, minder as 600 km van die Vioolsdrif-grens af. Die besluit om in Namibië te gaan wittebrood hou, was dus ’n maklike een.

Dit was óf hierdie buurland waar jy in die oop natuurskoon kan wegraak en jou eie ding doen – en waar jou rand ’n rand is – óf duisende rand vir vliegkaartjies om op een van daardie pakketvakansies te gaan. Dis nou iewers in Mauritius of Zanzibar waar jy jou dae langs ’n hotelswembad verwyl saam met rooigebrande toeriste. Nee wat, in November verlede jaar besluit ons om noordweswaarts te mik na waar die roesbruin duine hulle voordoen as bergreekse en die mis kuslangs die see en sand grys inkleur.

Ons verkwansel ons karre – ek my getroue Polo en sy haar minder getroue Yaris – en koop ’n 2008 Toyota RAV4 vir die langpad. Met ons nuwe ou RAV sal ons die berugte grondpaaie kan trotseer wat blykbaar jou bande soos biltong in repies kerf en die kos in jou maag soos ’n voedselverwerker ruk en skud.

Agter in die RAV is ook genoeg pakplek vir die geleende Engel-ys-vrieskas, ’n rooster, platboompot, driehoek, kleresakke en First Ascent-tentjie wat vir twee weke ons wittebroodsuite in die ou Duitswes gaan wees.

Met die karpakkery in die oprit lewer my lewensvennoot vra-vra kritiek: “Gaan die yskas nie miskien beter werk as hy só lê nie?” En hoe meer sy reg is, hoe minder toeganklik is ek. Ek hou my binneste se deur net op ’n skrefie oop.

En hoe meer sy reg is, hoe minder toeganklik is ek.

Van Kaapstad af mik ons na Aussenkehr anderkant die grens. Die pad loop al langs die Oranjerivier wat in hierdie geweste net ’n stroompie is in ’n sandbedding vol golfpatrone van water wat eens op ’n tyd hier gevloei het.

Ons ry na Aus naby Lüderitz en vat die grondpaaie noord tot by Sossusvlei en Naukluft. Daarna is dit Spitzkoppe en Erongo toe, weer by Sossusvlei om, deur Solitaire en toe tot by Aussenkehr waar ons die sirkel voltooi met ’n bier in die hand en lyf in ’n swembad, presies soos ons begin het.

DIT MAAK NIE SAAK hoeveel internetblogs en hardebaarde jou teen die hitte in Namibië waarsku nie, jy begryp eers hitte wanneer jy in November met ’n seiltentjie in dié wêreld kamp.

Dis waarskynlik hoe ’n kakkerlak voel as hy ’n verkeerde afdraai in die kombuis maak en in die mikrogolfoond beland. Dit is versengend. Dit is nimmereindigend. Maar ons is pasgetroud, smoorverlief, en dit maak die hitte draaglik.

Namibië se kampplekke is ’n mooi soort rou. Alles is op sy plek tussen die klippe en die sand: Bobbejane, geselserige vuisgrootte voëltjies en insekte wat by sommige plekke soos ’n golf in ’n see van sand beweeg en lewendig kriewel as jy hulle van nader bekyk.

Waar insekte in die stad van jou handpalm af wegskarrel, bestorm enigiets wat leef en sweef in Namibië jou soos ’n infanterielinie. En jy wil hulle nie doodmaak nie, want hulle is oulike goeters, maar in oorvloed kan oulik ook maar deksels intimiderend wees.

Die eerste aand dink ons dit reën soos die vlieënde goed, aangetrokke tot die lig in ons tent, die tentseil soos Japannese kamikaze-vlieëniers bevlieg... Tik-tik-tik-tiktiktiktiktiktiktiktik... Stilte... Vrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrr... Dit is heelaand se storie, tot ons uiteindelik die liggie se vuurtjie blus.

In Sossusvlei en Erongo gee ons ons lywe en die tentjie rus en slaap by luukse plekke wat soos glinsterklippies in die Namib gestrooi lê.

NAMIBIË IS ’N GOEIE plek vir ’n mens, en des te meer vir pasgetroudes. Jy kry hier tussen die duine, rivierbeddings, doringbome en eindelose sandpaaie en met die vodde bande langs die pad baie met jouself te make, en dan ook natuurlik met die mens langs jou.

Nambië is 'n goeie plek vir ’n mens, en des te meer vir pasgetroudes.

Die Weg-joernalis Toast Coetzer het my vertel van ’n Hollander wat met vakansie in Namibië nie by die kar se ruit kon uitkyk nie omdat die eindelose niks hom eenvoudig oorweldig het. Dis amper iets soos  ’n mens wat op ’n boot seesiek word. Die brein sê blykbaar een ding en jou lyf registreer iets anders. Die gebrek aan prikkels is soos skoon bladsye waaroor jy met jou gedagtes kan krap en prentjies maak.

Jy praat met die mens langs jou met stilte, klein handgebare, en af en toe met ’n kyk. Gesprekke is nie ’n kabbelende stroompie nie, maar kom eerder in buie, wat dan loop soos die Oranje in vloed en dan skielik weer opdroog. Dan is dit weer net jy en die niks en jou gedagtes wat behoorlik kan vasvat wat pas gepraat was. Wonderlik.

VAN SOSSUSVLEI AF op pad na die Naukluft- nasionale park verdwaal ons. Die rit was veronderstel om twee uur te neem, maar vier uur later sit ons steeds en sweet in die kar op pad na die onbekende.

Ons moet die lugreëling afsit – om brandstof te spaar, want die tenk word al hoe leër. Die alomteenwoordigende niks kan ook lelike dinge inhou… Die gemaklike stiltes neem ongemaklike draaie en die gekrap in jou kop begin afsmeer aan jou kyke en handgebare. Wanneer jy praat, is jou woorde vol mismoedigheid. Maar ons bereik tog ons bestemming.

Naukluft het fantastiese staproetes en die kampplekke is nie te versmaai nie. Ek kamp al jare en mik vir een van die groter staanplekke waar jy behoorlik kan kamp opslaan, terugsit, vuurmaak en ontspan.

Die rit was veronderstel om twee uur te neem, maar vier uur later sit ons steeds en sweet in die kar...

Dis voor die hand liggend dit is die beste staanplek. Katherine wil egter teen die rivier en nader aan die natuur wees, maar dié plekke is klein en stowwerig... en waar gaan ons vuurmaak?

My geduld is minder en ek slaan die tent in doodse stilte op die sanderige sirkeltjie langs die droë rivierloop op. Oorkant my soek die bobbejane in die bome kos. Ons kampstoeltjies is net reggesit, toe is die brandwag en sy trop onderdane by ons. Wat doen ons nou?

Ons vlug ons tentjie in en sit binne terwyl die trop buite ons goed plunder en aas wat hulle wil aas. My skree verbreek ons lang stilte: “Ek het jou mos gesê!”

Ons het 4 000 km grondpad gery en ’n pap wiel gekry, is deur grensposte met mislike amptenare en ons is deur doodse hitte, ’n swart wolk vlieë, doolhofpaaie in Swakopmund… en dit sal ’n simpel kampplek met bobbejane wees wat die damwal laat meegee. Maar dis net myne wat meegee. Want die antwoord op my stilte is ’n sonstraalglimlag.

Is dít nie hoe elke dag moet wees nie?