Ek en my gesin het die Kgalagadi-oorgrenspark in Januarie besoek en in die Twee Rivieren-kamp tuisgegaan.

Ons het luiperds, leeus en jagluiperds gesien en was selfs gelukkig genoeg om ’n donderstorm in die Kalahari te beleef.

Op ’n oggendrit op die Laer-Duinepad het ons op dié strandjut afgekom. Hy het ’n stuk van ’n elandkarkas in sy bek gedra.

Ons het op wildritte baie elandkarkasse in die veld gesien. By navraag het ’n veldwagter vertel dat die elande uit die droër Botswana-deel van die park na die Twee Rivieren-gebied trek op soek na weiding en water.

Soms drink hulle dan te veel water op een slag, wat tot hulle dood kan lei. Dié karkasse is dan ’n voedselbron vir die aasdiere.

Genevieve Maasdorp van Sanparke sê:

Die elande in die park kry tans baie swaar omdat dit so droog is in Suid-Afrika én Botswana. Hulle lê lang afstande af en is ontwater en verswak wanneer hulle by die watergate aankom. Hulle is nie so bedag op gevaar nie, wat hulle ’n maklike prooi vir die roofdiere maak, en vrek dikwels omdat hulle te veel water drink en opblaassiekte ontwikkel.

Sanparke poog om water binne die park te verskaf sonder om met die gang van die natuur in te meng.