Die gids Bruce Arnott (23) en spoorsnyer Rob Hlatshwayo (49), werk nou saam in die Londolozi wildreservaat. ’n Mens sou nie sê daar lê ’n burgeroorlog, twee lande en ’n ouderdomsverskil van byna 30 jaar tussen die twee nie.

Hoe lank werk julle twee al saam?

Bruce: Sowat twee jaar. Ek het in 2017 by Londolozi begin. Rob werk reeds al meer as ’n dekade as spoorsnyer in die wildreservaat. Hy het al met verskeie gidse gewerk. Dit het my ’n rukkie geneem om sy manier van doen te verstaan. Hy moes hard werk om vir my goeie gewoontes aan te leer, soos dat jy jou ego moet laat staan en nooit te veel beloftes aan jou gaste moet maak nie.

Hy is een van die laaste oorblywende spoorsnyers; hy het in die bos grootgeword en as jong seun al die nodige vaardighede aangeleer. Ons het soms verskil (en soms geskree van frustrasie) maar ons het deurgaans dieselfde doel gehad: Om die beste moontlike ervaring aan ons gaste te gee. Ons het albei geweet dis net moontlik as ons ’n goeie vennootskap het.

Hy is een van die laaste oorblywende spoorsnyers; hy het in die bos grootgeword

Hoe het die dinamika tussen julle verander?

Rob: Dit het drasties verander. Bruce het sommer van die begin af by my huis in die vallei kom kuier en my vrou, dogters, broers en susters ontmoet. Hy het al ’n paar keer by ons oorgebly. Hy was ook by my troue. Ons maak ook planne om saam Mosambiek toe te gaan sodat hy die res van my familie kan ontmoet.

Bruce: By sy trou-onthaal moes ek ’n toespraak lewer voor ongeveer 350 mense!

Ek was die ene senuwees. Toe ek klaar gepraat het – in uiters gebrekkige Sjangaan – het byna al die gaste opgestaan – Rob ook – en hande geklap.

Rob: Ons wil saam ’n boek oor my lewe skryf; oor hoe ek uit die burgeroorlog in Mosambiek ontsnap en as spoorsnyer in Suid-Afrika kom werk het.

Bruce: Dis ’n ongelooflike storie. Rob se pa het hom en sowat 30 vlugtelinge deur die Krugerwildtuin gelei.

Wat is die belangrikste faset van julle verhouding?

Bruce: Vertroue. Ons verstaan en respekteer mekaar se rol. Ons kan dit nie sonder die ander doen nie.

As Rob die spore bekyk, bespied ek die omgewing vir diere. As ek na die spore kyk, spits Rob sy ore vir enige geluide. Ons is afhanklik van mekaar se sintuie.

Praat julle Sjangaan met mekaar?

Rob: Ons praat soms Sjangaan wanneer ons planne maak of oor die gaste praat: Lyk hulle gelukkig, ongelukkig, moeg, opgewonde, daai soort ding.

Bruce: Gaste staan soms regop in die voertuig en probeer die diere nader roep met kliek-geluide of handbewegings. Rob sal dan vir my in Sjangaan sê en ek sal die gas vra om liefs op te hou.

Hoekom het jy die taal geleer?

Bruce: Ek glo dat die beste manier om ’n band met mense te vorm is om hulle taal te praat. Die gemeenskap waardeer regtig dat ek die taal aangeleer het.

Rob: Almal is trots op Bruce. Daar is nie baie wit outjies wat die dinge leer wat hy al geleer het nie. Hy is ’n goeie student wat regtig belang stel.

Bruce Arnott
Foto: Bruce Arnott
Foto: Bruce Arnott
Foto: Bruce Arnott

Watse avonture het julle al beleef?

Bruce: Ons het al te voet op luiperds en leeus afgekom. Eenkeer het ’n swartmamba Rob so groot laat skrik dat hy van sy spoorsnysitplek op die enjinkap tot binne-in die voertuig saam met my en die gaste gespring het! Ons voertuig is ook al omsingel deur ’n spul aggressiewe volstruise, wat ook vir Rob agteruit laat vlie’ het.

Ek het soveel mooi herinneringe aan Rob wat my op sy geduldige manier leer om ’n leeu se spoor te volg. Op sommige plekke was die spore byna onsigbaar, maar elke keer sê Rob net “djonsa” wat beteken “leer.”

Gaan na blog.londolozi.com of volg @brucearnott op Instagram vir meer oor Rob en Bruce se avonture.