Hoe het jy in die joernalistiek beland?

 Ek was nie van plan om die regswêreld te verlaat nie. Ek het in 2007 sabbatsverlof geneem en drie maande deur Europa getoer. Dit was die eerste keer dat ek oorsee reis, en ek het begin skryf oor die mense en kulture wat ek teëkom.

In 2008 het ek bedank. My joernalistiekloopbaan het in 2009 met ’n paar twiets begin. “Microblogging” is ’n goeie manier om inligting te deel in die aanlynwêreld. Pleks van ’n lang artikel word stories in korter “happies” op Instagram of Twitter vertel.

Ek het daardie jaar ook begin met my blog Food and the Fabulous. In 2011 het dit ’n prys vir die beste Suid-Afrikaanse kos-en-wynblog gewen.

Verskeie redakteurs en televisievervaardigers het só van my te hore gekom. Sedertdien was ek bevoorreg om die wêreld vol te reis. Ek skryf onder meer vir National Geographic, Taste, Mail & GuardianFood & Home en Literary Hub.

En toe ek my kom kry, publiseer ek in 2017 ’n resepteboek: Curry: Stories & Recipes Across South Africa.  

Watter rol speel kos in jou lewe? 

Ek het die kos-en-wyn-wêreld eers in my laat twintigs ontdek. As kind was daar nie juis geld vir uiteet nie. Ons was ’n werkersklasgesin in Pietermaritzburg, maar daar was altyd ’n oorvloed eenvoudige, smaaklike kos.

Speserye is met die hand gemaal en groente en lensies was stapelvoedsel. My ouers het vars vis en seekos by ’n plaaslike visserman gekoop, en hoenders is in die agterplaas geslag. Hier praat ons van skrophoenders, soortgelyk aan Xhosa-mense se “running chickens”.

Aandete, gebedsfeeste... daar sou altyd ’n buurman of familielid opdaag vir ete. My oumas en oupas het gebly in buurte waar alles rondom die gemeenskap gedraai het. Rondom feesdae en tye van rou is daar saam-saam kosgemaak.

Tot vandag toe vereenselwig ek kos met plig, plesier, voedingskrag, medisyne en vreugde.

Niks smaak so lekker soos brood wat in ’n pan gebraai word met ekstra botter of brandrissiesous nie. My gunstelingmaaltyd bly my ma se krapkerrie.  

Watter bestemming wil jy ná die inperking besoek? 

Beslis Pietermaritzburg. Ek mis my pa verskriklik; ek het hom ’n jaar laas gesien.

Ek smag na my gunsteling-eetplekkies se bunny chows: Gounden’s in Umbilo, Hollywood Bunny Bar in Springfield Park en CaneCutters in Morningside.  

Wat moet buitelanders van SA weet?

Ek wens toeriste wil meer moeite doen om ons land se ingewikkelde geskiedenis en ongelykhede te verstaan.

As jy in Suid-Afrika toer en net in vyfster-hotelle bly, ervaar jy nie die land se hartklop nie.

Die Apartheidsmuseum is ’n móét vir enige toeris wat van Gauteng af na die wildreservate reis. Sodoende sal hulle meer genade en vriendelikheid teenoor haweloses en bedelaars op straat betoon.  

Wat is jou gunstelingland in Afrika? 

Ek het Tunisië in 2015 tussen twee terreuraanvalle besoek. Die Nasionale Bardo-museum in die hoofstad, Tunis, is in Maart aangeval (ek het die koeëlmerke gesien) en ’n strand naby die stad Sousse in Junie. Wat ’n ontnugtering om te dink dat ek ’n paar dae tevore op dié strand gestap het!

Ek het twee weke lank deur die land gereis en die nuus fyn dopgehou. Die land was op sy knieë, en herstel nog. Stede soos Parys, Barcelona en New York het ook onder terreuraanvalle deurgeloop, en kry meer ondersteuning wêreldwyd gekry as Tunisië.

Ek kon ’n paar van my stories nie plaas nie omdat die publikasies versigtig was vir die politieke situasie. Maar ek was gaande oor die land se kultuur, argitektuur, kos en geskiedenis – en het kontak behou met baie van die mense wat ek ontmoet het.

Watter boeke lê op jou bedkassie?

The Collected Poems van Audre Lorde en Pravasan Pillay se Chatsworth. Ek lees ook How to Be an Antiracist deur Ibram X. Kendi en The Thing Around Your Neck deur Chimamanda Ngozi Adichie op my Kindle. En dan luister ek na ’n paar boeke op die Audible-app.  

Wat is jou raad aan aspirantjoernaliste? 

Wees lief vir jou veld, doen deeglike navorsing en tree uit jou gemaksone. Jy gaan dikwels goed moet doen waaraan jy nie gewoond is nie, soos kamp! Goeie tydsbestuur is noodsaaklik – jy het dikwels verskeie sperdatums en jou redakteur sit in ’n ander tydsone.

Die mense met wie jy praat, is altyd belangriker as die storie – skryf eerlik en met respek.

Bevraagteken alles! Jou werksetiek moet onberispelik wees. Vertrou jou instink, gee die gids ’n fooitjie, en onthou ekstra batterye en geheuekaarte. My notaboek het ’n waterdigte oortreksel – ek is uiters voorbereid!  

Wat is die grootste uitdaging van dikwels op reis wees? 

Ek hou van die vryheid en verskeidenheid, maar dis moeilik om ’n roetine te handhaaf. Namate ’n mens ouer word, word dit meer van ’n uitdaging. Ek loop verjaardae mis, en tyd saam met my familie.

’n Paar oorlewingswenke: Neem ’n goeie vitamien C-aanvulling, hou aan oefen al is jy nie naby ’n gim nie (die Nike Fitness Club-app is gratis), smeer ’n hoëfaktorsonroom aan en eet vrugte en groente met ’n hoë waterinhoud, soos komkommer. Dit sorg dat jy nie ontwater nie. Ek was al drie maande op ’n projek waar ek net wegneemetes geëet het. Ek het só baie gesmag na ’n bord rys, dhal en gepiekelde mango!

Volg Ishay op IG by @ishaygovender of gaan na ishaygovender.com. Sy werk ook aan sapoctable.com (South African People of Colour at the Table) wat meer geleenthede in die voedselbedryf wil skep.

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook.