Was jy nog altyd ’n langasem? 

Glad nie! As ’n tiener wat in die Kaap grootgeword het, was ek mal oor die see en branderplankry. Tipies, nè? My liefde vir die berge het eers later ontwikkel. Die berge voel bloot soos ’n verlenging van die oseaan.

Net soos branderplankry my destyds die see laat liefkry het, verbind hardloop my nou met die berge. Hoog bo in die berge vergeet ek van die alledaagse gejaag; en ek geniet die oomblik.

Hoe het die 13 Peaks Challenge ontstaan?

Ek wou kyk of dit moontlik is om op een dag ’n sirkelroete in die Kaapse Skiereiland tussen my gunstelingpieke te hardloop. Die beroemde Big Rounds-roete in die Verenigde Koninkryk was my inspirasie – op dié roete hardloop veldatlete tussen 113 pieke in Engeland, Wallis en Skotland. Ek het een aand ’n rowwe roete geskets en die afstande het heel haalbaar gelyk – ek het sowat 55 km geskat.

Ek het my vriend Kane Reilly oortuig om dié roete saam met my te toets: 19 uur later het ons by die berg afgekom nadat ons meer as 100 km gehardloop en die terrein oor sowat 6 000 m gestyg het! My skatting was toe verkeerd... Op die ou einde het ons net 12½ pieke bereik – ons kopligbatterye het die gees gegee. Maar ons was dit eens: dié roete was een van die mees epiese avonture wat ons al aangepak het!

Wat behels die roete?

Dit begin en eindig by Vlaeberg. Van Vlaeberg af klim jy Leeukop uit en beweeg na Maclear se Baken. Daarna wag Grootkop, Judaspiek, Klein-Leeukop, Sutherpiek, Chapmanspiek, Noordhoekpiek, Muizenbergpiek, Constantiaberg, Klassenkop, Duiwelspiek en weer terug Vlaeberg toe.

Die 13 Peaks Challenge is ’n puik manier vir Kapenaars en besoekers om die berge naby die stad te verken.  

Maar die meeste mense is nie atlete nie... Natuurlik. Net fikse en voorbereide mense kan 116 km op een dag aflê. Daar is ook ’n eendag-, tweedag- en veeldagkategorie, elk met sy eie kenteken.

Die uitdaging is nie spoed nie. Ek wil eerder mense aanmoedig om een van Suid-Afrika se toeganklikste wildernisgebiede te verken. Soms kies mense die veeldagopsie, maar dan byt die gogga hulle en mik hulle vir vinniger tye en doen aansoek om die tweedag- en dan die eendag-uitdaging.  

Wat is die grootste aantrekkingskrag van die Kaap se berge?

Dis toeganklik vir almal. Ek was gelukkig om aan wedrenne wêreldwyd deel te neem, soos die Gobi March in China, die Western States 100 Miler in die VSA en Racing the Planet in Madagaskar. Kaapstad se berge en roetes hoef geensins terug te staan nie!

Wat beteken die roete vir jou?

Dis wonderlik om te sien hoe mense in my gemeenskap die uitdaging aangryp en weer op die berge verlief raak. ’n Vrou wat van kanker herstel, het die veeldagroete saam met haar vriende aangepak. J.J. de Villiers van die Houtbaai-misdaadbekampingseenheid het die roete oor ses dae saam met sy maat Garth Loots afgelê.  

Wat is jou gunsteling-uitkykpunt?

Grootkop is een van die Gewelberge langs die Atlantiese kus. As jy bo-op die kop staan, kan jy noord sien tot by Leeukop, en as jy suid kyk, kan jy die hele Skiereiland tot by Kaappunt sien strek. Dis spesiaal om hier te staan terwyl die son opkom! 

Ryan woon in Noordhoek saam met sy vrou, Vanessa, seun, Max, en hulle hond, Thandi. Gaan na 13peaks.co.za vir meer inligting. Kyk na Ryan se indrukwekkende ultra-afstandsuitslae op ryansandes.com