SKETSE: NICOLENE LOUW

’n Tradisie vir elke smaak

Deur Marcelle van Niekerk

As ek aan Desember dink, sien ek die steil Piekenierskloofpas op pad na Citrusdal voor my geestesoog. Dís waar die familieplaas is en waar ons gesin dikwels vir ’n naweek kom uitspan – maar vir my is dit bowenal ’n Krismisplek.

Elke jaar het ons gesin dieselfde gesprek ’n paar weke voor Kersfees: Hoe lyk die weer op Citrusdal? As die kwik bo 42°C draai, moet ons elders gaan vakansie hou.

Maar niks voel vir my so reg soos ’n Citrusdal-Kersfees nie: Die fel somerson wat op die rye lemoen- en nartjiebome skyn, die blare onnatuurlik groen, en die oranje tapyte op die landskap waar perskes en appelkose uitgedroog word.

My ma het twee broers en drie susters, en álmal se gesinne is hier vir die Feestyd. Die plaas behoort aan my ooms, maar daar is ’n huis wat spesifiek vir die uitgebreide familie gebou is, met ’n kamer vir elke suster se gesin.

Wanneer ons opdaag, groet die familie van die stoep af, die meeste reeds met ’n bier of glas wyn in die hand.’n Tros kinders hol jillend verby om die koppie agter die huis uit te klouter – ’n moeë ouer draf agterna om ’n oog oor die kleinstes te hou. 

’n Paar van ons word ingespan om versierings op te hang. ’n Tradisionele Kersboom sal mettertyd verskyn, maar intussen versier ons ook ’n groot boomtak wat in ’n blik staangemaak is. Dié Kerstak word nooit weggebêre nie. Nee, die versierings word (dalk) afgehaal, maar die tak bly net daar. Tot volgende jaar.

Op Kersdag bars ’n uitbundige harlaboerla los. Kinders hardloop met hulle nuwe speelgoed om die bene van grootmense wat verwoed kosmaak in ’n beknopte kombuis – daar is altyd hopeloos te veel kos vir die dag. Tradisionele geregte soos hoenderpastei en lamsboud ding mee met gebakte eiervrug of dalk ’n Griekse gereg soos spanakopita vir spasie op die tafel – daar is nie juis ’n tema vir die spyskaart nie. Almal maak waarvoor hulle lus is, en álmal hou van kosmaak.

Ná ete word die opblaasswembad volgetap en maak ons beurte om te dobber – ’n stukkie fynbos kielie dalk jou voet waar dit oor die rand van die swembad hang en die reuk van poeding wat amper gereed is, vul die lug.

Ná ’n middagslapie sal my pa hom tuismaak op die stoep met sy kitaar, gereed om tot laataand liedjies te speel (“Stille nag” word dalk afgewissel met “Hotel California”).

Dié warboel van Kerstradisies is net so uiteenlopend soos die talle kleurryke persoonlikhede in ons familie. En daar’s altyd nóg iemand in die stamboom wat dalk dié jaar kom kyk wat op die plaas skud.

Maar dis mos ook ’n geskenk, of hoe?

Sorgvry langs die swembad

Deur Kyra Tarr

Die swembad op Folly Hill, my familie se kleinhoewe naby Hilton in KwaZulu-Natal, is groot en onprakties – dis diep, het geen trappies nie en is byna 200 m van die plaashuis af. En ons is mal daaroor.

As kind was die swembad die spil waarom my somersdae gedraai het. Terwyl my pa die swembadfilter teruggespoel het, aan’t mor oor die “simpel” Kreepy Krauly “wat nie sy werk doen nie,” het ek al om die rand geloop om met ’n net paddas uit die chloorwater te red.

Maar sodra ek hulle losgelaat het, het hulle teruggehop water toe! Lawwe goed, het ek gedink, en hulle eerder in die perde se waterbak gaan neersit.

Ek het verlede jaar honderde paddavissies in daardie einste waterbak ontdek – ek wil nie spog nie, maar ek dink ek is die held van die paddabevolking van Folly Hill!

“Daar is hopeloos te veel diere en plante hier,” het my ma eenkeer aangekondig ná ’n onderonsie met ’n slang in die stort. Sy is ’n Namakwalander, en die welige landskap van die Middelland ontsenu haar. “Dis te groen…” hou sy vol.

Teen die tyd dat my niggies en nefies uit Johannesburg vir die Desembervakansie kom kuier het, was die swembad ’n blink, blou poel met ysige water wat nooit wou warm word in die son nie.

Ons het net ná ontbyt al swembad toe gemik en heeldag in die water gespeel: Marco Polo, resiesjaag, asem-ophou, gesinchroniseerde swempassies, handstane, agteroor bollemakiesie slaan...

Ons het net uitgeklim om nat lywe en al iets te ete in die kombuis te gaan soek. As bederf het my pa soms vir ons waatlemoenstukke gebring waaraan ons kon smul terwyl ons watertrap.

Af en toe, terwyl ons op die gras langs die swembad gelê het, het donderweer oor die Winterskloofvallei gerammel. Die lug het skielik onheilspellend verdonker...

Ons het ons handdoeke, visplakkies en lilos opgeraap en na die stoep genael.

’n Weerligstraal het deur die lug geklief. One Mississippi, two Mississippi, three Mississippi… het ons gewag vir die dreuning.

Só het ons beraam hoe ver die oog van die storm was – ’n kilometer vir elke Mississippi. Daar is steeds vir my niks so opwindends soos ’n donderstorm nie.

’n Halfuur later sou die storm net so vinnig oorwaai as wat dit opgesteek het, en ’n nat, stil landskap agterlaat.

Ná ’n warm bad het ek my tussen my ouers op die rusbank ingewurm of langs my boerboel, Sam, opgekrul. Sam was bang vir donderweer en het altyd saam met ons rugby gekyk. (Hy het die Haaie ondersteun, al het ek gereeld verduidelik hoekom die Stormers beter is.)

Op sulke aande is ek aan die slaap gesus deur die klank van die grootmense se gelag en klinkende glase. In my drome het ek steeds in die swembad gedryf.

Om te onthou...

Deur Esma Marnewick

Wat maak dat jou brein ’n spesifieke insident of detail onthou? As ek dink aan my eerste somervakansies op Stilbaai, onthou ek modderkoekies bak by die watertenk agter my ouma se huis, die gekoer van duiwe, die gebreide oortreksel op die toiletsitplek, én die keer toe my nefie baie meer geld by die tandmuis gekry het as ek...

My ouma het dié koelste huis gehad – dit was ’n groot rondawel met kamers aan die kante en ’n lang eetkamertafel in die middel. Ná my ouma se dood het die familie verskuif na my tannie se strandhuis naby die hawe.

Kersfees het altyd ’n sekere verloop geneem. As kinders was Oukersdag die la-a-angste dag van die jaar. Ons moes wag totdat dit donker word voor verrigtinge kon begin. Hier teen sononder sou Kersvader op ’n bruin perd tussen die strandhuise deurry, dan het ons begin regstaan.

Ons sou almal om die Kersboom gaan sit met die blaadjie met Kersliedere wat my ma een jaar getik het. My oom sou die Kersverhaal uit Lukas lees en ons trekkerig saam sing: “Stille nag,” “Ek sien ’n nuwe hemel kom” en so aan. Daar was nie juis enige musiek-talent in die familie nie, maar een jaar het my neef ’n Kerslied op ’n blokfluit gespeel. Dié gewyde oomblik is effens bederf toe ons Walliese corgi, Toffie, begin saam huil het.

Nadat die geskenke oopgemaak is, het die kinders met hulle nuwe poppe of karretjies gespeel en die grootmense tot laatnag wyn gedrink saam met ’n vingerete – Weense worsies met ’n doopsous, kouevleise, sult en uitpakslaaie.

Ek dink my tannies het hierop besluit nadat dit twee Desembers ná mekaar gestortreën het én die krag af was op Oukersaand en hulle toe wors moes bak op die gasstoof.

Kersdag braai my pa Griekse skaapboud. In die ou dae het my ma en pa dié boud self ontbeen en voorberei. Deesdae koop ons sommer ’n klaargemaakte een by Checkers. Wat wel nie verander het nie, is die bykosse: slaphakskeentjies, drieboneslaai en tuisgemaakte mosterd. En, natuurlik, die poeding. Ek eet net een keer ’n jaar cassata en dis my tannie s’n, op Kersdag. Kersaand sou ons bordspeletjies speel en koue oorskietkos eet.

Op Stilbaai het die jolyt voortgeduur, want op Welwillendheidsdag was dit die jaarlikse touchies-toernooi! As tiener was dit natuurlik ’n hoogtepunt, maar al wat ek nou daarvan kan onthou, is ’n spul ouens in PT-shorts wat mekaar in die sand tackle terwyl ouens met óf ’n bierboks óf ’n halwe waatlemoen op hulle kop vir hulle kyk.

Party aande het ons gaan dans by die 3 Ankers-klub – daar was meel op die dansvloer gestrooi en jy kon R2 kry as jy ’n leë glas terugvat na die kroeg toe (sommige aande het ek en my suster ’n hele paar rand gemaak).

Bad Boys Blue se “The Queen of Hearts” was byna elke aand op die speellys. Jinne, sulke sorgvrye dae...

My ma het pas 70 jaar oud geword en my oom word vanjaar 80. Ek kan nie help om te voel dis die einde van ’n era nie.

Ek kan maar net hoop dat my kinders ook eendag sulke wonderlike herinneringe van hulle somervakansies sal hê.

Kersliggies met ’n kinkel

Deur Martinette Louw

As kind wou ek eendag in die Kersliggiedepartement van die Upington-munisipaliteit werk. (Ek weet nie of daar regtig so ’n departement is nie – dis waarskynlik die verantwoordelikheid van een oorwerkte staatsamtenaar – maar wie stry nou met kinderlogika?)

Die inspirasie vir dié ongewone lewensdroom was eenvoudig: Elke Desember word Upington se hoofstraat omtower in ’n wonderwêreld van Kersliggies. Elke straatligpaal word versier met ’n flonkerende prentjie. Ek kan onthou dat dié liggies, en die persoon in beheer van die ontwerp daarvan, eens getrou was aan die Kerstema. Ons Upingtonners het ons gaan verwonder aan sneeuvlokkies (in die middel van die Kalahari-woestyn!), pronkende takbokke en engele met harpe.

Maar een jaar het die liggie-ontwerper ’n ander, ongewone rigting ingeslaan en my verbeelding aangegryp. Misteltakkies was uit, en Michelangelo, Leonardo, Donatello en Raphael was in.

Nee, daar was nie ’n skielike opbloei in belangstelling in die kunstenaars van die Italiaanse Renaissance in die Noord-Kaap nie, maar die vier Teenage Mutant Ninja Turtles het wel ’n kameeverskyning tussen die Kerstonele gemaak...

Nou kyk, as vier skilpadbroers met katana-swaarde die rioolpype van New York vir die warm teerstrate van ons ou dorpie kon verruil, dan is enigiets mos moontlik!

Dié ninjas was nie die enigste onverwagte gaste nie: Timon en Pumbaa uit The Lion King, ’n dolfyn wat in ’n sierlike boog spring, en ’n rob wat ’n bal op sy snoet balanseer, het ook vrolik in al die kleure van die reënboog geskitter.

Dié liggie-ontwerper se kreatiweit het ook oorgespoel na die woonbuurte. Bure het saamgespan en hulle strate met liggies versier. In ons buurt het die inwoners van Mazurkadraai die voortou geneem. Elke boom, paal en hek het ’n string liggies om gekry en draadvorms is gebuig om sterre, kruise en kerse te maak. Kersvader (of ’n pop wat verdag baie soos hy lyk) het ook in ’n hele paar skoorstene vasgesit.

Ons het nie ons eie voortuin versier nie, maar wel byna elke naweek gaan liggies kyk. Ons het net ná sononder saam met ander Upingtonners die strate ingevaar. Kinders het by oop vensters uitgehang en stringe motors het verby die liggies gekruie. (Ek het al selfs ’n rusbank agterop ’n bakkie gesien. As jy gaan liggies kyk, doen jy dit met styl – en gemak.)

My ouers bly nog op Upington en die familie trek elke jaar daar saam.

Dis twintig jaar later, maar elke Desembervakansie klink die volgende ses woorde steeds vir my soos ’n towerspreuk: “Kom ons gaan kyk vanaand liggies.”

Strandmere en straatkrieket

Deur Shelley Christians

My grootouers het ’n vakansiehuis gehad op Kleinkranz naby Wildernis in die Tuinroete. Elke Desember het ons familie van reg oor die Noord- en Wes-Kaap by hulle huisie bymekaar-gekom. My oom het in die huis langsaan gebly en ons het heeltyd oor en weer gekuier – hulle het selfs ’n deel van die muur tussen die huise afgebreek om dinge makliker te maak.

My grootouers was dol oor die plek en dis maklik om te sien hoekom: Die Tuinroete se woude, strandmere en goue strande staan in sterk kontras met die droë vlaktes en bossies van hulle tuisdorp, Calvinia, in die Hantam-Karoo.

Kleinkranz is ’n klein kusdorpie, maar daar was altyd baie ander kinders en ons het vinnig maats gemaak en heeldag in die strate gespeel. Ek was ook mal daaroor om op my eie te gaan rolskaats. Daar was slegs een ingang tot die dorp; dus was daar min verkeer en dit was veilig. Straatkrieket was natuurlik nog ’n hoogtepunt. Ek was ’n regte rabbedoe en kon ure aaneen kolf. Ek het soos ’n superster gevoel wanneer ek die bal kon moker tydens ’n seun se boulbeurt. My veldwerk kon ook vir Jonty Rhodes uitdaag – of altans, dis wat ek toe gedink het! Ons sou net lank genoeg ophou speel om winkel toe te hardloop om ’n koue bompie (yslollie) te gaan koop.

Ek het ook graag saam met my pa gaan visvang in die strandmere, al het ek net blaasoppies uitgetrek... Dis nogal ’n gedoente om die vishoek uit te haal wanneer die blaasoppie hom oppof – hulle stekels is giftig! – maar ek het hulle altyd teruggegooi in die water.

Op Kersdag het daar altyd ’n feesmaal by die huis gewag. Die tafels het gekreun onder seekosgeregte, geroosterde lam, hoender, kalkoen, aartappels en verskeie nageregte – ons kon nooit alles opeet nie. Maar dit was nie ’n probleem nie, want ons het die oorskiet ingepak vir ’n piekniek op die strand by Buffelsbaai die volgende dag, waar ek en my ma saam in die bruisende branders geswem het.

My vakansies as kind was baie spesiaal en ek is dankbaar dat my seun TJ twee Desembers in Kleinkranz saam met my ouers kon deurbring. Hy was baie klein, maar het vol stories van vakansiepret huis toe gekom. Ons hou Kersfees deesdae in Kaapstad en sy vakansieherinneringe gaan dalk ’n bietjie anders wees as myne, maar dis die tyd saam met familie wat tel!

Baiesukkel vir ’n bicycle

Deur Vania Jooste

Ek kan nie aan net een spesifieke Desembervakansie dink wat uitstaan nie… ’n Kind se herinneringe vloei mos maar ineen. Wat ek wel onthou, is familie en vriende wat kom kuier en oustories gesels, laat slaap, roomyskarretjies, stoepsit, sterrekyk, koekies bak, lekker (en baie!) eet, see toe gaan en hope speletjies speel soos wegkruipertjie en vroteier. 

’n Desembervakansie se hoogtepunt is mos maar Kersfees en een ding wat ek wel nie kan kleinkry nie, is hoekom ek nooit ’n fiets onder die Kersboom gekry het nie.

Ek het twee broers wat albei van tyd tot tyd met nuwe wiele gespog het. Eenkeer het my oudste broer se splinternuwe goue Raleigh weke lank net in die motorhuis gestaan omdat hy sy arm gebreek het – ek kon maar net verlangend na die blink speke staar.

En dan was daar die jaar toe my jonger broer se fiets in my kamer weggesteek is as verrassing vir hom!

Ek weet nou nog nie wanneer ek regtig leer fietsry het nie. Soms het een van my broers my toegelaat om op sy fiets te ry, maar net vir kort entjies in die straat... en ons het in ’n doodloopstraat met net vier huise gebly.

Ander kere het ek die fiets “geleen” wanneer hulle nie by die huis was nie. (Ook het ek my ouer broer se rolskaatse skelm gebruik, en dit was seker drie keer my skoengrootte.)

My pa is al baie jare oorlede, maar een van ons heel laaste gesprekke – enkele dae voor Kersfees – was oor die fiets wat ek nooit gekry het nie. My pa het nogal sleg gevoel en ons kon nie uitpluis hoekom ek nooit my eie wiele gehad het nie.

Ek was tog nooit skaam om te vra as ek iets wou hê nie, en my ouers was nie mense wat geglo het fietse en touchies is net vir seunskinders nie. Ek het vir my pa vertel hoe my broer my vermaak het en dat ek altyd bittergraag ’n eie fiets wou hê – dalk ’n bloedrooi BMX… Hy was verbaas dat ek hom so laat in my lewe eers van my fietsversugting vertel het.

’n Ruk gelede het ek en ’n vriendin fietse op die Seepunt-promenade in Kaapstad gehuur en ’n ent gaan ry. Dit was die eerste keer in járe en ek het dit gate uit geniet! Dis ’n nuwe jaar en ek het steeds nog nie ’n fiets vir myself gekoop nie – dis tyd.

Die lang wag vir Nuwejaarsdag

Deur François Haasbroek

Ek het altyd presies geweet wat om te verwag van my somervakansie. My pa het gehou van roetine, en vakansies was g’n uitsondering nie: Hy het altyd die eerste helfte van Desember gewerk en ons het by die huis gebly tot net voor almal terug om van vakansie af – dan eers kon ons see toe gaan.

Die laaste week van die vierde kwartaal by die Hoërskool Ladismith was eintlik klaar vakansie. Jy kon met gewone klere skool toe gaan en daar was geen klaswerk om te doen nie. Die jaarlikse eksodus het begin sodra die laaste saalbyeenkoms verdaag en die dorp het gou leeggeloop.

Dalk is “eksodus” nie die regte woord nie – dit was eerder ’n migrasie, want baie van Ladismith se inwoners het vir ’n paar weke na óf Stilbaai óf Hartenbos verskuif. Daar was meer voertuie met CBL-nommerplate in Stilbaai se woonwapark as op Ladismith!

Die eerste helfte van die vakansie het die Haasbroeke Jan Tuisbly se karretjie deur die dorp se meestal verlate strate gery. Ek was darem nooit te verveeld nie, want daar was altyd nog ’n kloof in die Klein-Swartberg om te verken of nog ’n sementdam om in te swem.

Ten minste het ek en my sibbe elke jaar presies geweet hoe lank ons moes vasbyt, want op Nuwejaarsdag het ons ook na Stilbaai vertrek. Ná Kersfees, wat ons gewoonlik langs die dam op my oupa se plaas naby Barrydale deurgebring het, kon ons ook begin opgewonde raak oor ons seevakansie. Tog het ons geweet daar wag nog een hekkie: die middernagdiens op Oujaarsaand.

Die diens het om elfuur begin, maar die dominee se tydsberekening was gewoonlik ’n bietjie uit – sy preek was soms 20 minute voor middernag reeds afgehandel. Almal het dan in stilte geluister hoe juffrou Hester Krige se aflos die orrel speel (juffrou Krige was ook by die see). Dis baie moeilik om stil te sit as jy weet jou vriende kyk vuurwerkvertonings op Suid-Kaapse strande...

Om middernag het die kerkklokke begin lui, die dominee het hande in die lug die nuwe jaar geseën, en die gemeente kon huiswaarts (of seewaarts) keer.

My ma sou die volgende dag my pa se geduld beproef deur nog ’n strandsak langs die kar neer te sit net nadat hy die Venter-waentjie se klap toegeforseer het, maar selfs dit kon nie ons opgewondenheid blus nie. Met die waentjie gehaak en die Monopoly-stel in die agterruit het ons vroeg op Nuwejaarsdag in die pad geval.

Tussen Ladismith en Stilbaai was die verkeer van voor ’n stroom woonwaens, vol bruingebrande vakansiegangers op pad huis toe. Maar óns vakansie het pas begin.

Net régte sneeu, asseblief

Deur Marijcke Dodds

Toe ek uit die Schiphol-lughawe in Amsterdam stap, het die snerpende skemerlug my asem weggeslaan. My ore het probeer sin maak van die aksente rondom my en die koue het deur my koordferweelbroek en Ackermans-trui gesny. Ek het deur my neus probeer asemhaal, maar die skerp lug het gebrand. Dit het onwerklik gevoel. Skaars ’n paar uur gelede het ek nog in ons sonnige tuin in Pacaltsdorp op George gespeel.

Ek het in Desember 1977 saam met my ouers, suster en broer na Nederland getrek. Ek was vyf jaar oud. My pa het ’n beurs ontvang om sy doktorsgraad in teologie in Kampen te voltooi.

’n Gasheer het ons na die woonstel geneem waar ons vir die volgende agt jaar sou woon. Ons was nou in ’n vreemde wêreld waar Desember nie sinoniem was met pieknieks op die strand, koue waatlemoen en koekstruif nie.

Later sou ons hoor dat die winter van 1977 besonder koud was. Ek het gou aangepas en die idee van warm drankies in Desember, sentrale verhitting en speculaas (Nederlandse koekies met speserye) omarm.

Ek kan nie veel van daardie eerste winter onthou nie, maar wel die betowering van die winters wat gevolg het. Skole in Nederland sluit vir net twee weke in Desember omdat hulle ’n lang somervakansie in Junie en Julie kry. In die aanloop tot die Kersvakansie hou almal die loodkleurige lug en die weervoorspelling dop en hoop op ’n wit Kersfees.

Ons het op die vyfde verdieping van ’n woonstelblok gebly met ’n uitsig op ’n kanaal waar ek leer ysskaats het. My eerste skaatse was ’n paar “houtjes” wat jy met leerrieme aan jou skoene vasbind, ’n geskenk van ’n gawe buurvrou.

Ek en my broer en suster het die weer deur die dubbellaagglas van ons kamervenster dopgehou en ons het rondgespring van opgewondenheid sodra ons die eerste koue kristalle gewaar het. Maar sou die dwarrelende sneeuvlokkies vinnig smelt, het ons gewonder. Jy het die regte soort sneeu nodig om ’n sneeuman te bou of ’n sneeubalgeveg te hou. Dit moet ook dik genoeg wees vir ’n slee om daaroor te gly.

“Natte sneeuw” lyk soos gewone sneeu, maar smelt sodra dit op die grond val. Poeiersneeu is sag, lig, los en droog soos katoen; dit lyk ’n bietjie soos versiersuiker. Maar soos versiersuiker los dit ook op wanneer dit nat word.

Ons het gewag vir régte sneeu – groot, swaar sneeuvlokkies wat die strate, tuine, en motors onder ’n wit kombers sou toegooi.

Ons gesin kon nie bekostig om weg te gaan vir vakansies nie – my pa was immers ’n student – en ons was ver van familie, maar tog was Desember altyd ’n gelukkige tyd.

Ons kinders het ons in lae klere toegewikkel en buite gespeel totdat ons nie ons tone kon voel nie.

Ek het lanklaas ’n wit Kersfees gehad, of selfs net ’n koue een. Maar ek sien uit daarna om my kinders strand toe te vat hierdie Desember, waar die knars van nat sand onder jou voete klink soos dié van digte sneeu onder jou stewels. En die koue water van die Atlantiese Oseaan in Valsbaai óók my asem sal wegslaan.

Witwarm in die wildtuin

Deur Mia Louw

Somer in die Laeveld tref jou soos ’n kolskoot tussen die oë. In Mpumalanga loer die son se strale al teen 5 vm. oor die granietkoppies om die aarde warm te bak. Die hitte en humiditeit bou geleidelik op en verligting rol eers teen laatmiddag saam met ’n donderbui in.

Somer is nie die gerieflikste tyd om die Krugerwildtuin te besoek nie. Die veld is ruig, die lug bedompig en die muskiete dra jou mét jou G&T en al weg. Die meeste Laevelders vlug kus toe, na Mosambiek of KwaZulu-Natal, maar in Desember 2011 moes ek ’n uitsondering maak.

Ek en Hancu, nou my man, was toe tweedejaarstudente aan die Rhodes-universiteit in Makhanda (Grahamstad). Ek het reeds sy ouers ontmoet en sy tuisdorp, George, besoek. Dit was tyd vir hierdie Kapenaar om die Krugerwildtuin die eerste keer te sien, ondanks die snikhete somer. Want waarvoor staan George se CAW-nommer-plaat nou weer? Cold And Wet?

Ons het douvoordag uit Mbombela na die Numbihek vertrek in ’n Honda Ballade-model uit die 1990’s. Die kar se lugverkoeling het jare gelede al die gees gegee.

Op Hazyview het ons by ’n padstal stilgehou en Hancu, verstom deur die verskeidenheid en goeie pryse, is met ’n krat mango’s en ’n sak lietsjies daar weg.

Teen laatmiddag was ons by ons rondawel in Pretoriuskop, met ’n vleisie op die kole en die lietsjies wat in G&T week.

As arm studente het ons natuurlik die goedkoopste blyplek gekies: ’n Knap rondawel met ’n wasbak, twee enkelbeddens en ’n lui dakwaaier – ons romantiese planne was gou by die piepklein venster uit.

Pretoriuskop het ’n groot swembad teen ’n rotshelling waarlangs ’n stroompie kabbelend die poel invloei. Ons het egter nie ons dae by dié oase deurgebring nie, want ek wou die hele wildtuin vir Hancu wys, insluitend die Berg-en-Dal-ruskamp (waar ek as kind gekamp het), die Afsaal-piekniekplek en Mlondozidam. Om sonder lugverkoeling in die bosveld te ry in temperature wat by 40 °C draai, was ’n behoorlike toets vir ons verhouding.

Ons het darem gou ons les geleer en ons laaste dag langs die swembad verwyl. Teen dié tyd was ons vleis opgeëet en die G&T’s gedaan, maar ons het gesmul aan gebraaide groente, sommer net so uit die foelie uit. Ons het heeldag op die gras onder ’n boom ontspan en gekyk hoe ’n jong bobbejaan blouapies tart en al om die swembad jaag. Selfs Kees het geweet: As dit somer in die Laeveld is, bly jy liefs naby die water.

’n Kersfees soos Bing s’n

Deur Pierre Steyn

Het jy al agtergekom hoe min liedjies ’n Somerkersfees verheerlik? Suid-Afrikaanse kinders (en hulle ouers) sing maar togte lekker saam met Bing Crosby se “White Christmas” wanneer die Kerstyd aanbreek. Hoe ironies om van sneeu te sing, en dan vir Pa te vra om die motor se lugverkoeling sterker te stel omdat jy sweterig aan die agterste sitplek (en jou boetie of sussie!) kleef.

Dit maak nie saak dat die weergawe van Kersfees wat Hollywood aan ons opdis, die teenpool is van wat ons in die middel van die somer hier in die Suidelike Halfrond beleef nie. Ons is gelukkig solank daar geskenke, toegedraai in papier met sneeuvlokkies en takbokke, onder die nagemaakte denneboom op ons wag.

In 1999 het ek en my vrou, Ronel, ons dogter, Rebecca (4), en seun, Sebastian (1), na Washington D.C. in Amerika getrek vir my werk. Ons eerste Kersfees in die vreemde het vaagweg bekend gevoel, maar ons was egter nie voorbereid op die bemarkingsaanslag wat die deursnee-Amerikaner rondom Kerstyd moet trotseer nie. Amper elke huis in ons woonbuurt, Bethesda, was versier met liggies en plastiekbeelde van Kersvader. Takbokke het in voortuine gepryk, en Boney M. was, wel, óral!

Op die TV het Oprah Winfrey die nasie vertel wat om vir hulle kinders te koop (’n wollerige batteryaangedrewe gediertetjie genaamd Furby wat giggel wanneer jy sy maag kielie) en ’n uitstappie na die plaaslike winkelsentrum het skielik soos ’n rowwe losskrum gevoel. Ons het die logiese ding gedoen en New York vir ’n week besoek om ’n Amerikaanse Kersfees in sy volle glorie te ervaar.

Ek en Ronel was soos kleuters wat te veel oranje koeldrank by ’n partytjie gedrink het – ons het eers na die Kersversierings by die Macy’s-winkel en die enorme Kersboom by die Rockefeller-sentrum gaan kyk, toe met groot oë deur Times Square gedwaal en by die ysskaatsbaan in Central Park ’n draai gaan maak. Alles in een oggend.

Die kinders is saamgesleep, Rebecca aan die hand en Sebastian in sy stootwaentjie. Arme Sebastian kon nie kommunikeer dat hy besig was om te verkluim in temperature wat lankal tot onder die vriespunt gedaal het nie. Eers toe ek my oë van die blink liggies wegskeur, het ek gesien hoe blou die outjie se lippe was...

Tuis in Bethesda het dit nie veel beter gegaan nie. Ek het gedink ek spaar ’n paar dollar deur ons huis se sentrale verhittingstelsel af te skakel terwyl ons uitstedig was. Dis blykbaar iets wat jy nooit moet doen nie, maar hoe moes ek dit nou weet? Ons potplante was dood en die water in die pype gevries. Dit het ure geneem voordat daar genoeg warm water was om die bibberende kinders in die bad te ontdooi. Ons kon eers later die aand lekker lag vir ons eie domheid.

En toe, net betyds vir Kersfees, het dit begin sneeu. Ons het buitentoe gehardloop en gekyk na die sneeuvlokkies, so groot soos R5-munte, wat uit die silwergrys lug neergesif het. Die wêreld om ons het stil geword. Bing se droom – en ons s’n – het waar geword.