In Desember 1987 was ek op pad standerd 8 toe en het ek oudergewoonte by my pa gaan kuier. Hy het my, sy kunstenaarsvriendin en dié se matriekdogter in sy 1960’s Land Cruiser FJ45 geboender en vir twee weke deur Botswana getoer.

Dié ryding het effens aardig gelyk met sy tuisgemaakte ombouings. Vooraan was ’n fris pypraambosbreker met ’n wynkurk aan die bokant en ’n kraantjie aan die onderkant. Binne-in die pypraam was nagenoeg 20 liter water wat deur lug verkoel was, mits jy vinnig genoeg kon ry.

Elke namiddag – omtrent ’n halfuur voor die aand se beplande oornagplek – het my pa voet in die hoek gesit om seker te maak die water is koel genoeg om sy whiskey op te top.

Binne-in die pypraam was nagenoeg 20 liter water wat deur lug verkoel was, mits jy vinnig genoeg kon ry

’n Staalstellasie waarvan die kante met dik seil vasgeriem was, het die lang bak bedek. Binne was twee gemaklike sitplekke gestroop uit ’n Ford Capri-krok en ook al ons kampgoed. Bo-op die bakkie se kajuit was ’n 200 liter-geyser vasgesweis. Dit was vol diesel en ek glo nie dit het SABS-goedkeuring gehad nie.

Dié warmwatertoestel vol brandstof het ’n blad gekry sodat dit ook as kroegtoonbank vir die beplande ontspanningsarea kon dien. Nadat jy deur die luik gewurm het, kon vier mense hulself op die dak gemaklik maak met skemerkelkies in die hand.

Die bedoeling was oënskynlik om ’n hoë platform te skep waarvandaan ons olifante, leeus en ander gevaarlike gediertes op die panne en grasvlaktes kon bekyk. My pa was so ingenome met sy hemelse kuierplek dat hy saans soos ’n brandwag daar gesit en sy tienerseun met ’n valkoog dopgehou het wanneer die matriekdogter ’n draaitjie agter ’n bos gaan loop het.

Dit was ook ’n eiland van veiligheid toe ons kampplek een aand by Baines se Kremetarte gewemel het van duisende kriewelende skerpioene.

Dit was bloedig in die Chobe- nasionale park en die lang sandpad tussen Moremi en Kasane was stowwerig en vuurwarm gebak. Agterin die bakkie het ek en die matriekdogter begin hoes van die stof en gesmeek vir ’n aftrekplek.

Die vordering in die dik sand was stadig en my pa het ons eerder deur die luik gestuur om bo-op die dak af te koel. Kort voor lank was my pa se kunstenaarsvriendin, geklee in ’n bra en sarong, ook bo-op saam met ons. Die matriekdogter was meteens skaam vir haar boheemse ma, maar ’n lugversorger had die Cruiser nie en ons was mos almal vriende.

Die sanderige tweespoorpaadjie se diep spore het die bestuurwerk oorgeneem en ná vyf minute se eksperimentering was my pa oortuig dat hy heeltemal oorbodig was agter die stuur. Met die spoedbeheerskroef oopgedraai tot op ’n verstandige 15km/h het hy die Cruiser aan sy eie oordeel gelaat en by ons aangesluit.

Die matriekdogter was meteens skaam vir haar boheemse ma, maar ’n lugversorger had die Cruiser nie en ons was mos almal vriende

Dit is belangrik om te onthou dat dit ’n ander soort era was waarin mense steeds gesukkel het om gewoond te raak aan sitplekgordels en mans nooit meer as een hand op die stuurwiel geplaas het nie. Maar toe reeds het ek gewonder of dié affêre ’n goeie plan was. My ma, by wie ek tydens die skooljaar gebly het, het beslis nie sulke roekelose gedrag goedgekeur nie.

Maar die kreef raak gewoond daaraan en kort voor lank was dit die bakste plan wat my pa nog ooit in sy ingenieurslewe gemaak het. Die vier van ons het doodluiters op die dak gesit terwyl die Cruiser gedienstig in sy spoor gehou het. Met ’n “Jy’ta!” en ’n gelag moes ons nou en dan koes vir ’n lastige boomtak wat oor ons swiep.

Iets moes die een of ander tyd skeefloop... en dit het toe ook.

Omtrent 50m voor ons in die sandpad het ’n olifantkalf skielik verskyn. Terwyl ek en die vroue met bewondering na hom staar, het my pa onthou dat niemand agter die stuur sit nie. Soos blits het hy teen die stellasie afgeklouter terwyl die res van ons gemik het vir die luik.

Die matriekmeisie is kop eerste deur die gat terwyl ek en die kunstenaarsvriendin geredeneer het oor wie se beurt dit volgende is. Met die geskarrel het die Cruiser begin wieg en die diesel op die dak het jolig heen en weer geplons. Die Cruiser het gedreig om die hoë wal langs die tweespoor uit te klim en die bos in te jaag terwyl my pa steeds gesukkel het om agter die stuur te kom.

Genadiglik het hy sy plek ingeneem en angstig begin draai aan die spoedbeheerknop sodat ons nie in die olifantjie vasry nie.

Soos ’n toneel uit ’n hansworsfliek versnel ons eers as die knop verkeerde kant toe gedraai word... en dan anderkant toe totdat die enjin begin murmel en sluk. Dit was met dié harlekynklug dat die res van die olifanttrop uit die bos verskyn en kwaai begin trompetter.

Soos ’n toneel uit ’n hansworsfliek versnel ons eers as die knop verkeerde kant toe gedraai word... en dan anderkant toe totdat die enjin begin murmel en sluk.

Die kalf het wakker geskrik en holderstebolder gevlug. Ons was nou besig om tussen die baba-olifantjie en sy trop te ry.

Die kunstenaarsvriendin het my deur die luik gedompel en verbete aan die dieseltenk geklou terwyl my pa vir die bulderende reuse wegjaag.

Dit was ’n tyd voordat ’n moderne gesondheids- en veiligheidsbewustheid my feitlik oortuig het om vandag my eie kind teen so ’n avontuur te beskerm. En dis hartseer, want dit is een van my gunstelingherinnerings aan ’n sorgelose bosvakansie