My vereistes vir ’n voertuig is dat ek gemaklik agter die stuurwiel moet wees, die kar moenie soos ’n trekker klink nie en ek wil vertroue hê in sy betroubaarheid. Dit moet ook ’n gesinsmotor wees en wanneer ons gaan kamp – vyf of ses keer per jaar – wil ek nie sukkel wanneer ek sleep nie.

Ek ry oorwegend op teerpaaie en die enkele kere wanneer ek wel ’n grondpad teëkom, ry ek bloot stadig en versigtig. My sleepvoertuig is ’n 2010-model Audi A6 3.0T Quattro. Ek het hom in 2015 tweedehands vir R250 000 gekoop en het onlangs uitgevind sy huidige inruilwaarde is ’n skamele R120 000. Dit beteken ek sal hom nog ’n paar jaar moet ry om waarde vir my geld te kry, want hy is in hierdie stadium vir my baie meer werd as sy markwaarde.

Die sessilinderenjin lewer 213 kW en 420 Nm wringkrag teen net 2 500 r.p.m. Dis altyd vir my snaaks as ek hoor hoe die ouens oor wringkrag gesels asof dit ál is wat saak maak, want daar is eintlik ’n vaste verhouding tussen krag, enjinspoed en wringkrag: krag = wringkrag x enjinspoed.

Die beste aanduiding van ’n voertuig se werkverrigting is sy versnelling (soos 0-100 km/h en 80-120 km/h), want dit is die resultaat van die enjin plus die ratkas plus die gewig van die voertuig – en, in sommige gevalle, die bykomende gewig van die woonwa op die haak.

Ek sleep ’n Gypsey Regal en kan gevolglik net oorde en kampterreine besoek wat bereikbaar is met ’n sedan en ’n padwa. Gelukkig is daar baie keuses.

Op die ooppad is die Audi se brandstofverbruik net-net minder as 9 l/100 km, en na my mening is dit heel aanvaarbaar vir sy petrolenjin met voltydse allewielaandrywing en ’n outomatiese ratkas.

Wanneer ek in stadsverkeer ry, styg die verbruik tot in die omgewing van 13 l/100 km, en wanneer ek sleep, gaan draai dit maklik by 16 l/100 km. Dit hang natuurlik van my sleepspoed en padtoestande af.

Nietemin het die enjin meer as genoeg perde om die mas op te kom en ek moet myself soms herinner om dit rustig te vat met die swaar wa op die haak. Op ons eerste reis met hierdie sleepkombinasie het ek ’n groot vragmotor op die pad tussen Ladismith en Calitzdorp verbygesteek. Dit was moeiteloos, maar toe ek weer voor die vragmotor in die linkerbaan wou kom, was my spoed 130 km/h en die woonwa het begin swaai.

Voor ek my regtig kon bekommer, het die Audi se teenswaaibeheer ingeskop en met kort remsarsies links en regs die woonwa binne sekondes gestabiliseer.

Daardie voorval het my drie dinge laat besef: Eerstens is die woonwa eintlik net ’n houtkis op wiele sonder enige padhouvermoë of stabiliteit; tweedens sal ek nie sonder die fabrieksgemonteerde sleepstang en elektroniese stelsel sleep nie, selfs al is dit peperduur (’n generiese sleepstang is vir my buite die kwessie); en derdens sal ek nie weer só bestuur dat die stabiliteitsbeheerstelsel moet ingryp om te help nie.

Sedertdien sleep ek op ’n soortgelyke wyse as die tyd toe ons nié hierdie verskriklike sterk sleepvoertuie en stabiliseerders gehad het nie. Ek hou my gemiddelde sleepspoed bloot tussen 100 km/h en 110 km/h. Ek steek ook nie maklik ander voertuie verby nie, behalwe teen steil opdraandes wanneer groot en stadige vragmotors momentum begin verloor en dit onwaarskynlik is dat my wa gaan swaai.

Op gelyke oppervlakke steek ek regtig net verby as die kar voor my 90 km/h ry.

Nog ’n manier hoe ek my bestuurstyl aangepas het wanneer ek sleep, is om ’n groter volgafstand te handhaaf. Wanneer daar ’n treintjie agter ’n vragmotor vorm en almal ry so op mekaar se stert, raak die probleem al hoe erger, hoe verder terug jy in die ry is.

Ek het al gevind dis beter om ’n entjie terug te hang tot die situasie agter die vragmotor homself uitsorteer.

Dieselenjins kraai dalk koning oor petrolmodelle wat brandstofverbruik betref, maar dit is duurder om te bou, daar is altyd iets wat vibreer en daar is klaarblyklik altyd probleme met die inspuiters – selfs al wil dissipels jou anders wysmaak. Omdat ek nie lang afstande aflê nie, is die beter brandstofverbruik nie vir my genoeg rede om ’n dieselkar te koop nie.

Ek kan eerlikwaar sê ek is doodtevrede met my petrolenjin en dit is net ‘n plesier om met hom te sleep.