Toe ons aanvanklik aangesê is om van die huis af te werk, het ek en my vrou, ook ’n joernalis, ons by die eetkamertafel tuisgemaak en die eerste klompie dae kort-kort vir mekaar gesê hoe lekker dit is om só saam te werk. Daardie samehorigheid was egter van korte duur. Ek het begin oplet sy praat hardop met wie ook al vir haar ’n e-pos stuur. “Ja, ek weet al van gister af hiervan.

Ek het nog net nie tyd gehad om dit op te volg nie.” Of: “Ag, jy is seker nie ernstig nie. Dit is mos glad nie belangrik om nóú hieraan te werk nie.”

Ek het ook besef ek word aangegluur elke keer wanneer ek net mooi my ritme kry en lekker begin skryf. Die rede? Ek tik glo te hard.

Ons het albei besef ons is besig met ’n gevaarlike speletjie genaamd “Hoekom doen jy dit só?” waarin daar geen wenners is nie. Sy sit nou by die kombuistafel en daar heers weer ekwilibrium in ons huis.

Maar dit was ook net tot ons tussendeur moes begin skoolhou. Tuis- of afstandonderrig, noem die skool dit, en ek het die grootste waardering vir al die moeite wat die onderwysers elke dag doen om die kinders se werk op die internet te laai.

My dogter sê die eerste ding wat sy wil gaan doen wanneer die inperking verby is, is om te gaan kamp by daardie plek met die warmwaterswembad.

Maar dit is nogal ’n stryd om tussen die werk deur ook na ’n laerskoolmeisie se wiskunde om te sien. Ek moes my die ander dag tot Google wend om te sien hoe ’n mens nou weer ’n lang deelsom doen.

Ek weet dus nie of dit my verbeelding is nie, maar dit voel vir my die vier mure van ons huis kom elke dag ’n duim of twee nader. Ons gesin was nog nooit só lank by die huis nie.

Tussendeur sit ek allerhande plannetjies en beraam vir wanneer die lewe weer eendag na normaal terugkeer. Weens die inperking is twéé reise gekanselleer waarna ek vreeslik uitgesien het – die een na Meobbaai in Namibië en die ander deur Botswana.

Ek moet op een of ander manier probeer vergoed hiervoor en ek doen dit deur ’n lysie op te stel van waarheen ons gaan ry wanneer ons eendag weer mag.

My dogter sê die eerste ding wat sy wil gaan doen wanneer die inperking verby is, is om te gaan kamp by daardie plek met die warmwaterswembad. Sy sê dit sal vir haar die lekkerste wees, want ons gaan kamp altyd saam met vriende of familie, en sy mis hulle almal.

Ek mis hulle ook.

Bly veilig!

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook