Die laaste ruk duik hy nogal gereeld op my skerm op en dit is duidelik al hoe meer mense voel so. Dit wil ook voorkom of almal op al wat ’n Facebook-groep is, wil weet wanneer ons weer toegelaat sal word om te gaan kamp.

Daar is nou al boekdele gekryf oor die uitwerking van die grendeltyd op ’n mens se gemoedstoestand. Ek is nie ’n sielkundige of ’n psigiater nie, maar ek dink dis veilig om te sê die uitwerking daarvan op mense se gemoedstoestand is nié goed nie.

As ’n mens mooi daaroor dink, boor daardie meme oor terapie en kamp eintlik ’n dieper aar raak. Die essayis John Burroughs, ’n groot dryfveer in die totstandkoming van Amerikaanse natuurbewaring, het op ’n keer gesê ’n mens gaan soek die natuur om te kalmeer en te genees en om jou sintuie te orden.

Is dit nie maar wat almal van ons nou dringend nodig het nie? Terwyl die onsekerheid van wanneer ons watter vlak gaan bereik – en wat uiteindelik op watter vlak toegelaat gaan word – oor ons kop hang, word ons emosioneel armer omdat ons grense so skielik soveel nader aan ons gekom het en ons nie toegelaat word om wyer as ons onmiddellike omgewing te beweeg nie.

Die tyd gaan egter aanbreek wanneer ons weer die natuur kan invaar waar die genesing waarvan mnr. Burroughs praat, in mildelike porsies opgedien word.

Die tyd gaan egter aanbreek wanneer ons weer die natuur kan invaar waar die genesing waarvan mnr. Burroughs praat, in mildelike porsies opgedien word. Tot dan nooi ons jou om ontvlugting te kry op hierdie blaaie en saam met ons in jou verbeelding te reis.

Jy het seker al gesien vandeesmaand se tydskrif is duurder as gewoonlik. Dit is omdat ons vir jou die magnetiese ZA-plakker ingesluit het. Ek is seker jy staan – net soos ons – gereed om koers te kies na een van ons buurlande sodra die grense weer oopmaak. Met dié plakker, wat jy kan opsit en afhaal soos dit jou pas, hoef jy jou nie oor wetstoepassers se nukke en grille te bekommer nie.

Ek het gaan rondkyk, en in die handel betaal jy enigiets van R50 tot R69 vir só ’n plakker. Teen net R15 is hierdie een dus ’n lekker winskoop.

Sit hom op jou ryding en stuur vir ons ’n foto. Ons sal vir die volgende drie maande ’n gelukkige wenner kies wat ’n spesiale Ry & Sleep-prys sal ontvang.

Bly veilig!