Jy móét leeus en luiperds sien, én dan olifante, buffels en renosters op jou lysie afmerk. Dis ’n gejaag van een knoets wildkykvoertuie na die volgende, maar in die proses mis jy die Klein Vyfduisend: ’n Goudstertspeg wat miere van ’n mopanieboomstam af pik; ’n flapnekverkleurmannetjie wat suutjies ’n kewer bekruip, en ’n gesin vlakvarke wat in ’n stofbad baljaar.

’n Mens moet eers ’n hele ruk op ’n plek deurbring en dit gewoond raak sodat die “moetsiengoeters” nie meer allesoorheersend is nie. Eers dan gaan jy die kleiner dinge waardeer. Dít het ek opnuut besef toe ek ’n paar dae in die Weskus- nasionale park gebly het vir ’n artikel. Die besef was waarskynlik so groot omdat daar nie sprake is van die Groot Vyf nie.

Ek wonder toe later wat my gaan bybly van die besoek… Die eerste is ’n fietsrit vroegoggend deur fynbos. Voor my het ek iets gehoor, en toe doem ’n trop elande uit die mis langs my op. Ek het stilgehou en gekyk hoe hulle rustig ’n hanetree van my af deur die bos beweeg.

Die tweede was om op die stoep van ons selfsorghuisie naby Churchhaven te sit en oor die Langebaan-strandmeer uit te kyk. En toe besef ek dis nie net ek en my mense wat in die huis bly nie. ’n Kransvalkie het onder die dakkap ingetrek lank voordat ons opgedaag het. Soms sou ek vir hom loer, en hy vir my. En saam het ons gekyk hoe die son oor die meer water trek.

En die derde was ’n laatmiddag-Sondagslapie op die huisboot die Larus wat in Kraalbaai op anker lê – met ’n goeie boek op my bors en die son wat deur die groot vensters stroom. Ek het halfpad wakker geword en na die water reg rondom my gekyk, geluister hoe dit ritmies teen die boot klots... en toe weer ingedommel.

Dit was sonder twyfel die beste middagslapie van my lewe.

En dís wat ek vir myself – en julle – toewens vir 2020: Meer tyd om die klein dinge raak te sien. En ’n innerlike rustigheid!

- Pierre Steyn