Jare gelede het Christopher Clark saam met ’n paar avonturiërs Zambië verken en ’n reis van 10 000 km in sewe weke vanaf Kaapstad na die Tanganjikameer aangepak. Hy vertel.

Die man wat my by dié reis betrek het, was Robert Bernatzeder, ’n ou vriend by wie ek een aand gaan kuier het ná ek teruggekeer het van ’n droewige ses maande in Londen.

Rob wou my “huur” vir die reis om te help bestuur aan twee Toyota Fortuners – die strydwaens vir ons span reis- en aanlyntoerismebemarkingskenners. Ek het ingestem voordat ek geweet het wat die punt van die reis was en as ek terugdink, is ek steeds nie heeltemal seker wat die punt was nie.

Die leë kolle op die kaart

As jy internasionale reisgidse en -tydskrifte deurblaai, merk jy baie vinnig op dat as Zambië enigsins in hierdie gidse genoem word, is dit gewoonlik beperk tot ’n paar bladsye oor Livingstone en die Victoriawaterval.

Selfs die onverskrokke reisigers is klaarblyklik nie bereid om te ver van hierdie toeristetrekpleisters af te dwaal nie. Hulle hou by die beproefde (en meestal goed ontwikkelde) suidelike dele van Zambië, wat naby is aan Botswana, Zimbabwe, Namibië en Malawi. 

Hoewel ek self nog nie in Zambië was nie, was ek oortuig jy doen die res van die land ’n groot onreg aan deur slegs die suide te verken.

Ek was nog altyd die soort reisiger en -reisverslaggewer wat die leër dele van ’n kaart verkies het, sodat ek kan uitvind waarop mense alles uitmis (en hoekom).

Dit is dus voldoende om te sê toe Rob daardie aand die kaart op die tafel oopvou, was daar geen manier waarop ek nee sou sê nie.’n Maand of so later het ons spannetjie uit Kaapstad vertrek in Rob se Fortuner (ook bekend as die Honey Badger) en ’n sleepwa.

Albei was feitlik dakhoogte gepak met biltong, vleis, bier, muskietweerder en kamera-toerusting. Rob se broer, Marcus, en nog ’n paar spanlede sou ons in die ander Fortuner in Zambië ontmoet. 

Terug bos toe

Ná ’n paar dae op ’n ander sending in die Madikwe- en Welgevonden-natuurreservate in Suid-Afrika, en ’n laaste voorraadstop in Johannesburg, het ons koers gekies na die Martinsdrif-grenspos en vir oulaas die pragtige, golwende landskappe van Limpopo en die Waterbergstreek geniet.

Ons het die aand naby die grens oorgeslaap en vroeg die volgende oggend Botswana binnegegaan. Aan die ander kant van die grenspos was die pad, soos in die res van Botswana, stil en ons was met ’n drafstap in die rigting van die Nxai-pan Nasionale Park onderweg. Ons het langs die pad baie meer donkies en olifante as mense en motors gesien. As ’n lensie-etende hippie van Kaapstad het ek nooit gedink ek sal die volgende sê nie, maar ’n Wimpy kan ’n lewensredder wees. Ek is seker die meeste Suid-Afrikaners juig as hulle die bekende rooi logo sien as hulle op hierdie pad ry.

Ons het teen laatmiddag by Nxai-pan aangekom en verrassend maklik die 50 km sandpad na die kampterrein afgelê, al het die mense by ontvangs ons gewaarsku ons sal dit nooit met ons sleepwa maak nie.

Ná ’n braai en ’n besoek deur die inwonende kampolifant, mnr. Nxai, het ons gaan slaap. Dit was ’n ruk sedert ek laas in die bos was en die geluide van die hiënas en leeus het my die grootste deel van die nag wakker gehou. Maar daar het nog baie sulke nagte voorgelê!

Ek het ’n paar dae gehad om in die bosgees te kom terwyl ons rustig die park verken het. Daarna het ons na die Chobe- nasionale park vertrek.

Onderweg na die dorp Kasane was ons verstom oor die verwoesting wat olifante langs die pad gesaai het. 

Jy sal dit self moet sien

Ná nog aandde by ’n vriend se huis in Kasane, het ons die grens na Zimbabwe oorgesteek. Daarna het ons na die Victoria-waterval aan die Zimbabwiese kant gaan kyk. Mense gebruik baie byvoeglike naamwoorde om hierdie natuurwonder te bespreek, maar niks kan daaraan reg laat geskied nie. Ek gaan dus nie eens probéér nie. Dis eenvoudig iets wat jy self moet sien.

Ons het laat daardie middag by Livingstone ingery. Ná ’n vinnige stop in Lusaka en ’n paar dae in die pragtige Onder-Zambezi- nasionale park, was ons uiteindelik op pad na die Suid-Luangwa- nasionale park. Ons plan was om via die park se noordelike pad oor die platorand na die afgeleë noordelike streke van Zambië te ry. 

Die Vallei van die Luiperd

Ons het in talle opsigte gevoel ons avontuur sal eers regtig in Suid-Luangwa begin. Ons het saamgestem dat ons reis tot daar taamlik maklik was. Die paaie was meestal gangbaar, die waentjie het nêrens afgehaak nie, ons het nog geen reën teëgekom nie. Ek het selfs nog skoon onderklere oorgehad. Maar almal van ons het geweet dinge gaan vroeër of later aansienlik taaier word.

Ons het almal genoeg “ervaring” gehad om dit te besef en ek het selfs daarna uitgesien.Intussen het ons ’n paar dae gehad om die reservaat te verken voordat Marcus en die ander Fortuner opdaag. Hulle was veronderstel om ons in Lusaka te ontmoet, maar het besluit om eers op hulle eie avontuur verder noord te gaan – en die Lavushi Manda- nasionale park op die soom van die grens met die Kongo te besoek. Ons het sedertdien niks van hulle gehoor nie en hulle selfone het al dae lank direk na stempos oorgeskakel.

Ek het nog nooit soveel grootwild soos in Suid-Luangwa gesien nie. Die Kruger, Etosha en die Maasai Mara kan nie een kers vashou nie. En die park het behoorlik sy naam as die Vallei van die Luiperd gestand gedoen.

Ons het kamp opgeslaan aan die ander kant van die Luangwa-rivier, buite die reservaat, en is feitlik daagliks deur seekoeie, kameelperde en ’n groot trop olifante besoek. Die een nag het ek dit ’n bietjie te naby aan ’n oorlamse jong bul gewaag wat skielik uit die donker opgedoem en dit tot naby aan die kamp se kroegarea gewaag het.

Ek het soos ’n mal ding na die ablusieblok gehol met hom kort op my hakke. Ek het my lam geskrik en net weer besef: Hier is die diere nog in beheer, en dis jy wat moet sorg dat jy dit onthou.Vier dae later het Marcus uiteindelik opgedaag, en dit het gelyk asof sy avonture hulle tol geëis het. Dit het gelyk of hy en sy span van ’n oorlog terugkeer.

Toe ons Marcus vra wat gebeur het, het hy net sy kop geskud en gesê hy wil nie daaroor praat nie. Ons het egter kort daarna gesien dat die toestand van die paaie en gebrek aan infrastruktuur verder noord maklik die rede kon wees.

As jy nie 'n luiperd sien in Suid-Luangwa nie, moet jy jou oë laat toets.

Kies koers noord

Toe ons vir ander reisigers noem dat ons die Suid-Luangwa- nasionale park via die noordelike platorand wil verlaat, het ons een van twee reaksies gekry: Sommige was in ekstase en het gesê die avontuur van ’n leeftyd het op ons gewag. Ander het hulle koppe laat hang asof ons ons dood tegemoet gaan. En niemand met wie ons gesels het, het dit al met ’n sleepwa gewaag soos wat ons plan was nie, maar ons het besluit om dit tog te doen en het in die pad geval.

Die dag het goed begin. Ons het luilekker deur die suidelike deel van die park gery en baie wild gesien – olifante, kameelperde, seekoeie, hiënas en leeus. Die hoogtepunt was ’n pragtige luiperdmannetjie wat homself oor ’n tak in ’n groot worsboom gedrapeer het. 

Hoe verder noord ons gery het, hoe meer ongerep het dit geraak. Die park het ’n paar stukke met die gevreesde swart turf (die Engelse noem dit black cotton soil) gehad, en ek kon my net indink hoe dit in die reënseisoen sou lyk.

Soms het ons die pad heeltemal byster geraak en moes ons dan weer in ons eie spore terugry. Ons Tracks4Africa-kaart het ’n bietjie begin sukkel – baie van die paaie in die afgeleë dele van die reservaat moet elke jaar ná die reënseisoen uitgemerk word, en kan nooit presies dieselfde as die vorige jaar herskep word nie.

Nietemin, die eerste paar uur van die dag het sonder ernstige voorvalle verloop.

Nadat ons twee taamlike mak riviere (minstens in die droë seisoen) oorgesteek het, was ons uiteindelik aan die voet van die platorand. Ons kon sien hoe die pad deur die digte ebbehoutwoud boontoe sny.

Ons het die banddruk nog ’n bietjie verlaag en toe begin klim. ’n Uur later het ons nog net sowat 10 km gevorder en Rob en Marcus, die twee dapper bestuurders aan diens die oggend, het reeds die passasiers uit die voertuie geboender om die las van die arme Fortuners te verlig.

Kort-kort moes klippe weggerol en sand met ’n graaf verwyder word om die lewe vir die voertuie makliker te maak. Soms het ek gedink die Fortuners gaan agtertoe bollemakiesie slaan, en die waentjie het soos ’n kangaroe agterna gehop. Ek het op die GPS gesien ons is op die “hoofroete”.

Kort daarna het ons ’n harde suisgeluid gehoor en gesien die spaarwiel onder Robert se voertuig het gebars – die eerste ongeval op die reis. Gelukkig het ons nog twee op die dak gehad. Dit was nou eers 10:30 die oggend en dit was reeds 45° Celsius. Minstens twee uur het verloop sedert ons laas enige vorm van lewe gesien het. En hoekom sou ons? Wie is nog so kranksinnig om in hierdie hitte op dié pad te wees, het ek gewonder.

Ek het aanhou opkyk met die verwagting dat aasvoëls oor ons koppe sou begin draai. Ons het nietemin voort geploeg, soos ’n mot na ’n kers toe.Na omtrent 6 uur het ons die 60 km of so na die kruin afgelê, en was die uitsig oor die Luangwa-vallei die gesukkel werd.

’n Entjie verder kon ons die pad noorde toe sien, en die teeroppervlak het soos ’n juweel geskitter. Toe ons uiteindelik by die teerpad aankom, het Robert uit die voertuig geklim, die pad gesoen en teruggeklim. Ons het weer die bande opgeblaas, bestuurders omgeruil en gery.

Meer as ’n klipgooi ver

Met die grootste deel van die dag reeds verby, het ons besluit daar is geen manier waarop ons die Tanganjika-meer sou bereik nie. Ons het ’n kort ompad gery en by die Kapishya Hot Springs Lodge ’n entjie van die hoofpad stilgehou. Dit was absoluut die moeite werd, want ek het daar, in die koelte van die palmbome, die beste warm bad van my lewe gehad. Ons is bederf met ’n yslike maaltyd, wyn en bosstories deur die eksentrieke eienaars.

Die volgende oggend het ons ná ’n rustige ontbyt in die pad geval. Die pad het gou in ’n reuse bouterrein ontaard, en soms kon jy slegs enkele meter in enige rigting sien weens die stof wat deur die vragmotors opgeskop word. Ons het pynlik stadig ons pad deur die slaggate gebaan.  ’n Goeie wenk as jy op sulke paaie in ’n konvooi ry, is om radio’s te gebruik. Só kan jy ten minste die voertuig agter jou waarsku om stadiger te ry of hindernisse te vermy.

Ons het by die pragtige Chishimba-val stilgehou vir ’n piekniekmiddagete en ons verwonder aan die oormaat water in die land. (Zambië het meer watermassas as enige ander land in Afrika.)

Teen sonsondergang was ons steeds ’n paar honderd kilometer van die Tanganjika-meer af en ons het besef ons sou dit nie voor middernag bereik nie. Ons het deur ’n klein dorpie genaamd Mpika gery en besluit om ’n kampplek te soek. Tracks4Africa het ’n plek genaamd die Friendly’s Resthouse genoem, maar dit was niks meer as ’n plakkerskamp toe ons daar aankom nie. Ons het ’n ent verder gery en toe in ’n klein oopte stilgehou om kamp op te slaan.

Naby ons “kampplek” was ’n hopie klippe. Ek was bekommerd dat ons op die een of ander begraafplaas kamp opslaan, maar niemand wou na my luister nie. En toe, net toe ons vuur begin knetter, het ons harde stemme gehoor en gesien hoe mans met brandende fakkels in die pad na ons aangehardloop kom. Ons hoor toe die klippe is hulle brood en botter – dit word op plaaslike markte as boumateriaal verkoop. Hulle was bang ons probeer dit steel. Toe ons vir hulle sê ons kamp net, het hulle gelag. Ons het hande geskud en gegroet.

Die einde van die pad

Omtrent elfuur die volgende oggend het ons oor die kruin van ’n heuwel gekom en gesien hoe die Tanganjika-meer soos ’n oseaan voor ons uitstrek. Ons het die heuwel afgery en deur die vissersdorp Ndole aangekruie.

Uitspan en ontspan by die Tanganjikameer.

Ná die laaste 10 km op ’n sinkplaatpad het ons uiteindelik ons bestemming, die pragtige Ndole Bay Lodge, bereik. Ons het ’n mooi kampplek op die strand gekies, ons banddruk so ver as moontlik laat sak en deur die sagte sand tot op die soom van die water gery.

Toe het ons op die sand gesit en oor die water uitgekyk, moeg maar tevrede, met ’n koue bier in die hand. Rob het my op die rug geklop en breed geglimlag.

Die pad het uiteindelik tot ’n einde gekom. Altans, vir nou. En wat ’n ongelooflike pad was dit nie.