Ons dink gewoonlik selde oor afsondering, maar in 2020 het elkeen van ons noodgedwonge ’n beheptheid daarmee ontwikkel.

Afsondering kom in verskillende gedaantes. ’n Prisonier word afgesonder – dalk saam met 100 ander gevangenes, maar steeds weggesluit van die samelewing en die vryheid van rondbeweeg. Maar jy weet dié tyd is beperk, en as jou vonnis verby is, dan is jy vort.

Daar is mense wat op afgesonderde plekke lewe, en dit só verkies: ’n boer iewers aan die einde van ’n tweespoorpad, tien Kalahari-duine van die naaste selfoonsein af. Maar hy het ’n hond, ’n Cruiser, en 600 skape, en hy is gelukkig.

Jy is dalk afgesonder vanweë jou werk in ’n vreemde land waar niemand jou taal praat nie – as geoloog in ’n mynkamp in Mali. Maar jy het internet, ’n slimfoon, en geld in die bank wat jy kan spandeer wanneer jy verlof kry.

Jy kan selfs binne jouself afgesonder wees, en met Alzheimer se siekte verlore raak vir die intieme onthou van bekendes wat jy ’n leeftyd lank in jou hart vertroetel het: nou net etiketlose flesse op ’n spensrak. Maar tog, jy het mense wat na jou omsien, en jy ontvang liefde.

Toe die virus land en president Cyril Ramaphosa sê ons moet almal tuisbly, het ons by die huis begin werk, en kon nie in die kar spring om sommer net by vriende te kuier nie. Kollegas het vervaag tot spikkelbeelde in aanlynvergaderings. Jy het niemand se blad geskud nie, en ’n stywe druk is iets van die verlede.

Sommige van ons woon alleen, ander saam met familie. Maar ek glo selfs in die joligste mees Orkney snork nie-familie-opset kan jy jou soms effens langer betrap deur ’n venster staar. Fronsend, effens bekommerd – waar gaan alles eindig? (En wat gaan ek doen as die toiletpapier op is...)

Vir my was dit ook so. Die meeste dae het ek en my meisie, Alice, mekaar vermaak met eindelose potte Scrabble (250 potte is lankal vergete...) en praatjies oor wat ons vir aandete sou maak. Ons is bevoorreg en bly in ’n veilige buurt – ons grootste bekommernis was of die vullis verwyder sou word op ’n Dinsdag, en die enigste ongerief wanneer iets soos die wasmasjien sou breek.

Ons het werk gehad om ons dae mee te vul. En boeke, Instagram en Showmax-stories vir ontvlugting saans. Maar tog het ek soms óók daai veraf staar deur die venster gestaar, doer na waar vragskepe stil lê in Tafelbaai, sigbaar uit my woonstel in Kaapstad. Dan sou Alice vra of ek al weer skepe kyk, en dan sê ek maar ja.

In hierdie maande het ek die luisterboek van Ernest Shackleton se South – The Endurance Expedition van Audible afgelaai en daarna geluister wanneer ek skottelgoed was. Dit is só ’n boeiende ware verhaal dat ek met die grootste liefde vir ’n uur sou staan met my hande in seepwater.

Wanneer ons wonder oor hoe mense kan aanpas in toestande van erge afsondering – onder buitengewone omstandighede – is Shackleton se storie voorwaar inspirerend.

(Vir die rekord: Die beskikbaarheid van toiletpapier is nooit eens ’n sin werd in sy boek nie.)

Hulle vertrek uit Engeland in Augustus 1914 nadat die eerste skote van die Eerste Wêreldoorlog reeds begin klap het. Die volgende paar jaar sou hulle géén nuus oor die oorlog hoor nie, en onwetend sou hulle danksy die oorlog selfs nog meer op hulle “ys” wees doer ver suid op die aardbol – niemand in Brittanje sou kon kom help indien hulle moeilikheid kry nie.

En moeilikheid het hulle vínnig gekry. In Januarie 1915 val die Endurance in dik pakys vas nog voor hulle die vasteland van Antarktika bereik. Later moes hulle die skip verlaat en daar naby kamp. Nou en dan vang hulle ’n pikkewyn of ’n rob vir die pot. Soms speel hulle sokker op die ys om moraal hoog te hou.

Máánde het verbygegaan, en hulle moes deur die donker poolwinter kom, daar op die ys. (En dan word ons verontrief deur ’n paar uur se rondtas in die donker met beurtkrag.)

In November 1915 verfrommel die ys die Endurance uiteindelik geheel en al, en dit sink weg onder die ys. Dus is die span se huis, vervoer én kans op ontsnapping daarmee heen. Hulle is honderde kilometer van die Antarktiese Vasteland – die pakys het gedryf.

Die somer is op pad, maar dis nie goeie nuus nie: Die ys waarop hulle kamp, gaan verbrokkel.

Dít forseer hulle teen 9 April 1916 om in die Endurance se drie reddingsbote die oopsee aan te durf na die naaste stukkie land: Elephant Island.

Met vernuf, durf én geluk haal Shackleton en sy 27 manskappe die eiland 6 dae later. ’n Kamp word teen die kus onder ysbedekte rotshange gemaak. Hulle is egter nog nie naastenby gered nie.

Op ’n satellietfoto lyk Elephant Island eintlik maar net soos ’n stuk ys wat uit jou vrieskas val wanneer jy dit ontdooi.

Met vernuf, durf én geluk haal Shackleton en sy 27 manskappe die eiland 6 dae later. ’n Kamp word teen die kus onder ysbedekte rotshange gemaak.

Hulle is egter nog nie naastenby gered nie. Niemand in die buitewêreld weet waar hulle is nie. Geen radioboodskap kan gestuur word nie. In elk geval, die ganse Europa is nog gewikkel in oorlog. (En ons begin stres wanneer die Wi-Fi af is en ons niemand kan WhatsApp nie...)

Shackleton se visier skuif na Suid-Georgië, waar walvisjagters by Stromness ’n basis het wat heeljaar bewoon word. Hy besluit dis beter om die meerderheid van die manskappe op Elephant Island agter te laat en die laaste deel van die reddingsreis na Suid-Georgië met net 5 ander aan te pak.

Die 22 wat agterbly, is onder die gesag van Frank Wild, die bemanningslid wat tweede in bevel was.

Shackleton-hulle haal die kus van Suid-Georgië, land aan die “verkeerde” kant en moet nóg ’n paar dae stap na Stromness. Vroegdag op 20 Mei 1916 hoor Shackleton ’n stoomfluit in die verte. “Never had any one of us heard sweeter music,” skryf Shackleton. Hy het geweet die fluit beteken dis opstaantyd vir die werkers by die walvisstasie. “It was the first sound created by outside human agency that had come to our ears since we left Stromness Bay in December 1914. That whistle told us that men were living near, that ships were ready...”

Steeds was dit het einde niet. Weens die pakys kon Shackleton eers teen 30 Augustus 1916 vir Frank Wild en die res gaan red – de laaste man het die beproewing oorleef. Vir diegene wat hulle sigarette gemis het tydens inperking: Wild en sy makkers se tabak was natuurlik lánkal op. Die eerste ding wat Shackleton vir hulle aan wal gegooi het, was pakkies sigarette!

Daar is baie inspirasie te put uit die heldedade van dié taai (en teen daardie tyd ook baie vuil) spul mans. Een ding staan vir my uit, en dis iets wat ons almal kan toepas in ons lewe. Of dit nou is om die verlies van ’n geliefde te verwerk, of deur moeilike finansiële tye te beur. Post-Covid-19-waters gaan onseker wees vir almal. Dis moeilik om positief te bly, maar dis moontlik.

Kyk na Frank Wild. In die laaste weke voordat hulle gered sou word – en, onthou, hulle het géén idee gehad of Shackleton dit eens veilig tot op Suid-Georgië gemaak het nie – het Frank Wild blykbaar elke oggend nadat hy opgestaan het sy slaapsak netjies opgerol en sy goedjies gepak. Hy sou dan vir die ander sê: Kom, kom, maak gereed om te vertrek. Ons moet regstaan wanneer “the Boss” (soos hulle Shackleton genoem het) aankom.

Wanneer jy weer wonder of die inkopies wat jy aanlyn by Pick n Pay gekoop het, betyds by jou voordeur afgelewer gaan word, dink aan Frank Wild en sy manne. 

Daardie dag in Augustus 1916 was hulle besig om sop – gemaak van robrugstring, klipmossel en seewier – te sit en eet toe iemand roep: “Ship, ho!” Dit was Shackleton, en omdat hulle klaar gepak was, kon hulle binne ’n uur van die eiland af wees en wegkom voor die pakys weer hulle ontsnaproete afsluit.

Rol dus elke oggend jou spreekwoordelike slaapsak op, en pak jou goedjies. Die einde is in sig.

Wild se lewe het ná die ekspedisie interessante draaie geloop, en in Suid-Afrika geëindig. Hy het probeer boer in Natal, help spoorlyn bou na Swaziland en is uiteindelik in 1939 op Klerksdorp oorlede. Sy as is in 2011 op Suid-Georgië herbegrawe, langs dié van sy strydmaat Shackleton.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook