Sommige mense sê die beste deel van branderplankry is daardie paar sekondes op die kruin van die golf, wanneer jy ware vrede beleef, met jou innerlike self in aanraking kom en die balans van die heelal ervaar. Bog, sê ek.

Die ouens wat so voel, is die tipe wat op die strand sit en aaptwak rook en teen die tyd dat hulle halflyf in die water staan, dink elkeen hy is ’n dolfyn of ’n meermin of ’n ding. Nee, hoewel branderry dalk een van die lewe se lekkerste dinge is, dink ek nie dis waarom so baie mense dit doen nie. Dit is die ervaringe langs die pad, op die strand, in die kampterrein en láástens in die see. Alles vorm ’n geheel.

Elandsbaai, Lambertsbaai, Yzerfontein, Kogelbaai, Bettiesbaai, St. Francisbaai, Jeffreysbaai… so kan jy aangaan tot by die tongknoper-plekname van die Wildekus soos Ntlonyane en verder noord oor die grens tot in Mosambiek se Tofino en Ponta d’Ouro met sy legendariese branders en groot, gróót grys witpensvisse met die skerp tande – dis nou haaie.

By elkeen van dié plekke is daar ’n gunstelingbranderryplek soos Bobbejaanpunt, Farmer Burger’s (die plaas waarop die strand geleë is, behoort aan ene mnr. Burger), Yo-yo’s, Caves, Supertubes; en dan ’n paar met vreemde name soos Kakkerlak, Kokkerot en Snotballs (gebruik jou verbeelding).

En daar waar jy kom om te surf, net daar slaan jy kamp op.

As jy effens skrikkerig is vir die “Groot Blou,” kan jy rustig wees in die wete dat ’n kampverslawing dieselfde gevoelens aanwakker as ’n branderryverslawing.

’n Mens kamp omdat dit jou blootstel aan dinge wat jy nooit in die stad of in ’n gastehuis of hotel sou beleef nie.

Luister ’n bietjie na gesprekke om die kampvuur – dis altyd oom Tinus wat vertel van die keer toe Port Elizabeth se wind hulle tent met kampbedjies en al see-in gewaai het, of toe die vervlakste bobbejaan by Augrabies hulle van ’n halwe skaapboud en drie hardgekookte eiers beroof het. Dis die kampvuurherinneringe wat ’n mens se hart laat warm klop, lank nadat die kole as geword het.

Op Struisbaai se witgeel strand het ek die eerste keer met ’n boogie board kennis gemaak. Dit was ’n gestreepte groen-en-pers ding wat jy sommer by Makro kan koop. Dit het my maag binne ’n halfuur rou geskaaf.

Ek was 11 en het nog gegril vir seegras, jellievis, seekat, seeanemoon, klipvissies… trouens, enigiets glibberig en slymerig en feitlik alles wat met die see te make het. Twee kampvakansies en ’n hele paar bloublasie-ontmoetings later was dinge anders: ek het seekatte kaalhand gejag, alikreukel uitgeduik en anemone met klipvissies vetgevoer.

En toe gebeur dit.

Vir my twaalfde verjaardag kry ek ’n branderplank en my beste vriend, Roland, kry ’n paar maande later ’n vyfmantent vir syne (sy plank was die aansporing vir my geskenk). Die tent se Born Free-handelsmerk het baie belofte ingehou en die branderplank het ’n byderwetse plakker op gehad – MCD (More Core Division).

Ek was verslaaf, nie net aan branderplankry nie, maar aan alles wat daarmee gepaard gaan – veral naweke op die strand en kampvakansies langs die see. En (probeer) cool wees, natuurlik.

Ons was koeler as John travolta en sy trawante in Saturday Night Fever; jy kon roomys met ons maak.

Ons het saam met dolfyne geswem en kreef vir ontbyt en snoek vir middagete geëet. Saans het ons in die Born Free-tent geslaap. Vir my ma en pa was dit wonderlik.

Die twee geskenke het saam-saam groot herinneringe by ons vriendekring geskep. Soos toe ons in die middel van die nag tussen lemmetjiegroen fosforgekleurde branders geswem het, of toe ons op ’n afgeleë strand aan die Weskus saam met ’n trop Jerseykoeie gestap het. Of toe ons branderplank en al in die bosse weggekruip het vir die boer op wie se grond die strand eintlik is.

Ons het saam met dolfyne geswem en kreef vir ontbyt en snoek vir middagete geëet. Saans het ons in die Born Free-tent geslaap. Vir my ma en pa was dit wonderlik. Hulle bloedjie het uiteindelik iets gekry waarvan hy hou. My belangstelling in ander sportsoorte was van korte duur.

Die Bakers-minikrieket en -sokker het ’n jaar gehou en karate minder as ses maande – ’n swart gordel met goue Mandarynse borduurwerk sou, tot my teleurstelling, ’n leeftyd se toewyding verg, maak nie saak hoeveel keer jy Enter the Dragon of Bloodsport gekyk het nie.

My geesdrif vir die see het hulle egter genoodsaak om vir die volgende paar jaar elke vakansie, sonder uitsondering, by die see te gaan kamp.

Elke liewe vakansie.

Dit klink dalk lekker, maar te veel van ’n goeie ding is nooit goed nie.

Ons is almal bevry toe Roland sy pa se ou bronskleurige BMW 525e Bavaria geërf het. Kampvakansies by die see het ’n nuwe betekenis gekry. Dit was minder georganiseerd en meer impulsief as vakansies saam met ons ouers. Ons kon een naweek by Elandsbaai gaan afpak en die volgende een in die teenoorgestelde rigting Stilbaai toe mik.

Julie-vakansies het ons die kar gepak en Jeffreysbaai toe gery om te sien hoe die beste branderplankryers ter wêreld die mooiste branders ter wêreld tem – legendes soos Kelly Slater, Rob Machado, Taj Burrow en Taylor Knox.

Van Jeffreysbaai af was dit Mosselbaai toe om ’n draai by die Punt te maak, dan een of twee aande in Vleesbaai en ’n laaste stop in Stilbaai of Jongensfontein voor ons terug is Kaap toe. Ons het die hele kus platgereis met die Born Free-tent in die kattebak.

DIE LAASTE PAAR jaar het die branderplankkampe effens opgedroog namate die meeste van ons vriende verskillende rigtings ingeslaan het. Roland en sy Born Free-tent is PE toe. Gerrit was ’n grafiese ontwerper in Amsterdam en Nicholaas, Martin en Anton besig om huispaaiemente af te betaal.

Toe ons almal egter weer bymekaar kom, het ons die branderplanke, ’n nuwe tent en potjie agterin Roland se Landy gelaai (hy het die BMW aan sy suster se kêrel verkoop, arme ou), die R27 gevat en die 250 km Elandsbaai toe afgelê.

Die see was ysig, die branders klein en die Suidooster het gehuil. Maar toe die tent stewig staan en ons in kampstoele om ’n vuurtjie sit, was alles in plek.

“Onthou julle toe ons in die middel van die nag wakker geword het met ’n Staffie, snoet vol sand, wat in die hoek van die tent vir ons sit en staar?” vra iemand. Hoe kon ons vergeet. Ek weet nou nog nie hoe die hond in die tent beland het nie.

“En wat van die keer toe ons die rivierloop hier anderkant uitgegrawe het in die hoop dat die water wat in die see invloei, ’n golf sal maak wat ons kan ry? Ons het selfs ’n graaf by die slagter op die dorp gaan leen!”

“Onthou julle die keer in Durban toe ’n 2 m-lange vin op ons afgepyl het en ons vir ons lewens moes roei?” Michael Thorpe sou sukkel om by te bly. Dit was toe ’n onskuldige walvishaai. Lekker lag die Durban-locals toe vir die Kapenaars.

Só het ons aangehou tot lank ná OBS (Oubaas Sherry) sy laaste knak weg gehad het.

En dit het alles met ’n branderplank en ’n tentjie begin.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep (Augustus 2010) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.