Wat sou ’n mens hoegenaamd in Roemenië gaan soek? Wat gebeur daar? Wel, ek en Rebecca het besluit om te gaan uitvind. Net om te kyk of die Roemeniërs met ons is of nie, en of die res van hulle ’n goeie dubbele salto kan maak soos hulle wêreldbekende gimnas, Nadia Comaneci.

Dalk sou ons selfs die oudtennisspeler Ilie Nastase raakloop (vreemde goed gebeur: Ek het al vir Ryk Neethling by ’n vulstasie gesien).

Ons het ons soos wafferse wêreldreisigers voorberei: Die Lonely Planet-gidsboekie gaan koop, ons tasse se slotjies getoets en hotelle bespreek op die internet.

Visums was ook moeiteloos, ondanks die feit dat dit op my foto’tjie lyk asof ek ’n Schnauzer eet (dis eintlik net my baard wat so groot was). Ons het ook ’n motor gehuur, ’n Ford Fiestatjie.

Op ons eerste dag in die hoofstad, Boekarest, is die Fiesta beleër: Ons is omring deur Dacias, Roemenië se nasionale kar.

Hoewel die Dacia se ontwerp die afgelope dekade effens verfyn is, lyk die meeste van hulle steeds na ’n kruising tussen ’n Nissan Skyline en ’n voertrog. Jy kry ’n sedan, stasiewa- en bakkieweergawe, maar eintlik lyk hulle almal maar dieselfde, met net die relevante dele wat afgesaag of aangesweis is.

Maar dis nie die Dacias se neerdrukkende stilering wat ons op daardie oomblik geteister het nie. Nee, Boekarest is baie soos Welkom – vol sirkels.

En ’n mens ry boonop aan die verkeerde kant van die pad, want dis ’n regsryland met linkerhandstuur. My bestuursbrein is dus in volslae chaos gedompel. Ek soek pal die ratte hier iewers teenaan die deur en dryf gedurig gevaarlik na aan Dacias verby wat aan my regterkant opdoem.

Uit die passasiersitplek hou Rebecca die fort. Sy is kalm.

Sy waarsku my wanneer ek in iets gaan vasry. Sy hou my nuwe blinde kol dop, wat nou omtrent so groot soos Lesotho is.

En oral is honde. Volgens die gidsboekie is daar tot 70 000 rondloperhonde in Boekarest. “As jy bedreig voel, buk net af en lyk asof jy ’n klip optel om te gooi,” is hulle raad. Die honde dut onder motors, op verkeersirkels met die kop op die sypaadjie – oral waar jy kyk.

O ja, het ek genoem dat daar ook trems is? Ja, tremspore loop in die pad waar jy moet ry en ’n mens moet nog uit dié se pad ook bly.

Die paaie is ook nie die skitterendste nie. Waar aan die pad gewerk word, lyk dit asof iemand vroeër die oggend met ’n ploeg daardeur is.

Ons het omtrent liters bloed gesweet om die pad uit die stad te kry, want ons was onderweg na die noordooste van die land, na die stad Tulcea (jy spreek dit uit “Toelcha”), aan die oewer van die Donaurivier.

Dis vrekwarm. Eers later het ons gehoor dit was ’n ongekende hittegolf wat die lewe van honderde bejaarde mense geëis het.

Roemenië het, net soos Suid-Afrika, verskillende soorte landskappe. Hier waar ons nou ry, op die plat vloedvlakte van die Donau, lyk dit presies soos op die Springbokvlakte daar naby Bela-Bela: Eindelose sonneblomlande en rustige boerderybedrywighede.

Hier en daar dut ’n werker onder ’n perdewa à la Landbouweekblad. Hulle het pragtige berge – die Karpatiese berge waarheen ons gaan, is ná Tulcea. Maar hulle’t ook ’n Sasolburg, in die industriële Pitesti, geboorteplek van die Dacia.

Langs die pad is daar nuwe dinge vir ons oë: Hooimiedens in elke agterplaas, baie perdekarre en die Ortodokse kerke met hulle vreemde boltorinkies.

Baie van die smaller teerpaaie, soos die een waarop ons nou laat wiel, loop tussen eindelose lanings plataanbome deur. Dit beteken jy ry heeldag halfpad in die skaduwee. Lekker.

Ons luister na die Roemeense Anneli van Rooyen, Romica Puceanu. Ons het haar CD in Boekarest gekoop. Dié sangeres, wat al oorlede is, sing volgens die CD se boekie begrafnis-, liefdes- en partytjieliedjies.

Hulle klink almal identies: Tranerig danksy die trekklavier.

Tulcea is n bietjie soos Port Elizabeth. Dis nou as die Baai gebou was aan die oewer van ’n rivier wat tien keer groter is as die Oranje. Dis ’n paar honderd kilometer van die Swart See af en hier’s ’n groot en besige hawe.

Dis in Tulcea dat ek besef die meeste Roemeniërs lyk soos ekstras in Agter elke man. Hulle trek min of meer aan asof hulle in die laat jare tagtig vasgehaak het. Ja, in die byderwetse dele van Boekarest sal jy dalk ’n meisie sien wat soos Christina Aguilera aangetrek is, maar in die algemeen voel die Roemeniërs ’n vy vir modegiere.

Op ’n bootrit in die delta af drink ons die een Ciuc-bier ná die ander, eet vis, sweet vir ’n vale en sien die pelikane soos die gidsboek belowe het. Die meeste vakansiegangers hier is Roemeniërs, nes die meeste vakansiegangers langs die Vaalrivier Suid-Afrikaners is. Hulle vang vis, sit in die vlak modderwater en plas, drink bier en braai.

Ek en Rebecca maak kennis met ’n paar ander toeriste. Daar is twee verskroeide Finne wat naby aan ’n floute is, en twee gespierde Duitsers (hulle trap fiets deur die land).

Toe ons binneland toe ry draai, raak die landskap ongelooflik mooi. Ons volgende stop is Brasov, maar terwyl ek nog my nek verrek om vir ’n antie Stienie te kyk wat doer oor ’n tuinhekkie hang, spring ’n spietkop skielik voor ons in.

Die spoedgrens is 20km/h en ek het omtrent 40km/h gery. Nou toe nou. Die twee spietkops besef gou daar’s ’n kommunikasieprobleem. Die kleintjie kyk vir die grote en gee vir hom die knypbord.

Die grote beduie ek moet in die Fiesta wag. Ná omtrent tien minute roep hy my oor na sy motor toe. Ek kry gelukkig net ’n waarskuwing.

In Brasov bots ons byna weer met die gereg toe ek in ’n voetgangerwandelpad opry. Tannies en ooms beduie wild met hulle kierie van bankies af, ma’s gryp kinders uit die pad uit. Ons draai om, beduie “jammer”.

Daar’s ’n mooi tennisbaan, maar dit lyk nie soos Nastase wat daar tennislesse gee nie. Ek het ook nog niemand selfs ’n enkelsalto sien doen nie. Ons goedkoop hotel het nie lugreëling nie en ons los saans die vensters oop. Die muskiete swerm in en tot laatnag roep dronk Bruce Beyerse na mekaar in die kroeë onder ons.

Dracula is volgende op ons lysie, want Sighi?oara, geboortedorp van Vlad Tepes, die ware karakter op wie die mite van Dracula gegrond is, is nie ver hiervandaan nie.

Op pad trek ons af by Rupea, waar ons ’n toilet en koffie soek.

Bo-op ’n koppie langs die dorp staan ’n ou bolwerk. Ons stap op met die voetpad en betaal ’n karige toegangsgeldjie aan ’n ou man wat rustig onder ’n boom sit en lees.

Ek het nog altyd vermoed Europa behoort soos ’n Asterix-boek te lyk en hier, terwyl ons uitkyk oor Rupea, voel dit vir die eerste keer vir my so. Doer onder stap ’n man met ’n sekel deur ’n koringland. Obelix moet hier iewers naby wees, besig om wildevarke se gorrel pap te druk vir vanaand se feesmaal. Mooi.

Kort duskant Sighisoara trek ons weer af. Dié slag is ons honger. Ons bestel ciorba – ’n sop wat blykbaar net die ding is vir ’n leë maag (ons glo alles wat in die gidsboek staan).

Die ciorba daag vinnig op, met baie brood en ’n heel rissie on the side. Goeters dryf rond in die ciorba.

Dit lyk soos stukke varkvel, of pens, íéts. Rebecca stoot dit beleefd eenkant toe en knaag aan die brood.

Ek maak myne klaar, maar net-net.

Ons haal Sighisoara gelukkig sonder “voorval”. Almal en alles in Sighisoara is heeltemal Dracula-bedinges.

Jy kan Dracula-T-hemde en koffiebekers koop. Ons het...

My kontant is aan die gedaan raak en ons gaan soek ’n bankmasjien in die middedorp. Ek druk die kaart in die gleuf en wil net die knoppies begin ontsyfer toe ek skielik iets ongeloofliks sien: Die knoppies op die OTMcis in Engels en Afrikaans, presies soos hier in Suid-Afrika!

Daar staan dit: “Proceed/Gaan Voort”! Ek kan dit nie glo nie!

Presies hoe hierdie OTM hier op die platteland van Roemenië beland het, sal nugter weet.

Ná Sighisoara is dit tyd vir terugdraai. Eers moet ons oor die Karpatiese gebergtes. Ons vat die legendariese Transfagarasanpas wat in die vroeë jare sewentig deur die weermag gebou is.

Daar’s ’n sweerfspoor wat tien keer langer is as Tafelberg s’n, duisende vakansiegangers wat oral stap en kamp, skaapherders teen die hange, ’n massiewe dam en, anderkant af... Vlad Tepes se kasteel. Dracula se blyplek.

Maar die kasteel is doer bo teen die berg en ons is te lui om te klim (ons tyd raak ook min). Ons stop by die restaurant vir iets te ete.

Teen die muur hang gestopte beer- en wildevarkkoppe, ook bokhorings. Dit voel soos enige kroeg duskant Thabazimbi.

Enige oomblik gaan Bruce Beyers hier instap met sy snojean...


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #44 (Junie 2008) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook