’n Reis hoef nie na ’n ver plek te wees nie. Trouens, vir my tel ’n besoek aan die naaste koffiekroeg as ’n reis. Jy gaan sit rustig, skink ’n koffietjie en reis dan sommer in jou kop na die uithoeke van die aarde – of tien, twintig, dertig jaar die verlede in.

Maar dis met die skink – spesifiek van die melk uit daai silwer bekertjie – dat my koffiewinkelreis gewoonlik in sy spore gestuit word.

Dié metaalbekertjies is waarskynlik so oud soos die Suid-Afrikaanse restaurantbedryf of selfs die melkbedryf. Vandat ek my verstand het, kry jy hulle in omtrent elke eetplek in Suid-Afrika. Ek sal nie verbaas wees as ’n argeoloog ’n paar van hulle iewers in ’n Strandlopergrot opgrawe nie.

En hier’s die deel van die skinkery wat my kopreis totaal laat ontspoor: Dié tydlose melkbekertjies werk nie.

Ek beskou myself as ’n ervare koffiedrinker, maar ná al die jare kan ek nog steeds nie melk uit so ’n bekertjie skink sonder om te mors nie. Dis asof dit spesiaal ontwerp is om te mors – wanneer jy die melk in jou koffie skink, kleef die straaltjie onderaan die bekertjie se tuit vas en loop af in jou piering of op die tafel.

Dit boul my telkens uit. Hoe op aarde het só ’n swak patent dit reggekry om te bly voortbestaan in ’n hoogs mededingende en snelveranderende wêreld? (Jy kry dié melkbekertjie steeds oral, gaan kyk maar.)

Dan sit en dink ek nie meer aan Patagonië of Gaboen nie. Ek staar na die poeletjies melk op die tafel en wonder of die ouens wat hierdie bekers maak, nou nog nie agtergekom het hulle vlagskipproduk het ’n ernstige gebrek nie?

Hierdie mense moet tog sekerlik ’n jaarvergadering of bosberaad hou waar iemand sou kon opstaan en hoflik sê: “Kollegas, ek wil nou nie op tone trap nie, maar as ons wil hê ons maatskappy moet in die 21ste eeu nog floreer soos in die 20ste, moet ons dit dalk oorweeg om ons melkbeker se tuit so effentjies aan te pas…”

Ek het al op dié bekertjies probeer kyk vir ’n kontaknommer of webadres, maar daar’s niks.

Ek het ook al vir koffiewinkeleienaars gevra waar koop hulle die bekers, maar hulle haal gewoonlik net die skouers op en sê die goed was hier toe hulle die plek by die vorige ou oorgeneem het.

Dis asof die bekertjies hulle in die geheim in Suid-Afrika se koffiewinkels kom aanmeld en dan teen wil en dank bly.

Jammer oor die tirade. Dalk moet ek maar eerder my koffie swart drink.

MY BEHEPTHEID MET hierdie melkbekers spruit waarskynlik uit die feit dat ek die afgelope jaar of twee nie juis tyd gehad het om  te reis nie. Om te kompenseer het ek ’n vreemde belangstelling in koffiewinkels ontwikkel. Ek bestudeer hulle soos ek in die ou dae Frankryk of Zambië sou bestudeer. (Ek sit nou juis in ’n koffiewinkel en skryf.)

Laat ek gou die hele koffiewinkelding van my hart af kry: Vir my lyk dit redelik maklik om ’n koffiekroeg te bedryf. Jy het oënskynlik net sewe goed nodig: ’n Paar tafels wat stewig staan, ordentlike koffiebone, ’n kelner wat sowat tien treë ver kan sien, suiker (wit én bruin), melk (warm én koud), ’n wortelkoek wat darem nog in die huidige boekjaar uit die oond gekom het, en skaflike agtergrondmusiek.

Vergelyk dit nou met die letterlik dosyne dinge waarvan jy die leisels moet vashou, as jy, sê maar, ’n slaghuis, duikkloppery of tuindiens wil bedryf.

Wat my veral interesseer, is hoeveel koffiekroeë nie ’n enkele een van dié Groot Sewe kan bemeester nie, maar – net soos daardie melkbekertjies – nogtans bly voortbestaan.

Gaan toets maar die Groot Sewe wanneer jy weer gaan aansit vir ’n koppie koffie. Vat die tafel weerskante vas en skud dit liggies.

Die kans, het ek geleer, is omtrent 85% dat dit gaan wobble. (Die oplossing? Skuif ’n suikersakkie onder die poot in… mits daar suikersakkies is.)

Probeer nou die kelner se aandag trek. Eers steek jy jou vinger hoflik in die lug. Later wuif jy soos ’n drenkeling, maar ’n Suid-Afrikaanse koffiekroegkelner het die vermoë om alles mis te kyk.

Hulle staar oor al die geroesemoes soos ’n boer wat na reënwolke soek.

Wanneer die koffie uiteindelik opdaag, is daar gewoonlik nie bruinsuiker nie, die melk is koud en die koffie self is niks besonders nie. Nul uit ses, tot dusver.

En dan is daar nommer sewe: Die agtergrondmusiek. Ek het gedog ek het ’n redelike weerstand teen steurende musiek, totdat ek een goeie Woensdagoggend die Bee Gees se “Night Fever” saam met my oggendkoffie gekry het.

Ek loop nou nog met ’n effense sielkundige letsel rond.

’n Koffiewinkel is mos veronderstel om ’n stemmige plek te wees. As jy saam met ’n vriend daar kuier, moet die musiek ’n rustige gesprek orkestreer.

As jy alleen daar is, is dit omdat jy ’n bietjie wil dink oor dinge – en die musiek moet help om jou in daardie effens melancholiese luim te plaas vir ’n goeie kopreis.

Maar kyk nou watter liedjies is onlangs op my losgelaat terwyl ek niksvermoedend my koffie probeer drink het: “The Final Countdown”, “Eye of the Tiger” uit Rocky III en daardie hiper-irriterende “Nothing’s Gonna Stop Us Now” van Jefferson Starship – daai liedjie waar hulle die heeltyd sing: “And we can build this thing together…”

Wat wil hulle bou? ’n Strandhuis? ’n Nuwe hoofkantoor? ’n Seepkiskar? En wie probeer hulle keer?

DIE KOFFIEWINKEL waar ek nou sit en skryf, is ’n baie spesiale plek: Dit breek ál sewe reëls, plus nog ’n paar wat ek nog nêrens elders teëgekom het nie.

Tog ry ek omtrent elke Sondagoggend met my motorfiets hierheen – uit morbiede belangstelling eerder as om koffie te drink.

Die naam van die plek maak nie saak nie, maar dit is, soos die ou mense sou sê, ’n geleë plek: Eenkant lê Valsbaai en aan die ander kant die pragtige Kogelberge met hulle honderde spesies fynbos.

Wanneer jy hier koffie drink, kyk jy egter nie na die see of die berge nie, want dié koffiewinkel spog met waarskynlik die grootste televisieskerm in die Suidelike Halfrond.

Ek het gedog ek het ’n redelike weerstand teen steurende musiek, totdat ek een goeie Woensdagoggend die Bee Gees se “Night Fever” saam met my oggendkoffie gekry het. Ek loop nou nogmet ’n effense sielkundige letsel rond.

Dis altyd aan, gewoonlik op ’n obskure sportkanaal wat ek nog nie lekker kon plaas nie. (Onlangs het ek ’n rugbywedstryd gesien waarin Jonah Lomu nog speel.)

Meestal is daar egter boks op die TV, gewoonlik swaargewigte en feitlik sonder uitsondering ’n middeljarige Mexikaan teen ’n oorgewig Amerikaner.

Op die oomblik werk ene Guido Jiminez en Leroy Jones jr. mekaar se sake. Dis die tweede rondte en Guido was al ’n slag planke toe.

Op Sondae is dié gevegte iets besonders, want die eienaar sit dan gewoonlik die televisie se klank af en speel panfluitmusiek op die koffiewinkel se hoëtroustelletjie.

Danksy George Zamfir slaan Guido en Leroy mekaar vanoggend dus in ’n amper gewyde atmosfeer.

Hierdie koffiekroeg verras my klokslag. Op een van my eerste besoeke hier het ek vir die kelner vir warm melk by my koffie gevra.

Warm melk?” het hy ongelowig gevra en letterlik vir vyf sekondes oorbluf bly staan.

Later die oggend het sy seuntjie – ek het hom so drie jaar oud geskat – by my tafel kom staan en een vir een die tjips uit my bord begin eet.

Ek het al een oggend vroeg hier opgedaag en amper veroorsaak dat twee kelners handgemeen raak omdat hulle nie kon saamstem oor hoe laat die plek oopmaak nie.

Ek het al elke denkbare kombinasie van gebrekkige koffie hier teëgekom: Koffie met koue melk, maar sonder bruinsuiker; koffie met warm melk én bruinsuiker, maar sonder ’n teelepel, en koffie op ’n baie wankelrige tafel…Noem maar op.

As jy by dié plek ’n tweede koppie koffie wil hê – soos nou die geval is – moet jy opstaan en die kelner op sy skouer gaan tik daar waar hy op die toonbank leun en kyk hoe Guido weer die verpligte telling van agt aanhoor.

Maar dis asof die panfluitweergawe van Elton John se “Candle in the Wind” vir Guido nuwe krag gee.

Hy’s terug op sy voete. Dis nou die sesde rondte en Leroy se 130kg begin hom inhaal.

Een merkwaardige oggend het ek al selfs ’n tweede koppie koffie hier gekry sonder om te gaan vra. Maar toe vergeet die kelner die ekstra melk.

WAT KOM MAAK ek dus hier? Want ek wag nou nog vir my tweede koppie koffie.

Dis die negende rondte. Die Bee Gees is nou aan die sing. Op die agtergrond word Leroy uitgetel op die maat van “How Deep is Your Love”.

Wat ’n koffiewinkel! Wat ’n reis! Volgende Sondag is ek terug. Ten spyte van daardie melkbekertjie.


Hierdie rubriek deur Bun Booyens, Weg se stigtersredakteur, het in Weg # 31 (Mei 2007) verskyn.