Terug van vakansie maak ek ’n draai by mybarbier, Larry The Budget Barber. Larry se plek is naby die winkelsentrum se ingang, ingedruk tussen die selfhelp-wassery en die roltrappe. Jare lank het ek my hare by Mister Heinz se salon skuins oorkant die Naspers-sentrum in Kaapstad laat sny. Sy vaardige vingers het ’n vlymskerp skêr oor jou kop laat flits. Toe Mister Heinz middestad se kant toe skuif, is ek agterna. Dié ou Duitse vakman het my herinner aan oom Dries, wat ons laerskoollaaities se hare destyds op Wolmaransstad met dieselfde presisie gesny het.

Al verskil is dat oom Dries jou wolkop met ’n outydse handknipper tot pynlik netjiese short back and sides verminder het.

Mister Heinz het geweet hoe ek my hare wou hê. Hy sou blootvra: “Soos altyd?” Dan het ons die land se probleme uitgepluis terwyl hy sy ding doen. Oor sy lewe as kind in ’n verwoeste Duitsland ná die Tweede Wêreldoorlog het hy net een keer gepraat. Hy het vertel hoe hy as jong man Suid-Afrika toe gekom het, en nooit weer teruggegaan het Europa toe nie.

Maar die ouderdom het Heinz ingehaal en hy het afgetree.

Ek het ’n paar ander plekke probeer. Telkens moes ek verduidelikek soek nie ’n kapsel nie, net ’n eenvoudige haarsny. En die geselsies was maar so-so.

Toe ontdek ek Larry The Budget Barber. Op sy kaartjie staan:“Please must phone for apointment” (die kaartjie is nie breed genoeg om nog ’n “p” vir “appointment” in te pas nie). Maar niemand antwoord as jy bel nie, want Larry werk sommer sonder “apointments”. Jy stap net in en as hy besig is, sal hy sê: “Ten minutes, sir.”

Hy skat die wagtyd altyd op tien minute, ongeag hoeveel mense reeds sit en wag. Ek loer by die deur in. Larry se plek lyk soos ’n chaotiese weergawe van ’n haarsalon uit die sestigerjare. Alles is vintage en half eksentriek – die musiek (vandag is dit Pat Boone), die rooi tapyt met ’n flamenco-danseres daarop geborduur, die gehawende donkerpienk sitkamerbank waarop jy jou beurt afwag, die metaalarm in die hoek met sy groot babablou haardroër (hy het kortstondig ook vrouekapsels aangebied).

Oral staan of hang geraamde en ongeraamde skilderye en prente, van vissershuisies en skuite, van Tafelberg soos gesien van Bloubergstrand, van mooi mense en blomme.

Larry se voorkoms sou ook meer tuis hoort in die 1960’s, veral as hy een van sy outydse pakke met die breë lapelle dra. (Hy het “ver meer as twintig”, en almal tweedehands gekoop vir net R20 elk.)

Soms is sy Elvis-kuif pikswart en lyk hy heelwat jonger as sy amper sestig, ander dae wys sy gesig die spore wat die lewe al oor hom geloop het.

Op sy dag was hy ’n sanger, het hy my vertel: “Latin American, en alles uit die sixties...” Hy werk daaraan om ’n comeback te maak en het onlangs by ’n ouetehuis opgetree.

Daar wag drie mense op die bank en een in die haarkapperstoel. Op twee regop stoeltjies sit ’n groot kêrel en sy vrou. Hulle hou elke beweging van Larry dop, so half asof hulle dié storie eers wil uitkyk – beslis nie regulars nie. Seker vakansiegangers van elders in die land.

“Hallo, sir,” groet Larry my. “Ten minutes.” Ek loer na die wagtendes en besef ek kan Larry se tien minute maar met drie maal. “Ek gaan solank inkopies doen,” sê ek.

Toe ek terugkom, wag daar net twee kliënte op die bank, plus die twee op die regop stoeltjies. Ek skuif tussen die twee op die bank in. Die groot ou is volgende. Hy het ’n volronde gesig met’n welige bos steil swart hare wat oor sy ore pof en in ’n dik halfmaankuif oor sy voorkop hang.

“George who?” vra Larry en loer na die plakkaat. Dis duidelikdat hy nie weet van wie sy praat nie. Sy gereelde kliënte se versoeke is gewoonlik iets soos “sny kort,” “maak dit ’n nommer 4” of “kort om die ore en effens langer bo waar die hare min raak”.

“How would you like it, sir?” vra Larry toe die man in die stoel sit. Sy vrou spring op en wys na ’n plakkaat by die deur. “Like George Clooney,” sê sy.

Die plakkaat het gesigfoto’s van Hollywood-sterre, elkeen se hare van kuif tot kroontjie in ’n unieke styl gekap. In die middelste ry, tussen James Dean en Justin Bieber, glimlag George swoel en sexy met silwergrys skynsels langs sy slape en in sy teruggekamde kuif.

“George who?” vra Larry en loer na die plakkaat. Dis duidelikdat hy nie weet van wie sy praat nie. Sy gereelde kliënte se versoeke is gewoonlik iets soos “sny kort,”  “maak dit ’n nommer 4” of  “kort om die ore en effens langer bo waar die hare min raak”.

“Clooney,” sê die vrou en druk nou met haar wysvinger op George se voorkop. “George Clooney, the actor.”

Larry stap nader aan die plakkaat en kyk vlugtig na die foto. Hy lyk ’n bietjie onkant gevang.

“No problem,” sê hy, stap terug en skud die groot sydoek sierlik deur die lug voordat hy dit om die man se skouers sprei. Dié loer net vir Larry in die groot spieël.

Links van my op die bank sit ’n pankopman. Om sy ore en teen sy agterkop krul ’n laaste paar haartjies. Hy gaan na ’n troue toe en moet darem netjies lyk, het hy gesê.

Regs sit-lê ’n jongeling met sy bofbalpet agterstevoor om op sy kop. Almal kyk met afwagting na Larry. Dié krap tussen die verskillende kamhegstukke op die tafeltjie voor hom. “A ha,” sê hy en glip ’n nommer 12-hegstuk aan sy elektriese knipper. Hy kantel sy kop effens skuins na die vrou se kant toe.

“What’s that chappie’s name again?” vra hy ongeërg.

“Clooney,” prewel sy met ’n strak gesig, haar oë stip op die elektriese knipper.

“Oh yes, Clooney,” sê Larry en die volgende oomblik stoot hy die knipper voor by die manse welige kuif in en oor sy agterkop uit. Jy sien net hare waai. Met geoefende swaai-rukbewegings werk hy die masjientjie vorentoe, agtertoe en op langs die kante van die man se kop. Die klossies hare trek in ’n boog deur die lug.

In die spieël word die man se oë groter en sy wange trek styf van kommer. Op die regopstoeltjie klou sy vrou haar handsakkie vas. Sy besef die onafwendbare gebeur, sy weet net nog nie wat die omvang gaan wees nie.

Larry is nou in sy element. Hy verpoos ’n oomblik om die nommer 12 af te pluk en ’n kam met korter tande op te sit. Die man gooi ’n benoude kyk in die spieël na sy vrou. Dit lyk asof hy onder die doek gaan uitvlieg en weghol.

Dan is Larry klaar.

Hy druk-druk nog ’n paar keer met die knipper se tandjies op ’n haartjie of twee wat die eerste aanslag oorleef het. Hy staan effe terug en bekyk sy handewerk. Die man het nou ’n soort short-back-and-sides kapsel. Bo-op sy kop beur die langer, steil hare reguit vorentoe tot waar dit soos ’n rietafdakkie oor sy voorkop sprei.

“You have very straight hair,” verduidelik Larry. Dan kry hy ’n ingewing. “If you want him to really look like that Clooney chappie, you’ll have to gel his hair,” sê hy vir die vrou. “I have these gel capsules,” sê hy en trek ’n laaitjie oop waaruit hy ’n hand vol bruin kapsules haal.

“Only R10 each.” Larry vryf jel in die man se hare en kam dit kant toe. Hy beskou die eindresultaat vir ’n paar oomblikke.

“There you are. George Clooney,” sê hy en haal die doek van die man se skouers af.

“That will be R45, thank you.”

Die man en sy vrou kyk vir mekaar, sprakeloos. Vir ’n oomblik dog ek hulle gaan hom nie betaal nie, maar dan pluk sy ’n paar note uit. Saam met die kleingeld stop Larry nog twee jelkapsules in haar hand.

Toe die twee soos slaapwandelaars by die deur uitstap, roep hy agterna: “Pop in if you need more gel!”

Die man met die pankop het intussen in die stoel gaan sit. Larry sprei die doek oor sy skouers. “And how would you like it, sir?” vra hy.

“Like Elvis Presley,” sê die pankop, en hy val amper van die stoel af soos hy lag.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #140 (Junie 2016) verskyn.