Die wonderwerk was net een oggend daar op my peetouers se werf. Almal het om haar saamgedrom. Sy was vaartbelyn, afgewerk in twee skakerings van blou, swierig, mooi – uitsonderlik mooi: skuins aan die agterkant, met mooi ronde kurwes aan die voorkant.

Geen man kon by haar verbyloop sonder om te begeer nie, maar sy was my oom Dawid s’n. Die naam van dié wonderwerk op vier blink wiele was Buick, ’n 1949-model. En my sedige, bejaarde oom het in haar teenwoordigheid ’n totale metamorfose ondergaan. Sy oë het soos glas gelyk as hy agter die dun stuurwiel inskuif, saggies oor die swart leer van die sitplekke streel, ’n moontlike stoffie van die weelderige paneelbord afvee. “Hoor net hoe sag loop sy!” het hy in verwondering gesê. Suiwer ekstase.

Oom Dawid en tante Drien was my peetouers.

My ouers se Wes-Transvaalse plasie het aan hulle s’n gegrens, en ons het daagliks oor en weer gekuier, en gestry oor die Sappe en die Natte en die Fords en die Chevs. Totdat die Buick gekom het, natuurlik.

Toe, op ’n dag, verander alles – die dag toe my oom Dawid heengaan. In die kombuis het die grootmense gesnuif en gekug en niks gepraat nie. Rondom die kombuistafel het tante Drien, sy weduwee, gesit met haar brilglase traanbesmeerd, saam met my ma, my boet Hannes (met donshaartjies op sy bolip), my pa met sy koue pyp in sy eelthande, en ek, tjoepstil.

Langs die Aga het Miets gestaan, voorskoot teen haar oë. Miets met haar ronde lyf en sagte arms was deel van die familie – trouens, sy was die spil waarom die huishouding gedraai het. Miets het die swaar stilte van daardie dag om die tafel verbreek: “Hoe reken Miss Drien gaan ons nou die groente by die mark kry?” Grafstilte.

Laat ek verduidelik: In daardie tyd was dit nog nie die inding om na ’n aftree-oord te trek as jy jou plaas afgee nie. En jy sou ook nie ’n woonwa of ryhuis koop om die wêreld te verken nie. Nee, jy het vir jou ’n plasie gekoop en ’n basterboerderytjie aan die gang gekry om die artritispyne en ander skete so lank as moontlik hok te slaan. Pleks van ’n boerboel eerder ’n foksterriër aanskaf.

Só het my oom Dawid met groente geboer, en weekliks ’n stewige tjekkie by die mark gekry.

Ewenwel, daardie dag het Miets se vraag die groep om die tafel teruggeruk na die werklikheid. My ma het haar skerp berispe – arme oom Dawid was dan skaars koud – en my broer het hoopvol voorgestel dat hy skool net daar en dan los om my tante op die plasie te kom help.

My pa het almal summier stilgemaak. “Miets is reg, Drien, die groente moet mark toe,” het hy streng gesê. “Ek sal nie altyd kan kom uithelp nie.” My tante het haar voorkop moedeloos in ’n goedversorgde handpalm laat sak en sidderend gesug.

Ek moet weer verduidelik: Die familie skinder toe al jare lank oor tante Drien wat so deur haar man bederf word. “Mag mos nie haar hande in koue water steek nie…” Daai soort ding.

“Maar Boetie…” het sy hulpeloos met die einste sagte hande in die lug begin beduie, “ek kan mos nie...” My pa het nie bogtery geduld nie. “Nou wie van die plaaswerkers het ’n liksens om die bakkie mark toe te ry, hè?”

Fladderende hande en rooi kolle op bleek wange het hulle eie storie vertel: Daar was niemand bekwaam genoeg onder die plaaswerkers om die rooi bakkie wat oom Dawid vir sy boerdery gebruik het te bestuur nie.

“Dan sal jy net moet leer!” My pa se oë het haar op die stoel vasgepen. “Die bakkie?!” het sy met afgryse in haar bewerige stem gevra. “Ja!” My pa het besluit sy sou leer bestuur en basta! My tante se trane was weggeskrik – ons s’n ook.

“Ek sal vir Miss Drien help,” het Miets haar probeer moed inpraat. “Hannes kan jou leer,” het my pa beslis, en die twaksak in sy baadjiesak gedruk,“ eers met die Buick, en as jy regkom, dan die bakkie.”

My arme donssnorboet, in sy laaste jaar op skool, het verwese daar langs die tafel bly staan. Hy het baie belangstellings gehad, maar om ’n senuweeagtige tante te leer bestuur was nie een van hulle nie.

“Hoekom kan Pa nie maar self vir ta’ Drien leer nie,” het hy later by my gekerm. “Ek kan mos self ook nog nie so lekker bestuur nie,” het hy gelieg, want hy ry al van kleinseuntjiedae af trekker.

’n Paar weke daarna trek hy – met ’n donderweergesig en ten aanskoue van die hele familie – die Buick voor die agterdeur. Tante Drien skuif bewerig agter die stuur in (my broer se moerigheid het beslis nie gehelp vir haar senuwees nie), en die immerteenwoordige Miets klim agter in. Die oomblik van waarheid…

Agter in die motor kyk Miets dapper terug na ons, haar rooi kopdoek swierig gebind om by die geleentheid te pas. Voor in die Buick trek die tenger figuur van my tante haarself hoër aan die stuurwiel sodat sy oor die paneelbord kan sien. Langs haar die befoeterde tienerseun.

Eers ruk en hik die Buick ’n paar keer. Volgende brul hy, en toe sien ons net stof – hy wou nog loop, toe jaag hy al. Hy bokspring skraps deur die nou plaashek, dwarsweg die stofveld in en deur die Genade alleen terug op die harde pad.

Die Buick het daardie dag die sonbesies stil gebrul.

“Kragtie!” Dit was die ergste vloekwoord wat my pa ooit gebruik het. My ma het haar keel vasgehou asof sy ’n asma-aanval verwag.

Kort voor lank sien ons Miets deur die veld aangestrompel kom en sukkelend deur die heiningdraad kruip. Haar rooi kopdoek sit skeef oor haar voorkop en haar handpalms is soos swaaiende vlae in die lug.

“Kragtie!” My pa het begin soek na sy bakkie se sleutels om die dooies of gewondes te gaan oplaai, maar Miets keer hom: “Ek het maar vir Miss Drien gevra dat sy my halfpad moet aflaai.”

“Hoekom, Miets?” My ma het haar geglo toe sy sê omdat sy vergeet het om die hoenders kos gee.

Miets het nog gesluk aan die laaste druppels suikerwater toe ons die gebrul van die Buick hoor nader kom. Die volgende oomblik flits ’n blou streep gevaarlik naby aan die hoek van die huis verby, gelukkig voor ons die veiligheid van die stoep kon verlaat.

En toe is daar stof, ’n slag en sinkplate wat deur die lug vlieg. Die sinkplaat- en draadhok op die agterwerf waarin ’n kalkoen tydelik – tot Krismis toe – geplak het, was daarmee heen. Die kalkoen ook.

Faan, een van die werkers, het ook verskrik met ’n geskrou laat spaander.

Toe die stof uiteindelik gaan lê, was daar ’n onheilige stilte rondom die geboë sinkplate by die ongelukstoneel. ’n Kalkoenveer het stadig grond toe gedwarrel.

Die deure van die Buick kon darem nog oopmaak, en die twee asvaal mense klim uit. Die witgeskrikte leermeester verdwyn sluip-sluip om die huis, wie weet waarheen.

Tante Drien se deftige grys bolla sit windskeef langs die een oor, maar daar is iets in die lyf van ons bedorwe tante wat ons nog nooit gesien het nie.

Woordeloos volg ons haar deur die groengeskilderde kosyn van die agterdeur. Die sifdeur klap hard agter ons toe. “Miets,” roep my tante, met ’n stem wat nie weerstand duld nie, “bring daai bottel sjerrie daar uit die side board.”

“Aikôna, Miss Drien, dis mos Krismis se sjerrietjie!” stribbel Miets nog terug. “Biedêm!” maak my tante haar rug styf, “die kalkoen is in sy maai, die Buick is in sy maai, en ons het die sjerrie nóú nodig.”

’n Maand of wat later is die rooi bakkie een oggend volstoom voor ons plaashuis verby mark toe.

Langs die regop figuur van my tante was die rooi kopdoek ’n bewys van die gewigtigheid van die reis.

Of my tante ooit ’n wettige rybewys gekry het, weet ek tot vandag toe nie. Sy het seker maar die verskil tussen die petrol- en rempedaal geleer, want die bakkie was nooit gestamp nie. En die groenteboerdery was ’n groot sukses.

En die blou Buick? Wie weet – ek soek haar steeds by elke veteraanmotorskou.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #103 (Mei 2013) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook