Hoe meer ’n mens langpad ry, hoe meer leer jy oor die hardloopgewoontes van elke diersoort. Ja, dis vreemd, diere van dieselfde soort hardloop op dieselfde manier oor die pad – daar’s baie selde verrassings.

Later kan jy al voorspel wat hulle gaan maak, en dít help baie, selfs al ry jy net 60km/h en met beter remme as Giniel de Villiers se Dakar-kar.

Witkwasmuishonde is van die slimste padkruisers wat ek ken, want hulle wag nie tot die kar bý hulle is voordat hulle ’n lyn sny nie. Hulle hardloop gewoonlik ’n goeie 100m voor jou verby – en nooit reguit oor die pad nie, maar altyd effens skuins, weg van jou af, weg van die gevaar af.

Jy ry dus nie sommer hierdie muishonde raak nie. Kyk maar as jy weer verby ’n slagoffer ry – dis nooit ’n witkwas nie.

Nie baie diere is slim hardlopers nie, maar bobbejane en blouape het genoeg verstand om nie paniekerig te raak nie. Hulle is die koelste en kalmste van al die diere wat jy langs die pad kry.

’n Blouaap sal met sy boude plat op die teer sit en dit miskien oplig as jy hier by sy stert verbyjaag. Bobbejane – veral die makkes in die Kaap – sal soms nie eens vir jou uitswaai nie.

Hulle verwag (nes lui mense in die hoofstraat van plattelandse dorpies – en hier staan die rustige inwoners van Mount Frere in die Oos-Kaap kop en skouers bo die res uit) dat jy vir hulle moet uitswaai, stop, selfs koeldrank aanbied in die verbygaan.

Dis ’n heel ander saak in boerderygebiede waar bobbejane soms geskiet word weens hulle lang misdaadrekord in die mielieland. Bobbejane weet presies in watter bakkies daar ’n geweer is, en as so ’n bakkie stilhou, dan sit elke liewe bobbejaan binne trefafstand van ’n 30-06 patroon (dus 5km) die klip neer waarmee hy of sy besig was en laat spaander dat jy net vlooie sien spat.

Ongelukkig is daar veel meer dom padhardlopers as slimmes. Vat nou maar ’n vlakvark. Hou dié stywe snorkoppe maar dop: Hulle sal uit hulle pad gaan om presies 3m voor jou kar verby te hol. Hulle sal selfs hulle spoed aanpas – stadiger hol as dit moet – sodat hulle net so kort voor jou wiele verbykom.

Ongelukkig is daar veel meer dom padhardlopers as slimmes.

Dassies is selfs nóg dommer. Dit moet iets te doen hê met hoe laag hulle op die grond is, want vir hulle maak dit blykbaar min verskil of hulle onderdeur jou kar hardloop of voor of agter verby. Dis asof hulle nie eens bewus is van die gevaar nie. Hulle sien net die grond hier voor hulle en soms… wel, soms werk dinge nie so mooi uit vir hulle nie.

Waaierstertmeerkatte is ook dommerig. Hulle sal reg langs die pad vervaard sit en herkou in die skadu van hulle stert – soos iemand wat naels kou in ’n bangmaakfliek – en dan, nét wanneer jy verbyry, besluit hulle om na die skadu van jou kar te hardloop, soms met Noodlottige Gevolge.

Graatjiemeerkaaie is slimmer en hardloop taamlik goeie hoeke. Die neukery is dat hulle gate soms reg langs die pad is. Dis moeilikheid soek, soos om jou huis langs die N1 te bou en te dink jou kinders kan veilig op hulle plastiekmotorfietsies speel.

Bakoorjakkalse is wandelende gesinstragedies. Saans, wanneer dié oulike goedjies jag, draf hulle soms al in die pad af op soek na insekte en ander eetgoed. As een omkyk en in die aanstormende motorligte vaskyk, is dit asof jy hom in gips giet. Dan stop moeder jakkals ook om om te kyk, én daarna ook oom en tannie jakkals. Soos ’n reliëf uit klip staan hulle dan daar, wagtend op Noodlottige Gevolge.

Dis nie ongewoon om drie bakoorjakkalse op dieselfde plek dood in die pad te kry nie. As daar ’n Huisgenoot vir bakoortjies was, dan was die voorbladnuus elke week dieselfde: “Gesin sterf tragies op grootpad.”

Rooijakkalse? Jy kan maar vergeet. Terwyl jy nog so lekker ry, is die rooijakkals by jou huis besig om biltong te eet voor jou TV. Rooijakkalse is slimmer as Schabir Shaik se prokureurs.

Ander tranetrekkers is hase – vlakhase én kolhase. Die haas sien jou kom en draai sy rug op jou. (Goeie idee, want nou word hy nie verblind nie…) En dan maak hy hier voor jou hoofligte sulke slap pypkanne soos die dominee se kind wat binnesenter speel vir die derde span – en ons almal weet hoe dít eindig: Met ’n plettervat waarvan ’n mens moeilik opstaan.

Steenbokkies hardloop ook soms dom, die stomme goedjies, maar hulle probeer minstens langs die pad hardloop en soek-soek gedurig na ’n gaping in die heining waar hulle kan deur. Draadheinings langs openbare paaie is daar om boere se vee uit die pad te hou, maar dit werk nie altyd nie. Die probleem is juis baiekeer dat die drade diere soos steenbokkies op die pad vaskeer.

Die ander probleem met dié drade is dat die veld in die padreserwe dikwels mooier is as die boer se eie weiveld. (Komaan, stry nou!) Diere soos koedoes kom wei dus in die nag daar. En hulle veroorsaak soveel noodlottige motorongelukke dat dit in sekere dele van die land vir motoriste eenvoudig dwaas is om in die donker op die pad te wees.

Van die ander plat-op-die-aarde padhardlopers is likkewane die koddigste. Hoe groter die likkewaan, hoe koddiger, want hulle hol nes outjies wat té stywe jeans dra, so wikkelgat-wikkelgat.

Hulle maak dit ook nie altyd nie, maar dis omdat hulle tot op die laaste oomblik hardegat is en kans sien vir die Yaris wat aankom. As die kar egter nader kom en die likkewaan besef die ding is eintlik nogal groot, dan is dit, wikkelgat-wikkelgat, te laat.

Akkedisse en koggelmanders is beter daaraan toe, bloot omdat hulle kleiner is en dus moeiliker raakgetrap word. En hulle is blitsig: Hol mos altyd so ken en stert in die lug oor die pad asof hulle op ’n warm plaat dans met ’n mooi meisie.

Slange byt ook soms in die stof, maar die meeste is so blitsig dat jy nie baie dooie slange op die pad sien nie. Party skiet só vinnig oor die pad dat jy nie weet of dit dalk eerder nou-nou se Steers-koffie is wat praat nie.

Blesbokke en hartebeeste is slim hardlopers, ondanks hulle lang sprinkaankop. Springbokke hou weer van afshow en sal dikwels reg voor die kar pronk. Selfs skape kan nogal so ’n pronklopie uithaal, maar angorabokke vreemd genoeg nie. (Angorabokke is egter slimmer as skape, dis vir seker.)

Beeste se grootte tel in hulle guns. Hoe groter die dier in die pad, hoe stadiger ry ’n mens – soos byvoorbeeld met olifante en renosters. Of jy nou ’n Atos of ’n Hilux ry, tweede kom gaan jy tweede kom.

Vir skilpaaie het ek ’n baie sagte plekkie. Niks maak seerder as om ’n getrapte skilpad te sien nie. So ’n gebreekte dop op die pad kan my sommer ure daarna nog terneergedruk maak.

Skilpaaie is stadig en dis heeltemal onregverdig om te verwag dat hulle elke slag veilig aan die ander kant gaan kom. As jy een in die pad sien, trek af op ’n veilige plek, stap terug en dra hom oor die pad tot anderkant die draad (in die rigting waarin hy gestap het!). Dis jou plig as mens.

Dis ook erg om huisdiere soos honde en katte dood te sien lê. ’n Mens wonder altyd waar daar dan nou vanaand ’n huis sonder ’n troeteldier gaan slaap en wat die arme dier gedwing het om hier op die pad te kom soek na samesyn of iets te ete.

Katte is gewoonlik goeie padhardlopers omdat hulle, soos muishonde, ver voor karre verbynael. Maar selfs ’n kat sien nie altyd sy negende graf naderkom nie. Dan’s dit tickets vir Sokkies.

Aan ’n hond se draffie kan jy dadelik agterkom of die hond ’n ou rondloper op die paaie is. Padvaardige honde kyk links en regs en weer links. Stoephonde se lyftaal op straat is senuagtig. Hulle lyf is styf en ongemaklik en hulle kyk oor hulle skouers en hulle stert is pal tussen die bene. Dis sulke honde wat my die hartseerste maak. Ek kry altyd die idee hulle gaan nie lank hou nie. Dat iemand later vanmiddag by die huis gaan kom en verniet na Jimmy of Schatzie gaan roep.