Geen pad in Suid-Afrika maak méér emosie in my wakker as Roete 62 nie. Nie naastenby nie.

Maar my verbintenis met dié kronkelende teerpad deur die Klein Karoo strek terug tot lank voor dit Roete 62 gedoop is, na die dae toe dit bloot die R62 was.

Destyds – in my dienspligjare – het troepe wat by die Infanterieskool op Oudtshoorn gestasioneer was, ’n ander naam gehad vir dié stuk pad: “Die pad Kaap toe”.

Dit was ’n pad met ’n vreemde, gesplete karakter. Op Vrydagmiddae skuins voor vyfuur was die R62 vol belofte. Dit was die roete waarmee jy en vier, selfs vyf, ander troepe in ’n motor Kaap toe gejaag het vir ’n hoë-impak-naweek. En dan, twee dae later op die Sondagaand, was die R62 skielik die somber roete waarmee jy terug basis toe gery het, daar waar die korporaals die volgende oggend om vyfuur jou bungalow se deur sou oopskop om die “civvy”-gewoontes, wat jy glo oor die naweek aangeleer het, uit jou te boender.

Roete 62. Een stuk teer. Jekyll én Hyde.

’N PASNAWEEK HET op Oudtshoorn nie spontaan aangebreek nie.

Dit het noodwendig met spanning gepaard gegaan. Sou die sammajoor jou vroeër laat gaan? Of sou hy vir oulaas die korporaals op jou loslaat vir ’n “bosbus” (jy en ’n stuk of 30 ander troepe word met volle gevegsmondering – “staaldak, webbing en geweer” – van bossie tot bossie oor die daardie stempel in jou pasboekie gekry het, het die tog Kaap toe, ironies, soos ’n ingeoefende militêre dril op dreef gekom.

Vroeër die week het jy reeds vir jou ’n sitplek in ’n vinnige kar gereël. ’n Rit Kaap toe in ’n “gewone” kar soos ’n Mazda 323 het R10 gekos. Met ’n vinniger Datsun SSS was dit R12.

En dan was daar die ekwivalent van die Concorde: Vir R14, selfs R15, kon jy saam met Quinton Lategan in sy Cortina Bix Six ry. Duur, ja, maar jy was gewaarborg om binne vier ure voet aan wal te sit by ’n Spur in die Kaap, lank voor die ouens in die 323’s.

Belangrik: Jy moes ook sorg dat al die mense in die kar uit dieselfde kaserne as jy kom. Anders sit jy en vier ander ouens nou-nou met gestempelde pasboeke in ’n gelaaide kar en wag vir skutter Barnard – van ’n ander bungalow – wat doer oorkant in ’n bedremmelde peloton aangetree staan, met ’n beneukte korporaal wat hulle net nie wil laat loop nie.

“Julle druk my moermeter in die rooi, troepe!” hoor jy die korporaal vir Barnard-hulle skreeu. “Maar dis oukei. Ek het die he-e-eldag tyd!”

Jy sit en wag eenkant. In ’n Cortina.

NET BUITE OUDTSHOORN is daar ’n betonteken langs die pad met ’n reliëfkaart van die Klein Karoo. “Kaapstad 429 km via R62” staan daar in swart letters en onder dit: “Via Mosselbaai 479 km”. Dít het altyd my aandag getrek, want watter volslae idioot sou 479 km Kaap toe wou ry as jy dit binne 429 km kon haal?

Net anderkant dié betonteken was ’n klein padbordjie met die woorde: “Measured kilometre begins”. En dan ’n kilometer verder, natuurlik: “Measured kilometre ends”.

Dit was asof hierdie twee bordjies daar geplant is spesiaal vir troepe wat nou nét met naweekpas losgelaat is. “Raait, nog net 428 km,” sou iemand in die kar sê wanneer ons verby die tweede bordjie swiep. Jou rit op die R62 het amptelik begin.

Die meeste mense in die kar het feitlik onmiddellik aan die slaap geraak.

Skaars 10 km buite Oudtshoorn kon jy maar in die truspieëltjie kyk en sien hoe lê die ouens met hulle kop op die ou langsaan se skouer. In die Huisrivierpas met sy skerp draaie sou iemand miskien vlugtig wakker word, sy oë knip-knip en weer omkantel.

Die meeste van ons het omtrent die hele eerste skof van Roete 62 geslaap.

Jy het jou bewussyn eers herwin op Barrydale, sielkundig die halfpadmerk Kaap toe.

Dit was altyd ’n ongeduldige stop. Die kar het laatmiddag met ’n knars by die petrolpomp stilgehou en jy het met ’n dun kwylstrepie by jou mondhoek wakker geskrik. Almal het uitgeklim, bene gerek, ’n draai geloop en ’n pie en Coke gekoop.

Iemand het van die tiekieboks gebel om die mense in die Kaap te laat weet: “Ons kom. Ons is oor twee uur daar.”

En dan, nog voor die pie en die Coke klaar was, sou iemand sê: “Jis, jis, laat ons ry.”

EN SO HET jy in die skemer Montagu toe laat waai. Jy het nie die vrugteboorde langs die pad gesien nie. Die Langeberge het geen indruk op jou gemaak nie. Roete 62 se draaie en heuwels was nie vir jou mooi nie; dit het bloot die kar se spoed gebreek en naweekminute opgevreet.

Jy het net gery. Montagu. Kogmanskloof.

Ashton (tydens my hele diensplig het ons net een keer op Ashton gestop; ek kan nie onthou hoekom nie).

By Robertson het jy stadig gery, want daar was altyd ’n spietkop wat met die geduld van ’n trapsuutjies sy gatsometer onder ’n bloekomboom beman het.

Dan is jy teen volle vaart verder. Op die kruin van daardie bult by Mowers, met sy paar stasiehuisies, het jy skielik die oranje skynsel doer ver van Worcester se straatligte gesien. Man, dit was asof iemand ’n groot fakkelvuur op die vlakte aangesteek het om te wys waarheen jy moet mik as jy Du Toitskloof wil tref.

Al wat jy moes doen, was om voet in die hoek te sit in die rigting van daai geeloranje gloed.

En dan het jy uiteindelik die pas se kruin gehaal en daardie slap draai na links gevat, met Wellington en die Paarl se liggies onder jou en Kaapstad s’n doer ver. Dit was asof ’n gordyn skielik agter die kar gesak het en alles agter jou – Roete 62 en die hele bleddie militêre basis – uitgevee het. Jy was in die Kaap!

Jy’t begin huis ruik. Maar daar was nog een hindernis… Du Toitskloofpas, met sy min verbysteekplekke en sta-a-adige lorries (die Hugenote-tonnel was nog in aanbou). As jy hier agter die verkeerde lorrie beland het, kon jy die hele voorsprong verloor wat jy in jou Cortina of Datsun SSS opgebou het.

En dan het jy uiteindelik die pas se kruin gehaal en daardie slap draai na links gevat, met Wellington en die Paarl se liggies onder jou en Kaapstad s’n doer ver. Dit was asof ’n gordyn skielik agter die kar gesak het en alles agter jou – Roete 62 en die hele bleddie militêre basis – uitgevee het. Jy was in die Kaap!

Nou was jy nie meer ’n dienspligtige nie. Jy was ’n min of meer gewone agtienjarige ou wat vir die volgende 48 uur min of meer gewone agtienjarige dinge sou probeer doen. Ordentlike kos eet. Laat slaap. Spur toe gaan. Met niemand wat op jou skree nie.

Terwyl jy met die pas daal, sou iemand ’n kam uit sy binnesak haal en sy hare begin kam. Die naweek het begin.

DIE TERUGRIT MET Roete 62 was soos om huis toe te ry ná ’n groot Curriebeker-nederlaag.

Ons moes Sondagaande twaalfuur terug in die kamp wees, maar dit was ’n gewroeg om in die pad te val. Jy’t gesukkel om die ander ouens in die hande te kry. Die meeste kere het ek gehike.

In die proses is ek ’n hele paar keer deur vreemde karakters opgelaai. ’n Hardhorende oom in ’n bakkie het oor my voet gery terwyl ek besig was om my tas van die bak af te haal. My voet was seer, maar ek was meer ontsteld oor my stepout-skoen se politoer wat afgetrap is. Ek sou die skoen van voor af moes bone vir die volgende inspeksie... Kiwi-politoer, bietjies-bietjies spoeg, ’n lappie en ’n uur se gepoets voor by die skoen se punt.

’n Ander keer het ’n swaar gegrimeerde man met swart leerklere my opgelaai. En net daarná ’n begeesterde – nee, maniese – ou in ’n flenters Ford Granada wat my wóú wys die kar kon steeds 160 km/h haal.

Die Granada het erger padvibrasies gehad as ’n ou vliegtuig wat deur die klankgrens probeer bars, maar dié ou móés 160 km/h haal, asof dit sou verged vir al die terugslae in sy lewe.

Hy het vooroor geleun, die stuurwiel vasgeklem en voet in die hoek gesit. “Hy loop, hê?!” het hy elke paar sekondes bo die padgeraas gegil, terwyl die Granada geleidelik spoed opgetel het teen Roete 62 se afdraandes.

Ek kan nie onthou of ons 160 km/h gehaal het nie.

DIE RIT TERUG is oorheers deur een stukkie pad. Daardie laaste pylreguit strook net voor Oudtshoorn.

Jy het die militêre basis begin aanvoel wanneer jy skuins ná elfuur die aand deur Calitzdorp gery het. ’n Ent verder het jy Oudtshoorn se dowwe gloed begin sien.

Van daar af het almal stiller geraak.

En dan, op daardie reguit stuk pad sowat 10 km voor Oudtshoorn, het jy skielik ’n klein rooi liggie gesien, die een bo-op die betonreservoir op die koppie net voor die dorp.

Net anderkant daardie liggie het die basis gelê. En alles wat daarmee saamgaan.

VIR ’N HELE paar jaar ná diensplig het ek moeite gedoen om nié die R62 te ry nie. Aan die beginjare van die KKNK wou ek graag fees toe gaan, maar het net nie kans gesien vir Roete 62 en Oudtshoorn nie.

’n Paar jaar later is ek met my motorfiets vroegoggend met Roete 62 deur die Klein Karoo. Tussen Barrydale en Ladismith het ek gestop. Ek het om my gekyk – die Langeberge dié kant, die Swartberge daai kant, die veld, die reuk, die stilte...

Ek het vir die eerste keer gesien hoe absoluut onuitspreeklik mooi dié ruwe wêreld is.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #20 (Junie 2006) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.