Ek dink. Niks.

“Komaan, jy werk immers vir ’n reistydskrif,” kom die vraag weer.

Amper sê ek Thelma and Louise, maar bedink my betyds. “Uh… The Great Escape,” sê ek uiteindelik.

“Maar dis ’n oorlogfliek, nie ’n padfliek nie.”

“Ja, maar daai toneel waar Steve McQueen met die motorfiets wegjaag vir die Nazi’s, dit tel as reis...”

Ek moet bieg, my redenasie was nie juis oortuigend nie. En selfs terwyl ek hier sit en tik, kan ek steeds nie ’n enkele behoorlike padfliek onthou wat ek as kind gesien het nie. Goed, dis nou nie juis ’n onthulling wat die Menseregtekommissie se aandag sal trek nie.

Ek sit net gewoonlik met ’n mond vol tande wanneer mense praat van daardie één fliek wat hulle destyds as kind besiel het om eendag die pad te vat en sommer net te ry – ’n fliek soos Easy Rider waar Dennis Hopper en Peter Fonda met chopper-motorfietse gaan soek na die “regte” Amerika.

Easy Rider het ek nooit gesien nie (meer oor die redes later). Die naaste wat ek en my maats op laerskool aan ’n padfliek gekom het, was waarskynlik daardie stukkie in die cowboyflieks waar die poskoets vir die rowers of Indiane wegjaag.

Terug na The Great Escape. Dié fliek, oor ’n klomp Amerikaanse soldate wat in die Tweede Wêreldoorlog uit ’n Duitse krygsgevangenekamp ontsnap, is in 1963 uitgereik, en vandat ek my verstand het, het dit elke jaar by een van die twee flieks op ons dorp – die Plaza en Rec – kom wys. Dit was deel van die dorp se seisoensritme. Een goeie oggend terwyl jy met jou fiets skool toe trap, het jy skielik daardie bekende plakkaat op die houtkennisgewingbord op die hoek van Van Riebeeckstraat en Cluverweg gesien: Steve McQueen op ’n motorfiets, agtervolg deur ’n paar begeesterde Nazi’s.

The Great Escape was terug op die dorp!

Maar onderaan die plakkaat was die gedeelte wat eintlik vir ons saak gemaak het: “Geen persone 4-12”.

EK WONDER OF die Publikasieraad destyds besef het watter verreikende – en soms traumatiese – implikasies hierdie ouderdomsbeperking vir die land se laerskoolbevolking gehad het.

Kyk, dis ’n normale verskynsel in enige skool dat die kinders groepe vorm. Dié wat rugby speel en dié wat musieklesse neem; dié met resiesfietse en dié met dikwiele (nee, ’n dikwiel met ’n Threespeed en drop handles het nie die paal gehaal nie).

Maar op een terrein was daar op laerskool geen grysgebied nie: Óf jy het The Great Escape gesien óf nie. Dít was die Rubicon wat jy moes oorsteek as jy pouses wou saamgesels oor presies hoe Charles Bronson – Danny “the tunnel king” – die tonnel onderdeur die kamp se heining grawe.

En ja, met ’n bietjie moeite kon jy enige van hierdie etikette afskud. Saam met my in die rugbyspan was ’n paar blokfluitspelers, en van die voorspelers het in die koor gesing.

Maar op een terrein was daar op laerskool geen grysgebied nie: Óf jy het The Great Escape gesien óf nie. Dít was die Rubicon wat jy moes oorsteek as jy pouses wou saamgesels oor presies hoe Charles Bronson – Danny “the tunnel king” – die tonnel onderdeur die kamp se heining grawe. Of oor die fliek se bekendste toneel, waar Steve McQueen – Hilts “the cooler king” – met sy motorfiets oor ’n hoë doringdraadheining probeer spring om weg te kom van die Nazi’s.

TWEE DINGE HET tussen jou en The Great Escape gestaan: Daardie 4-12-ouderdomsbeperking en Kees, ’n ou wat ’n paar jaar van tevore in ons skool was en

nou die deurwag by die Plaza was.

Vir iemand in standerd 2 of 3, was ’n 4-12-fliek ’n formidabele toets, want wragtag, as jy nie op elfjarige ouderdom by ’n 4-12 kon inglip nie, was jou kanse bitterlik skraal op lidmaatskap van enige skaflike laerskoolbende.

En daar aan die bopunt van die trap na die Plaza se galery het Kees teen die kosyn geleun met ’n sigaret tussen sy duim en wysvinger: die bepaler van jou lot. As jy nie 12 gelyk het nie, het Kees jou met ’n flik van die duim die deur gewys.

Jy moes besluit: gaan jy verby Kees probeer kom, of gaan jy jou trots sluk en ’n mindere fliek soos Herbie Rides Again of selfs The Sound of Music gaan kyk.

In standerd 2 het ’n klompie van ons tydens pouse besluit vandag is die dag dat ons The Great Escape gaan kyk. “Kees se moer,” het iemand tydens pouse gesê, eintlik maar om ons moed in te praat.

Daar was verskeie tegnieke om verby Kees te kom en ons het almal gelyktydig ingespan. Jy het ’n groterige baadjie aangetrek en jou kraag opgeslaan. Dan het jy jouself as deel van ’n groep probeer insmokkel. Jy gee ’n stuk of sewe kaartjies vir die ou wat die oudste lyk, laat hom voor stap en terwyl Kees die kaartjies skeur, koes-koes jy onderlangs verby.

En dit het gewerk! Ons was almal in!

Een oomblik het ons nog effens senuagtig op ’n ry gesit, en skielik het die ligte afgegaan. Nou was ons veilig in die donker. Die projektor het begin krrr.

Ek het opgekyk. Bo my het ’n dun blouerige ligstraal deur die sigaretrook geskyn. Al daardie tonele wat oor die jare heen verbode was – en Steve McQueen se sprong – was in daardie

enkele straaltjie vasgevang.

DIT WAS ASOF ons daardie middag Kees se houvas oor die Plaza gebreek het.

Van daardie dag af het ons die ander 4-12-flieks met toenemende selfvertroue gaan kyk… The Dirty Dozen, The Magnificent Seven, Kelly’s Heroes, Where Eagles Dare – almal op ’n manier padflieks. Dié ouens was almal op pad iewers heen, al was dit nou om ’n kasteel vol Nazi-offisiere te gaan opblaas.

Bo van die galery af het ons Clint Eastwood se cowboyflieks gekyk. For a Few Dollars More en The Good, the Bad and the Ugly. Nie padflieks nie. Ou Clint het min of meer op een plek gebly – gewoonlik ’n godsverlate dorpie met baie tolbosse – en dan van daar 360° om hom heen geskiet.

En dan was daar natuurlik Butch Cassidy and the Sundance Kid, waar Paul Newman en Robert Redford tot in Suid-Amerika gejaag word. Beslis ’n padfliek. Onthou julle daardie slottoneel waar Butch en Sundance al skietende teen ’n oormag Boliviaanse polisiemanne uit hulle wegkruipplek storm? Vergelyk dit nou met Thelma and Louise se slottoneel, waar dié twee – oënskynlik triomfantlik – met hulle motor oor ’n afgrond ry.

Ja-nee, Thelma-hulle is van Venus en Butch-hulle van Mars.

Wat Villa Rides so ’n puik padfliek gemaak het, was sy pragtige temaliedjie, geskryf deur Maurice Jarre, die ou wat ook Doctor Zhivago se musiek geskryf het. Ek neurie vandag nog “Villa Rides” in my valhelm as ek lekker ry met my motorfiets.

Vir my was die beste reisfliek van die 4-12-genre waarskynlik Villa Rides. Ek onthou net Charles Bronson en ’n paar ander manne het iewers deur Mexiko gery op ’n trein met sulke oop trokke wat met sandsakke toegepak is. Elke nou en dan het Charles besluit hy het nou genoeg nonsens gehad en met ’n masjiengeweer ’n paar dosyn moeilikheidmakers afgemaai.

Wat Villa Rides so ’n puik padfliek gemaak het, was sy pragtige temaliedjie, geskryf deur Maurice Jarre, die ou wat ook Doctor Zhivago se musiek geskryf het. Ek neurie vandag nog “Villa Rides” in my valhelm as ek lekker ry met my motorfiets.

OP HOËRSKOOL WAS daar natuurlik ’n nuwe uitdaging: om ’n 4-16-fliek te siene te kry. Teen hierdie tyd was Kees weg en moes ons ’n nuwe deurwag, Tyres, fnuik – ’n ou wat die skoolbanke vroeg verlaat het vir ’n loopbaan by die Plaza.

Nou het ons nie meer matinees gekyk nie, maar saans gaan fliek.

Teen hierdie tyd was die padflieks se helde anders. Dit was ouens soos Burt Reynolds wat in Smokey and the Bandit in sy swart Trans-Am rondjaag.

Daar was nie meer Duitsers om teen te veg nie. Burt was hardegat net omdat hy lus was vir skop, skiet en double clutch.

Die een werklike padfliek wat daar wel was, Easy Rider, het ’n ouderdomsbeperking

van 18 jaar gehad, maar dit was onmoontlik om verby Tyres te kom.

SEDERTDIEN HET EK ’n klomp goeie padflieks gesien. In die 1980’s was daar Fandango en in die 1990’s die pragtige Stand by Me. Verlede maand het ek The Motorcycle Diaries tuis gekyk. Stemmig en mooi. (Ek het nog steeds nie Easy Rider gesien nie, dalk as ’n gebaar van respek teenoor Kees en Tyres.)

Maar wanneer ek aan padflieks dink, sien ek heel eerste vir Steve McQueen wat op sy motorfiets deur daardie lowergroen heuwels vir die Nazi’s wegjaag en probeer om tot in Switserland te ramp.

Steve het nie die ander kant gehaal nie. Die Nazi’s het hom bebloed tussen die drade opgetel en teruggevat kamp toe. Maar dit maak nie saak nie. As jy my vra, is The Great Escape loshande die beste padfliek nog.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #17 (Maart 2006) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.