My eerste string ervarings met bakkies het my stresvlakke goed verhoog. Ek het nie met bakkies grootgeword of met hulle leer bestuur nie. Toe ek dus ’n paar jaar gelede as reisjoernalis by WegRy & Sleep begin werk, is ek by die diep kant ingegooi.

Ek onthou nog hoe my redakteur binne die eerste week die sleutels van ’n splinternuwe Amarok in my hand stop en sê: “Dè, vat hom en gaan leer hoe om te ry.”

Later is ek op ’n 4x4-opleidingskursus gestuur waarna ek seker was ek sou nooit weer agter die stuur van ’n bakkie toegelaat word nie. Elke hindernis het my erge hartkloppings gegee.

Telkens sien ek voor my geestesoog hoe ek ’n buffer of treeplank af ry, die ratkas laat oppak of die bande laat ontplof.Deur ’n vlak rivier trek ek my skoene uit sodat ek makliker kan swem as ek sink. Op die ou end is ek anderkant uit en huis toe met ’n sertifikaat wat sê ek ken nou blykbaar die basics.

Die waarheid van veldry is dat jy eintlik eers die basics met tyd onder die knie kry. Dit het my vele toere, baie daarvan stoksielalleen, gevat om uiteindelik van die aanvanklike senuagtigheid verlos te raak. Stadig maar seker het ek geleer hoe om te ry (wat presies onder die enjinkap aangaan, bly egter steeds ’n leerproses).

In sy boek Zen and the Art of Motorcyle Maintenance wonder Robert M. Pirsig of ’n mens die langpad met meer gemoedsrus aanpak as jy die meganika van ’n motorfiets van hoek tot kant verstaan, of wanneer jy bloot sonder enige praktiese kennis reis met ’n soort salige, naïewe vertroue in jou masjien die pad vat.

Die vraag is dus of ’n mens sielsrustiger is as jy weet jy kan self ’n ding regmaak, of is dit onnodige stres wat jy eerder in die hande van ’n werktuigkundige of versekeringsmaatskappy laat?

Dieselfde vraag geld vir veldry diep in die boendoes. Dis ’n filosofiese gesprek vir ’n laatnagkampvuur en beslis iets waaroor ek al baie gewonder het as ek alleen reis.

Een ding is egter ’n feit soos ’n koei: Jy gáán in ’n stadium skeef trap. Hoe jy die situasie dán hanteer, bepaal uiteindelik jou gemoedstoestand. Nie net in die oomblik nie, maar dikwels ook op die res van ’n toer. Ons praat hier van jou uiterlike kalmte en innerlike vrede: jou Zen.

Ek ken ouens wat ratkaste, turbo-aanjaers en diffs langs die pad kan oorbou, en ek ken ook ’n paar manne wat boggherol weet. Albei soorte reis met Zen.

En nou, ná jare se alleentoere, besef ek daar is ook Zen te vinde in die grys gebied tussenin. Dis juis my eie (herhaalde!) glipsies wat my geleer het daar is drie belangrike stappe in jou soeke na Zen op die langpad.

Stap een: Wees kreatief

Waar kennis beperk is, kan kreatiwiteit soms die gaping vul. Dis ook bekend as die boer-maak-’n-planmetode.

Een laatmiddag op ’n agterpad naby Smithfield kry ek ’n pap wiel. Dis eers toe ek die bakkie probeer oplig, dat ek sien die domkrag (’n geleende bottelsoort een) strek net halfpad. ’n Meganies verstandige ou sou by die huis al seker gemaak het die ding werk of dit daar en dan reggemaak het.

’n Leek soos ek staan eers hande in die hare vir ’n wyle totdat ’n idee uitbroei: Ek moet die noodwiel eers heeltemal afblaas sodat die velling laag genoeg kan kom om oor die naaf se boute te pas. Agterna kan ek die band met ’n kompressor opblaas.

‘Ek maak die boute los en ontdek dat die wielvelling aan die naaf vasgeroes is. Ek probeer eers elke vloekwoord wat ek ken, maar dit maak nie saak hoe vurig ek die wiel aanspreek nie, hy bly hardkoppig vasklou.’

’n Ander keer ry ek alleen in die winter deur Lesotho. Net duskant die ingangshek na die Sehlabathebe- nasionale park ploeg die bakkie se neus met ’n gewelddadige slag in die grondpad in.

Die linkervoorwiel het afgeneuk (nugter weet hoekom). Eers moet ek metaalskerwe met ’n knipmes uit die draad van die naaf se boute krap, later die bakkie met twee domkragte op die ongelyke grond oplig en uiteindelik die moere vasdraai met ’n gelapte moersleutel wat een van die locals in ’n nabye stoorkamer uitgekrap het. (My moersleutel was nêrens te vinde nie.)

Eendag in die Namakwa- nasionale park, dóér teen die kus sonder mens of selfoonsein, kry ek weer ’n pap band. Ek maak die boute los en ontdek dat die wielvelling aan die naaf vasgeroes is. Ek probeer eers elke vloekwoord wat ek ken, maar dit maak nie saak hoe vurig ek die wiel aanspreek nie, hy bly hardkoppig vasklou. Hierdie keer was die oplossing in die kombuisboks, want ’n bietjie kookolie in die groewe kry uiteindelik die wiel af.

Stap twee: Bel ’n pêl

’n Meganies opgewasse ou stres min, want hy weet wat ’n sekere enjingeluid, waarskuwingsliggie of gevoel aan die stuurwiel beteken. As jy nie daardie ou is nie, help dit om iemand te ken wat jy in ’n penarie kan bel.

Gerrie van Eeden, ’n oudkollega en pêl wat ken van bakkies, is my phone a friend. Sy advies het my al menige keer uit ’n penarie gehelp en verhinder dat ek ’n voertuig verder verniel. Soms kan ek hoor hoe skud hy sy kop vir my vrae voordat hy laggend verduidelik hoe ek moet maak.

Ek bel hom eendag waar ek (nog lekker nat agter die ore) in ’n Jeep Wrangler by ’n vulstasie sit. “Sê my gou,” begin ek en probeer nie te onnosel klink nie. “Kry ’n mens ’n diesel-Wrangler?”

Hy rol sy oë so hard dat ek dit deur die foon kan hoor. (Die antwoord is nee, kan ek jou na dese vertel.)

’n Ander keer bel ek weer toe ek met ’n Mazda BT-50 in die Klein-Karoo skielik krag verloor teen ’n bult.

“Het jy dalk nou net deur ’n slaggat of iets gery waar die bakkie gestamp het? vra hy. “Ja, nogal,” antwoord ek. Dit kan wees dat die rekenaarbrein ’n hou gevat het, verduidelik Gerrie, en die bakkie in veiligheidsmodus oorgeskakel het.

“Sit hom af, wag ’n bietjie en sit weer aan,” stel hy voor. En wrintiewaar, nes ’n gewone komper se nukke, werk dit soos ’n bom.

Stap drie: Maak vriende

Daar is tye waar ervaring, kreatiwiteit of ’n pêl se advies jou nie uit ’n penarie kan help nie. Steek dan maar jou trots in jou sak en vra hulp by ’n vreemdeling. Ek moes dit al baie doen.

Eendag ry ek terug van die Kalahari af met die R355-grondpad deur die Tankwa, ’n stuk pad wat berug is vir bande kou. Maar ek is in ’n bakkie (’n ding wat mos moet veld toe) en steur my min aan die waarskuwings.

Halfpad tusen Calvinia en Ceres bars ’n band en 20 minute later ook die noodwiel. ’n Barmhartige Samaritaan van Brackenfell tel my – met ’n pap wiel onder elke arm – op en laai my by die huis in die Kaap af. Twee dae later vat ’n vriend my terug Tankwa toe, dié keer met twee heel wiele onder die arms.

’n Ander keer verdwaal ek op pad na die Oranjeriviermonding buite Alexanderbaai en ry in ’n vleigebied in. Die bakkie gaan lê op sy pens in pikswart modder wat my bene tot by my knieë vlek wanneer ek uitklim. My enigste opsie was om die 2 km dorp toe te loop en verleë aan te klop by huise met ’n bakkie in die oprit om my uit te sleep.

Deesdae stop ek ook om te help waar ek kan, al weet ek steeds nie eintlik veel van bakkies af nie. Dis goed vir ’n mens se karma. En die slag wanneer ek weer in ’n veldry-penarie is en my stresvlakke voel styg, bly ek kalm.

Ek sluit my oë, haal diep asem, en herhaal my mantra: Ek is die Zen-meester, die Boeddha van bakkiery.