Dit was Desember 1974 en ek het pas my eerste woonwa gekoop.

Dit was ’n blou-en-wit Sprite Tour-a-way; ’n opslaanwoonwa, heerlik vir sleep, met min windweerstand en relatief lig.

’n Mens het twee deksels oopgevou wat twee dubbelbeddens geword het, een na voor en die ander na agter. Met die oopvouslag het jy sommer ook die tent, wat aan die deksels vas was, oopgeslaan.

Dit was vakansietyd en ons verlof het uiteindelik aangebreek. Die tweedehandse Tour-a-way was vir my iets nuuts en ek het nie juis veel van woonwasleep geweet nie. Voorheen was dit maar tente vir ons.

Destyds het ek ’n Renault 16 gehad – ’n voorwielaangedrewe 1 470 cc-motor. Die kar het van Engeland af gekom – hy het so ’n duifgrys-blou kleur gehad en was mooi opgepas. Ons het sowat 18 maande tevore met dié kar na die destydse Rhodesië getoer en toe skuins oor die destydse Transvaal na Mosambiek gereis voordat ons deur die Vrystaat terug is Kaapstad toe.

Hierdie sou ons eerste propperse woonwavakansie wees, by Sedgefield anderkant Wildernis. Toe ek die Vrydagmiddag die woonwa haak, was hy vólgelaai. Dit kon ek sommer so met die wegtrek voel.

Die Renault het swaar gesleep. Die voorwiele het gesukkel om behoorlik vastrapplek te kry weens die gewig agter op die haak. Tussen Bellville en die Paarl is baie bulte en ek het gou geleer: Laat loop teen die afdraande en trap die lepel plat teen die steiltes. Dan moet jy duim vashou en hoop daar is nie ’n vragmotor of ander stadige voertuig voor jou terwyl jy op spoed is nie.

Dit was in die dae voor die Hugenotetonnel deur die Du Toitskloof, en ek het dus geen ander uitweg gehad nie: Ek móés met die lang pad oor die berg ry. Daar was ’n laatmiddagsonnetjie agter ons toe ons die berg vat. Ek kon sien my vrou, Annemarie, is nogal gespanne, maar ons oudste, Fritz, toe nog ’n baba, het rustig op die agtersitplek gelê en slaap. Namate ons teen die pas gevorder het, het ek kort-kort oorgeskakel na ’n laer rat. Dit het amper gevoel of die handrem aan is.

Die kar het nie ’n temperatuurmeter gehad nie, net ’n rooi liggie wat vir jou sê die kar se enjin is aan die kook.

Ongeveer 2 km teen die pas uit gaan die rooi liggie aan. Ek het afgetrek en uitgeklim, en toe ek die enjinkap oopmaak, kon ek sien die water het reeds uitgekook. Dis nie ’n probleem nie, dag ek. Ek is mos voorbereid.

Die kar het nie ’n temperatuurmeter gehad nie, net ’n rooi liggie wat vir jou sê die kar se enjin is aan die kook...

Ek haal toe ’n bottel water uit die kar en gooi dit in die Renault se oorloopbottel, wat van glas gemaak was. Ek moes seker maar eers gewag het, maar toe die water die glas tref, bars die affêre aan stukke.

Al uitweg nou was om die Paarl onder by die voet van die berg te probeer bereik. Ek draai toe die motor om, en sonder om die enjin aan te skakel “free wheel” ons drie, die Renault en die Tour-a-way terug Paarl toe. Onder waar die pad gelyk word, het ek die kar aangeskakel en gery tot die liggie weer aankom. Toe skakel ek maar weer af, wag ’n rukkie en ry verder – so twee keer.

Verder wou ek nie, want netnou breek iets.

Fritz lê steeds deur alles en slaap. ’n Motoris het ons penarie raakgesien en stilgehou.

Ná beraadslaging sê hy toe hy sal by Droomers se motorhawe in die Paarl aangaan – hulle het ’n deurnagdiens gehad – en hy sal reël dat hulle my kom insleep.

Spoedig is die inslepers daar en neem ons met die Sprite steeds aangehaak na Droomers toe. Die prosessie het amper presies gelyk soos ’n skets wat ek ’n week vroeër vir Die Burger se byvoegsel geteken het om vakansiegangers te herinner om goed voor te berei vir hulle reis. In hierdie geval was daar egter ’n woonwa agter die kar en nie ’n boot nie.

Dit was al skemer toe ene mnr. Jacobs ons by die motorhawe ontvang. En gode sy dank het hulle ’n plastiekbottel vir die oorloopwater.

Ongeveer ’n uur later begin ons toe ons tweede aanslag op die berg. Ons volg dieselfde roete met dieselfde oorlaaide woonwa. Ons vorder stadig bergop en kyk vir die bakens waar ons vroeër moes aftrek.

Teen hierdie tyd loop die spanning hoog. Uit die hoek van my oog kan ek sien Annemarie hou onbewustelik aan die kar se paneelbord vas en vra benoud of die rooi liggie nog af is.

En jou wrintiewaar, seker 800 m verby die vorige omdraaiplek gaan die rooi lig wéér aan! Ek trek af en maak die enjinkap oop, maar die oorloopbottel is nog in een stuk. Wat nou? Ons draai toe maar weer om en “free wheel” weer teen die berg af, terug Paarl toe. Ry, rooi lig, afkoel, ry, rooi lig, afkoel... tot ons teen donkeraand terug is by Droomers. Mnr. Jacobs maak oop en toets. Aha! Die “relay” wat die waaier moet aanskakel, werk nie. Hy soek tussen die onderdele – nêrens is ’n waaier-“relay” nie.

En jou wrintiewaar, seker 800 m verby die vorige omdraaiplek gaan die rooi lig wéér aan!

Maar ’n boer maak ’n plan. Hy vat toe een van ’n toeter, skroef dit vas, koppel die drade

en laat die enjin luier. Ná ’n rukkie skop die waaier aan.

Teen dié tyd is dit al laataand en ons besluit om maar huis toe te gaan en dan die Saterdag weer te probeer. Maar ons is onseker of ons dit met die woonwa kan waag in die nag terug huis toe. Al uitweg is om vir Swaer Cules in Durbanville te bel en te vra hy moet kom help met sy 1700-Kombi.

Teen tienuur is hy daar. Ek en hy haak die woonwa terwyl Annemarie en die kind in die Kombi klim. Ek ry agterna. Dit was seker so skuins ná elfuur toe ons in Bellville aankom en my swaer weer sy koerskry huis toe. Dis eers nadat hy weg is, dat ons besef Fritz se mandjie met kos en melkbottels het in die Kombi agtergebly – en nou is hy wakker.

Ek sit my swaer agterna, maar so halfpad Durbanville toe breek die kar se skokbreker links agter – seker maar gedaan ná al die gespook met die woonwa. Teen middernag klap-klap ek terug huis toe met ’n stukkende skokbreker en ek hoor boonop die knaldemper het deurgebrand.

Saterdag het ek en my swaer, Louis Roberts, die skokbreker en knaldemper reggemaak. Sondag het ons, soos die Bybel beveel, gerus, maar daai Maandag het ons weer met die Tour-a-way in die pad geval.

Dié slag Louis en sy gesin in ’n Mercedes 190D – daai vlerkiemodel – agter ons aan.

Die Du Toitskloofpas het egter ’n ewige vrees vir lang opdraandes by ons gelaat.

Ons ry Wellington langs, verby die Voëlvleidam en oor Ceres en Worcester – óm die berg. Nou het dinge goedgegaan, en ook ons terugtog was sonder voorval.

Nooit sou ek kon dink dat ’n tekening wat ek gemaak het, só lelik op my sal boemerang nie. 


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep (Desember 2013) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.