Enige local sal jou vertel dis nie maklik om van die Nyungwewoud- nasionale park in Rwanda tot by Kibuye, ’n mooi dorpie langs die Kivumeer, uit te kom nie. Soos die kraai vlieg, is dit naby – alles in Rwanda is naby, want die land is byna so groot soos twee rugbyvelde – maar dít help eintlik niks as jy nie ’n kraai is nie.

Ek het pas ’n paar heerlike dae in Nyungwe deurgebring. Dié bergagtige woudpark is in die suidweste van die land, daar waar dit aan Burundi en die Kongo grens.

Die veldwagters het voorgestel ek probeer ’n geleentheid soek tot op die dorp Buhinga. Daar kan ek blykbaar ’n bus haal Kibuye toe, skaars 70 km verder aan die oewer van die Kivumeer.

Buhinga is egter nêrens op my kaart nie, maar dis te verwagte, want my andersins baie gedetailleerde landkaart het – seker vanweë ’n drukkersduiwel of tien – geen dorpsname op nie.

Ek is nie die enigste een wat palm uitsteek (hier gooi ’n mens nie duim nie, jy hou ’n oop, vraende palm uit) langs die teerpad nie. ’n Ou veldwagter is reeds hier; toe die brandstoflorrie dus stop, staan ek terug sodat die ou man eerste kan klim. Maar die bestuurder wink my ook nader. Sy junior bestuurder word in die slaapbank ingeboender... plek vir my.

Abdu Kimuli is ’n vriendelike Ugandees. Hy ry van Uganda af, deur Kigali, af na Butare en draai dan wes, met hierdie pad langs, tot by Cyangugu, die grensdorp teen die Kongo.

“What are you carrying?” vra ek hom, hoewel ek wéét die antwoord gaan nie “melk” wees nie. “Jet fuel,” kom die antwoord, en toe weer, net om die belangrikheid daarvan te beklemtoon, “Jet fuel. For the DRC.”

My arme ma. As sy weet waar ek nou sit...

Ek besluit om maar die uitsig te geniet. Daar is L’Hoest-ape met hulle wit pofkrae, en groot blou turacos wat tussen die boomtoppe vlieg soos vragvliegtuie. Die hele pad is basies ’n bergpas, en die lorrie ry nooit veel vinniger as loopsnelheid nie. En dis oukei met my, want ek’s nie lus om iewers onder in die vallei tot my einde te kom nie. Met al hierdie jet fuel op ons rug sal dit nogal behoorlike vuurwerk wees.

Stadig ry is niks nuuts vir Abdu nie. Sy 270 km lange roete neem gewoonlik ’n dag en ’n half om te voltooi, sonder om stil te hou.

Uiteindelik laat ons die digste bosse agter en die ou veldwagter klim af; sy huis is hier naby. Abdu het nog nooit van my bestemming, Buhinga, gehoor nie, dus stop ons om te vra. Dis net om die draai, wys die mense.

Dis gou duidelik hoekom niemand veel weet van Buhinga nie, want dis net ’n kruispad waar ’n paar ouens MTN-lugtyd verkoop.

Abdu wuif tot siens. Ek kyk om my rond. Dis nou elfuur en die veldwagters het gesê die bus kom teen tweeuur se kant. Ek vra waar die bus stop en gaan sit daar. Ek is nie haastig nie.

Ná ’n ruk kom ’n jong man gesels. Theogene Karekezi is ’n telekommunikasiestudent en ’n aanhanger van Kenny Rogers en Don Williams. Hy weet nie so mooi van die tweeuurbus nie, maar hy’s taamlik seker dit sal teen drieuur hier wees.

Buhinga is egter nêrens op my kaart nie, maar dis te verwagte, want my andersins baie gedetailleerde landkaart het – seker vanweë ’n drukkersduiwel of tien – geen dorpsname op nie.

Ek gee nie om nie. Solank dit kom en daar ’n plekkie vir my is. Ek koop water en geroosterde grondboontjies by ’n winkeltjie.

Voertuie kom en gaan, reën stuif deur die tropiese hitte en verdwyn weer. Twee hoenders pik na niks onder die “World AIDS Day”-banier. Kinders kom verby met enorme bondels hout op die kop, motorfietstaxibestuurders kom show af voor die vroue wat kom suiker koop. Almal gesels op ’n selfoon, een man eet ’n suurlemoen asof dit sjokoladekoek is, en ’n Toyota Hi-Ace met ’n bufferplakker wat sê “My Toyota is Fantastic” pik ’n vrag mense op en mik na Cyangugu.

Drieuur word vieruur en ek begin bekommerd raak. Maar al hoe meer mense daag nou op.

’n Ou man met ’n geamputeerde voet wat al heeldag hier rond is, het nou en dan mense mooi gevra vir kos of geld. Nou staan hy voor ’n klein seuntjie, netjies aangetrek soos sy pa. Die seuntjie is heeltemal meegevoer deur die man se been, want dié is in gips.

Die ou man kyk nou na sy gipsbeen, mompel iets en vroetel in sy sak rond. Hy haal ’n bondeltjie vuil lap uit. Toegevou in die lap is munte, waarvan hy een in die oop hand van die kind plaas.

Dan hink hy weg.

Skielik is daar ’n beroering. Die bus is hier! Theogene maak seker ek kom veilig op die bus – dis al vyfuur. Dis ’n ou dog stewige bus en ek kry sitplek naby aan die middel, omtrent regoor die deur. Van daar af kan ek elke nuwe passasier sien wat opklim wanneer ons by ander haltes stilhou.

Die bus is gou vol. Die gruispad kronkel opdraande, afdraande en elke kilometer om ses haarnaalddraaie. En nooit word stadig gery nie. Voetgangers, hoenders en ander lewende hawe duik soms letterlik uit die pad uit op.

Ondanks die feit dat ons bestuurder duidelik ’n maniak is, lyk die res van die passasiers rustig, dus probeer ek ook kalm bly. Die landskap wat deur die venster stroom, is byna oorryp van die kleur: die nat bruin en geil groen skakerings van piesang-, tee- en koffieplantasies, dan weer kassawe- of aartappellande, en dan weer rysakkers wat blink van die water.

Elke lappie grond is beplant. Groot bloekom-, wattel- en dennebome staan langs die pad met plekplek sipresse in ’n knoets – seker waar daar ’n sendingkerkie is.

’n Man met ’n knipbord in die hand lyk of hy iewers teen ’n hang vir ’n groep boere klasgee. Elders, in ’n stil lus van die pad, sit ’n verliefde paartjie op ’n rots.

Ek was verkeerd oor die bus: Dis glad nie vol nie.

Teen sononder hou ons langs ’n rysland stil en laai nog dertig mense op, meestal mans wat ruik na klam kluite en grastou. Hulle hou almal dun kieries vas. Met al die staande passasiers kan ek nou skaars die man oorkant die gangetjie uitmaak, maar hy is nog daar, met die groot staple blou Crocs, plastiekmessegoed en blikbekers op sy skoot.

Ek kan nou nie meer veel sien nie. Hier langs my voet lê ryskorrels. Armholtes hyg bo my kop.

By die Cassanova Bar stop ons vlugtig, en kort daarna ruik ek bier in die bus. Elke keer wanneer ons oor een van die nou houtbruggies rammel, sien ek voor my geestesoog die bruin vloedwater, dik van die weggespoelde bogrond.

Ons bereik ’n dorp met baie ligte. Dit moet Kibuye wees! Maar nee.

Dis nou al ná sewe, ek is honger en ek het ’n piepie wat teen dié tyd blokfluitwysies deur die hoeke van my oë tuit.

Baie mense klim af en ’n paar smouse klim op. Ek koop twee vetkoekies. Sanderig, maar kos.

Ek was verkeerd oor die bus: Dis glad nie vol nie.

Op klim ons weer teen die berge, dieper die nag in. Iewers links lê die Kivumeer nog, maar ek kan dit lankal nie meer sien nie.

Dan verskyn daar ligte in die verte en ek hoop en bid dis Kibuye. Ek is reg. Ons rammel net ná agt by die vulstasie tot stilstand.

Ek swaai my rugsak oor my skouer, roep ’n motorfietstaxi nader en druk die valhelm op my kop. Victor en sy Yamaha vat my tot by Bethanie, die hotel waar ek wil oornag. Maar dié is helaas vol en ek slaan dus maar my tentjie op hulle grasperk op.

Die volgende dag klim ek uit my tent uit. Die wêreld skitter. Klein eilandjies steek plek-plek uit die kalm, helder waters van die Kivumeer uit, wat hier van my voete na die horison strek, waar die buitelyne van die eiland Idjwi (die Kongo) soos ’n potloodstreep teen die weste lê.

Dis die mooiste plek wat ek nog ooit gesien het.

(Theogene het anderdag e-pos gestuur:“I’m OK even I had get any accident, my right hand has broken now I try to write.” Hy was in ’n motorongeluk, maar net sy hand het seergekry. ’n Week later nog ’n e-pos. “Hey my dear, what up? How is the atmosphere? Me fine, stay in touch.” Beslis, vriend, ek sal terugskryf. Die atmosfeer is goed hier.)


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 56 (Junie 2009) verskyn.