Dit het gebeur in die dae toe brandstof ’n kwessie was. Deesdae kan jy mos enige tyd van die dag of nag by ’n vulstasie intrek, maar daar was ’n tyd toe dinge effens anders was.

In die jare tagtig, toe sanksies die land in ’n wurggreep gehad het, was brandstof skaars; al het petrol net 47c per liter gekos. ’n Mens kon net tussen seweuur soggens en sesuur saans gaan volmaak, en Vrydagmiddae het die pompe om twaalfuur gesluit en dan eers weer die Maandagoggend oopgemaak.

As jy oor ’n naweek petrol nodig gehad het, moes jy jou penarie mooi verduidelik en hoop jou pleidooi val op gawe ore.

In dié dae het ons op Klerksdorp in die ou Wes-Transvaal gewoon, en soos dit Transvalers betaam, was ons vakansiebestemming normaalweg iewers aan die Natalse kus. Dan het ons die groot dubbelas-Sprite Sunway agter die Dodge Monaco gehaak en afgesit see toe.

Een bloedige warm Desembervakansie vat ons toe ook die pad Natal toe. Daar was toe al geruime tyd reeds fout met die Dodge se verkoelerdop, want die ding was nie die regte soort nie. As jy hom te styf vasgedraai het, was daar nie plek waardeur die water of stoom kon ontsnap wanneer dit vanweë die hitte uitsit nie. Dit het nie gepla nie, mits jy die prop reg opgedraai het. Die Dodge het hom heelpad see toe gedra, en die Sprite het getrou agterna gedraf.

By die see was die vakansie vol lag, son en braaivleis. Maar... die noodlot is mos maar ’n gemene, listige ou ding. Op die dag dat ons moes oppak en die Dodge se neus weer noordwaarts swaai, kom doen die moeilikheid hom mos toe voor as ’n gawe, behulpsame petroljoggie.

Die man by die vulstasie was ’n deeglike kêrel. Hy het die brandstoftenk volgemaak, die Dodge se olievlak nagegaan en toe sommer die water in die verkoeler aangevul tot in die nek – en die verkoelerdop weer vasgedraai. Sommer lekker styf!

Hoekom ek toe juis in daardie stadium moes staan en vergeet van die verkoelerdop wat nie vas moes wees nie, sal ek nooit weet nie.

Toe ons teen die steiltes anderkant Pietermaritzburg begin uitry, het die Dodge se temperatuurnaald effens begin klim. Ek het gedink dis heeltemal te verstane, want die enjin trek swaar, en die temperatuurnaald was boonop steeds gemaklik in die “Normal”-kerf. Foutjie.

In die Yellow Stone- nasionale park in die Dodge se tuisland is Old Faithful mos die geiser wat met betroubare reëlmaat ’n skouspelagtige stroom kookwater en stoom uit die aarde blaas. Nou, so al asof die kar skielik daar op Van Reenenspas huis toe verlang, trek die Dodge toe eensklaps weg met sy beste nabootsing van die geiser-petalje en blaas ’n straal kookwater en bollings stoom onder sy enjinkap uit.

’n Mens skrik jouself oor ’n mik as so iets gebeur, en ek trek effens bewerig van die pad af en maak die enjinkap oop. Soos ek verwag het, het die druk die verkoeler letterlik uit sy nate laat bars. Laat ek net byvoeg: Dit was ’n agtsilinder-enjin wat sommer baie water nodig gehad het om koel te bly. Al raad was toe maar om die tenk so ver as moontlik terug te buig op sy plek, en die lot met plankies en draad bymekaar te hou. Intussen het ander mense stilgehou om raad (en water) te gee. Die meeste het aanbeveel ek moet kerriepoeier by die water ingooi, want dit sal die lekplek effens toehou.

Net so gebeur dit toe dat die Roosgesin van Klerksdorp eiehandig verantwoordelik is vir Natal se groot kerrietekort van 1982. By elke plek waar ek kerriepoeier kán koop, koop ek sommer genoeg.

Elke 20 km of wat is dit tyd om stil te hou vir water en kerriepoeier. Die Dodge se voorkant is later geel van die kerrie, en ek lyk met elke stop meer en meer soos een van Liewe Heksie se gifappeltjies.

Die Dodge se temperatuurnaald is gevaarlik naby aan die rooi en ek wil nie kanse waag nie. Buitendien, dit kan mos net voordelig wees as ek ’n spietkop aan my sy het wanneer ek my penarie in die aanklagkantoor moet gaan verduidelik.

So met ’n gehinkepink kom ons toe uiteindelik in Kroonstad aan... maar net te laat vir brandstof. Met die bietjie petrol wat in die Dodge se tenk oor is, gaan ons nie die huis haal nie, maar die kinders is klein en moeg, en ons almal wil graag die aand in ons eie bed inkruip.

Die enigste uitweg is om by die polisiekantoor te gaan aanklop om my lot te bekla en te hoop daar is ’n vriendelike konstabel wat my met ’n lekseltjie vir die Dodge se dors kan help. Dit lyk darem of die geluksgodin uiteindelik vir my glimlag, en ek sien ’n verkeersman op ’n motorfiets en vra hom om my na die polisiestasie te vergesel.

Die Dodge se temperatuurnaald is gevaarlik naby aan die rooi en ek wil nie kanse waag nie. Buitendien, dit kan mos net voordelig wees as ek ’n spietkop aan my sy het wanneer ek my penarie in die aanklagkantoor moet gaan verduidelik.

Die verkeersman willig in en wys ek moet hom volg. Maar die noodlot is ’n listige ding. By ’n rooi verkeerslig stop hy, met ons kort op sy hakke. Soos ’n kind wat te lank moes knyp, gee die Dodge se blaas weer die gees. Die planke en draad skiet met ’n geratel los, en ’n straal kokende kerriewater spuit met mening deur die kar se grill en tref die stomme verkeersman met ’n kolskoot op sy rug en kruis.

Hy trek weg met ’n wheelie en sit sy motorfiets se voorwiel eers aan die ander kant van die kruising op die teer neer. Ek besef ek moet byhou en sit hom agterna.

Omtrent ’n blok en ’n half verder kom die spietkop uiteindelik voor die polisiestasie tot stilstand. Hy klim van sy fiets af en stap bakbeen nader terwyl hy probeer om sy nat uniform van sy lyf af weg te hou. Wat hy gesê het, is nie iets wat ’n mens in beskaafde geselskap herhaal nie. Dit kom daarop neer dat hy nie juis ’n snars kon omgee wat verder met ons bedremmelde gesinnetjie gebeur nie, en wat hom betref, kan ons maar die nag in die polisieselle slaap.

Sonder sy hulp was dit ’n vrugtelose poging om by die ander geregsdienaars ’n permit te bekom om na-ure petrol te koop. Die noodlot is ’n mislike ding.

Net toe ek maar wil begin vrede maak met ’n aand in die parkeerterrein van die Kroonstadse polisiekantoor in die Sprite, kom een van die konstabels suutjies nader.

As ek belowe om nie ’n woord te rep nie, en as ek die Dodge tot so 10 km buite die dorp kan aanhelp, sal hy iemand met ’n kan petrol stuur.

Toe ons die aand laat uiteindelik by die huis in Klerksdorp intrek, kon ek steeds nie my dankbaarheid aan daardie konstabel verwoord nie. Die voorsienigheid is ’n pragtige ding.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep (Mei 2013) verskyn.