Giflaagte was nie ’n wafferse plaas nie, maar van sy staandakhuis se klipstoep af was die uitsig mooi: Wit boesmangras wat in die wind wuif, en in die verte die Jan Swartsberge wat newelrig bo die Renosterrivier se vloedvlakte lê.

Met sonsopkoms in die somer sou poele water tussen die fluitjiesriet blink. En in die winter stukke ys. Wanneer dit in die Roggeveldberge gekapok en gereën het, sou ’n wal bruin modderwater wild in die rivier afgalop en stof opskop.

Só vinnig, het Krisjan Houmoed nogal vir die waarheid vertel, dat daar skaapmis en ander opdrifsels op die bagasierooster aan die agterkant van sy Willys gelê het toe hy eenkeer net voor die water deur is.

Dis nie onmoontlik nie, maar Krisjan was ’n spekskieter. Hy het eenkeer gespog hy pak op pad spoor toe 17 lae lusernbale op sy 4 ton-Chev-lorrietjie.

Toe die wysneusige laaimeestertjie op Kootjieskolk parmantig sê-vra: “Oom Krisjan, maar jy lieg mos nou – hoe het jy onder die telefoondrade deurgekom?” het hy sy hoed op die een horing gedruk en gebrom: “Orraait, ek sal twee lae afkom, maar nottendêm, niks meer nie!”

In hierdie ongeskonde swaarkrywêreld het die Floorse in die jare dertig van die hand tot die tand geleef.

Ou oom Floors het laatmiddag met ’n beker koffie op sy tolletjiesstoel in die sonkamer van die huis op Giflaagte gesit en na die Jan Swartsberge getuur – sy voete op ’n bont boerbokvel – toe sy kop op sy bors sak en die blikbeker uit sy hande val.

Sy graf was nog vars toe sy testament gelees is. Giflaagte moet opgesny word, en elkeen van sy vyf seuns moet ’n duisend morg kry.

Dit het destyds baie gebeur dat ekonomiese plase op dié wyse versnipper is en erfgename in armoede ingedwing is op lappies grond waarop ’n pofadder nie kon oorleef nie.

Die oudste seun, Casper, het sy erfgedeelte “Ongunsfontein” gedoop, want, het hy bitter gesê, sy pa het hom ’n onguns bewys deur hom ’n stukkie grond na te laat waarop hy ’n worstelbestaan sou voer.

Hy het hom nietemin teëgesit. Hy het met sy paar stuks vee soontoe versit, getrou en ’n platdakkleihuis gebou. Behalwe ’n slagding af en toe, het hulle merendeels meelpap en dikmelk en turksvye geëet.

Sy drie seuns – Klaas, Johny en Toon – was al groot toe hy die dag ná die bankrotvendusie die voordeur van die kleihuis op Ongunsfontein agter hom toetrek en die Floorse met hulle karige huisraad op ’n skaaplorrie dorp toe is.

Toe die lorrie wegtrek, het Casper sy hoed diep oor sy oë getrek sodat Tryna en die kinders nie kon sien hoe die trane nat stofstrepe op sy wange maak nie.

Op die dorp het die gesin in ’n kamer in Danske se jaart in die onderdorp ingetrek.

As die lemoene klein en suur was, moes Toon dit gaan omruil vir piesangs. Die onderdorp se mense – arm maar skoon – het nie graag piesangs geëet nie. Hulle het gesê die Adamse slaap tussen die groen piesangs om hulle gouer ryp te maak.

Daar het Casper met ’n els en seilnaald vir die boere tuie, tooms, halters, donkietrense en velskoene op ’n tuiebankie gemaak. Velle blousool en wit gebreide naairiempies het aan die dakbalke gehang.

Hulle het nog steeds meelpap geëet, maar party Sondae hoender. En soms lemoene pleks van turksvye.

Sy ma sou af en toe vir Toon met ’n sjieling na Adams se groentewinkel stuur met die opdrag: “Sê vir hulle ek soek twaalf groot rooi, ronde, soet lemoene.”

As die lemoene klein en suur was, moes Toon dit gaan omruil vir piesangs. Die onderdorp se mense – arm maar skoon – het nie graag piesangs geëet nie. Hulle het gesê die Adamse slaap tussen die groen piesangs om hulle gouer ryp te maak.

Een jaar het die Floorse ’n week lank lemoene geëet. ’n Sitrusboer van Clanwilliam het met ’n eselwa vol valencias op Calvinia kom smous. Maar ná die Pakhuis- en Botterkloofpas se op en af was die lemoene teen die tyd dat hy op die dorpsplein uitspan, pap.

Ná drie dae het hy dit sommer verniet begin weggee. Aan elkeen wat verbyloop, het hy gevra: “Jong, wil jy nie lemoene hê nie?” En die Floorse het gevat.

Toe die boere bakkies, trekkers en winkelskoene begin koop, het Casper sy tuiebankie vir Willem Sas, sy handlanger, gegee en vir Tryna gese: “Pak, ons trek Kaap toe!” Bellville, om presies te wees, toe gewild onder Afrikaners uit die platteland.

Hulle is vort, weer agterop ’n skaaplorrie. Op Wellington moes hulle die stoele lêmaak om te keer dat die pote aan die telefoondrade haak.

Dit was in 1948. Baie Afrikaners het in daardie tyd die platteland verlaat. Die destydse eerste minister, dr. D.F. Malan, het dié volksverhuising die Afrikanerdom se “nuwe Groot Trek” genoem.

Hy het ook gesê: “Glo in jou God! Glo in jou volk! Glo in jouself!” Die Floorse het dit ter harte geneem.

Casper het by die munisipaliteit werk gekry as ’n paver. Met sy groot hande het hy jare lank, totdat sy rug ingegee het, dag ná dag die sementblokke op die sypaadjies gelê waarop mense vandag nog in Bellville stap.

Klaas het hare opgevee in ’n barbierwinkel in Houtstraat in Kaapstad voordat hy self ’n barbier geword het.

Met ’n cut-throat razor en skeerkwas van perdesterthare in ’n klein soetkysie het hy naweke vir ekstra geld ryk Jode van Seepunt in hulle woonstel gaan skeer. Sy tips was party maande meer as sy salaris.

Johny het die pad gevat en ’n kroegman op Karasburg in die destydse Suidwes-Afrika geword, en toe ’n kelner op die Spoorweë. Hy het die hooflyntreine tot in Bulawayo gewerk en gou tot chief steward gevorder.

Hy het gesorg dat die silwereetgerei op wit damastafeldoeke blinkgevryf was en ’n rangskikking van proteas tussen bakke vol vrugte op die buffet gepryk het.

Hy het leer Engels praat, kon eksotiese drankies meng, en kon met drie porseleinborde vol stomende kos op sy een arm in die gangetjie af trippel terwyl die trein wiegend oor die Karoovlaktes snel. Sy tips was die meeste maande ook meer as sy salaris.

Toon het gaan “leer” en ná matriek aan die  Handelskool in die Paarl ’n kaartjiesklerk op die Spoorweë geword.

Sy eerste stasie was Woodstock. In ’n wit hemp en swart onderbaadjie met ’n groen plastiekskermpie op sy voorkop het hy kaartjies deur ’n ronde gat in ’n tralievenster verkoop.

Sy ma het elke dag vir hom toebroodjies saam met sy asmapompie in sy verweerde ou skoolboeksakkie van goedkoop kunsleer gepak.

Aan die einde van sy eerste werkdag toe hy die voorstedelike trein Bellville toe moes haal, het hy sy ma gebel en opgewonde gese: “Ma, ek klim nou!”

Stedelike pendel was vir baie van die plattelanders destyds so goed soos ’n vakansie na ’n verre bestemming.

Die Floorse het nie lank gependel voor hulle rygoed begin koop het nie: Klaas ’n Simca, Johny ’n Essex, hulle pa ’n Austin Ten en later ’n Consul. Derdehands, vierdehands. Nie Toon nie. Hy het gespaar en kontant betaal vir ’n splinternuwe Fiat Cub.

Maar Johny se Essex was die bielie onder die afdak by die council-huis waar hulle in Bellville gewoon het. Toe die tweekleur-Essex se rooi en swart begin verbleik, het Johny ’n blik verf gekoop en haar in die agterplaas met ’n vlieëgifspuit in die kleur van sy sigaretboksie oor ge-Duco – Gunston-oranje. Die Essex het soos ’n baie groot nawellemoen gelyk.

Met die oorskiet het hy die paraffienblikke met sy ma se malvas op die council-huis se rooi sementstoep geverf.

Toon het die toon bly aangee. Nadat hy die Spoorweë gelos het, het hy van posklerk tot ’n groot kokkedoor in die versekerings- en bankwese gevorder.

Hy het smiddae in die Here XVII-klub geëet en ’n aktetas van volstruisleer gedra, en soggens het sy sekretaresse ’n vars rooi angelier in sy lapel gesteek. Sy kantoor was groter as die kleihuis op Ongunsfontein.

Toe Ongunsfontein jare later – sy ouers en broers was toe al dood en hy afgetree – in die mark kom, het hy met ’n glimmende swart Mercedes Calvinia toe gery en sy pa se grond kontant teruggekoop.

Ná afhandeling van die transaksie het hy uitgery Ongunsfontein toe. By die bekslanerhek het hy stilgehou, ’n blikkie verf en ’n kwassie uit die Mercedes se kattebak gehaal, die “On” op die plaasnaambordjie doodgeverf en die “g” ’n hoofletter gemaak: “Gunsfontein”. Toe het hy op die klipstoep van die vervalle ou kleihuis gekyk hoe die Jan Swartsberge pers word in die ondergaande son.

Toe dit donker word, het hy in die oorblyfsels van sy ma se gannaskerm vuurgemaak, ’n bottel White Horse uit die Benz gehaal, ’n gesoute winddrooglamsrib op die kole gegooi, en dit by swart koffie en roosterkoek met sy knipmes afgeëet.

’n Sekelmaan het agter vlieswolkies deur die naghemel geskuif terwyl hy tot laat sit en kyk het hoe die gloeiende kole verdof en as word.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #79 (Mei 2011) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy iets raaksien.
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook