Wie kan enigiemand ernstig opneem wat besluit om saam met ’n groep onbekende mense op ’n bus te reis? Dan kan jy netsowel die passasiers in ’n moltreinwa na jou troue toe nooi.

Op só ’n groepstoer ontmoet jy “interessante mense”, vertel die brosjures jou, wat eintlik maar beteken jy moet snags met jou beursie en paspoort tussen jou bene probeer slaap.

Jy hoor net te veel “Come along, people!” en daar is altyd ’n gids wat wil hê die bus moet liedjies sing of gesamentlik een of ander hulpgids bedank: “Mi-ll-e graa-zie, sen-jor Fra-scaa-ti!”

Ek het met my eerste groepstoer in 1976 die luukse opsie gekies, wat uiteindelik behels het dat jy jou eie tent moes opslaan en jou eie lilo opblaas voordat jy natgesweet jou eie aandete van bangers en poeieraartappels kon gaarmaak.

En dan kon jy jou eie varkpan met ’n grillerige groen seep uitwas.

In die Bois de Boulogne, ’n park aan die buitewyke van Parys, is ’n woonwapark. Ons kampeer hier. Die ablusiegeriewe, kan ek nou sê, was swakker as wat ek op my offisierskursus op Bossiespruit naby Kroonstad beleef het.

Met my handdoek en toiletsakkie oor my skouer probeer ek uitwerk hoe ek deur die vlak pan vol skeerwater en urine tot by die storthokkies gaan kom, ’n situasie waarmee ek nog net een keer tevore gekonfronteer is – by die ou Maselspoortswembad. (Dit was hoofsaaklik vierjariges wat daarin baljaar het...)

Motors toet, mense wys tekens. Die mense in die bus is ook in oproer. Almal skree op Jan, en veral Afrikaanse vloekwoorde vlieg rond..

Uiteindelik was ek egter skoon genoeg om hier teen agtuur die aand iets van Parys se kultuur te probeer absorbeer. Of het ek reeds?

OP SO ’N GROEPSTOER is die busbestuurders soms gaaf en soms, wel, minder gaaf. Ek het al ’n paar van hulle gesien wat buite hulleself raak van woede as die kollekte onder die toergangers vir ’n fooitjie nie aan hulle verwagtinge voldoen nie. Dan klink dit of hulle in Pakistans vloek.

Die bestuurder wat loshande die grootste bydrae gelewer het tot my toergroeptrauma was Jan, ’n Hollander en maniak. Een slag ry ons van Londen na Dover, aan die regterkant van die pad, met Jan vloekende en tekensgeeënde aan die %*%$#@ wat aan die “verkeerde” kant van die pad ry.

In die bus is dit stil. ’n Paar mense skryf inderhaas ’n paar (laaste?) reëltjies op poskaarte.

In Frankryk, waar die mense wel aan die regterkant van die pad ry, was ons verligting van korte duur. Parys is ’n mooi stad, maar heelwat besiger as, sê nou maar, Kroonstad. Die Arc de Triomphe is ook een van die besigste verkeersirkels ter wêreld met ’n stuk of ses of agt bane. Dis verskriklik! Ek kom van Welkom af, waar die sirkel ’n alledaagse verskynsel is.

In Welkom het ons altyd die Bloemfonteiners herken aan hoe hulle ’n sirkel benader, byna soos ’n roeier by ’n stroomversnelling: eers huiwerig en dan… in! Dikwels beland hulle dan in die binnebaan, waar hulle dan veral in “spitstyd” vir twee of drie volle omwentelings vasgekeer word en dan, dank Vader, soos Jona by tien- of drieuur uitgespuug word.

Met die trauma in Engeland nog vars in ons geheue nader ons bus toe die étoile Arc de Triomphe. Jan het geen vrees vir ’n sirkel nie (en hy kom nie eens van Welkom af nie). Die arc rys op teen die horison, amper soos die mis van die Victoria-waterval, maar Jan sit voet in die hoek.

’n Praktiese wenk vir iemand wat om ’n sirkel ry, is om in ’n spesifieke baan te bly. Jan, wie se sinapse vuur soos ’n transistorradio wat in die bad geval het, beset kort voor lank baan 2 plus ’n deel van baan 1 én 3.

Motors toet, mense wys tekens.

Hoewel ek destyds geen Frans kon verstaan nie, kon ’n mens sien hoe obsene woorde oor geoefende verhemeltes deur die karre se voorruite glip en teen die skerm agter Jan se kop vasslaan.

Die mense in die bus is ook in oproer. Almal skree op Jan, en veral Afrikaanse vloekwoorde vlieg rond – selfs deur ons toergids, wat van Manchester af kom.

Alles kom tot ’n einde toe ons bus ’n arme stadsmotortjie teen die binnebaan vasdruk en as ’n enkele kolos van plaatmetaal tot stilstand knars. Toe weet Jan dis die einde van die pad.

Dis vir ’n oomblik stil. Daar is ’n pieperige toet van een van die Renault 5’s, nou die helfte so breed as vroeër. Almal juig spontaan. Jan is doodstil. Hy kyk vir oulaas na die toergroep. ’n Afgetrede onderwyser van Potsdam wys – heeltemal uit karakter – vir Jan ’n middelvinger.

Die res juig en stamp voete toe ons die pie-papie-pa...van die gendarmerie hoor.

Jan stap stadig met die trappies af, uit die bus en uit ons lewe uit.

DAN IS DAAR die passasiers. Ek noem hulle passasiers omdat ek party se name vergeet het, al wil ek hulle hoe graag by name in die verleentheid stel.

In st.4 het my ouers besluit om my saam met ’n groep hoërskoolkinders op ’n toer na die destydse Rhodesië te stuur. Ek skat hulle het gedink dit sal ’n bietjie “moral fibre” by my bou, want ek was maar ’n bang kind. Net om die situasie interessant te maak het hulle vir my ’n slaapsak saamgegee wat te groot was om te dra (dit het sy eie ingeboude matras gehad) en R4 sakgeld vir ’n week.

In Bulawayo is ek deur ’n st.6-kind geboelie – met ’n tafelmes teen my keel. Ek moet myself ter ere na gee dat ek nie my tas óf my groot slaapsak laat los het nie.

Die doel van die standerdsesser se afdreiging kan ek nie onthou nie, maar my R4 was teen daardie tyd uitgelewe en ek had niks behalwe my waardigheid om te verloor nie. Dié het ek wel ’n rukkie later verloor toe ek vergeefs geld probeer leen het by my reisgenote.

Hierdie vernederende ervaring het dermate ’n indruk op my gemaak dat toe ek die volgende jaar weer op ’n skooltoer gaan, ek ná ’n week met R4,50 van my R5 sakgeld by die huis opgedaag het.

’n Ander keer, op ’n universiteitstoer Europa toe, stop ons by ’n plaas in Holland. Hulle maak kaas daar, en almal storm en koop vir ’n vale. Dit ruik vir my te sleg, en ek sien hoe knipoog ons busbestuurder vir Kees, die kaasmaker. Almal smul op die bus.

Party se maag het tot in Oostenryk gewerk...

’N STUDENTETOERGROEP stel ander eise. Hier in 1977 rond, op ’n argitektuurtoer, slaap ons oor in Kroonstad langs die Valsrivier, in houtchalets wat later met die vloede van 1988 in maalkolke saam met afrikanerstoetbeeste en tuinmeubels meegesleur is Atlantiese Oseaan toe.

My kollegas het aangedui dat ons die aand sou vleis braai, maar geen aanstaltes word gemaak om selfs ’n vuur aan te steek nie. Ons het wel braaipakke gekry, maar daar is geen bykosse of slaai nie.

My vrese was ongegrond. Teen tienuur word aangekondig ons gaan nou braai – binnenshuis. Die vier stoofplate in die chalet word op high gestel en minute later sis die vleis, direk op die stoofplate.

Hierdie improvisasie het ’n nadraai gehad, want ons bus was die volgende oggend nouliks deur die duikweg of prof. Benedictus Kok se sekretaresse wou met die toerleier praat.

Die rektor het laat weet die toerbus mag op die res van die toer nie nader as 750m van ’n drankwinkel af stilhou nie.

Dit was nie ver genoeg nie.

IS ALLES DAN SLEG saam met ’n toergroep? Gelukkig nie. Toere begin gewoonlik versigtig, selfs al ken jy almal, of dalk Niemand nie. Party wil agter in die bus sit, party voor. Mense gesels, en kort voor lank word families, voor- en afkeure en verwagtinge uitgepluis.

Soms word hierdie vreemdelinge vriende; soms word hulle net nog vreemder. Op sulke toere leer ’n mens eintlik meer oor jouself as oor jou reisgenote.

Dan is daar die laaste oomblik van die toer. Maar nog voor die afskeid, is daar die adres- en e-posuitruilery – en die onvermydelike groepsfoto. Almal staar na die kameralens asof hulle hulle beste wil gee. Só wil hulle onthou word.

Een of twee se oë is toe. (Dalk ’n weerspieëling van hulle ervarings op die toer?) Nog een lê uitgestrek voor op die grond in ’n laaste poging om haar nuutgevonde vryheid te onderstreep.

’n Mens sou wel kon vra: Hoekom toer ek dan saam met ander mense?

Dis maar onplesierig om alleen te reis. As jy my nie glo nie, gaan kyk na Clint Eastwood in The Good, the Bad and the Ugly.

Geen hombre mag saam met hom verder reis of van sy kampvuursousboontjies eet nie. Weet hy dan nie dis nie wat jy eet wat belangrik is nie, maar saam met wie?

Die beste reisgenote is gees- of sielsgenote. Dit geld vir ’n wegbreeknaweek saam met vriende, die roei van die huweliksgondel, die daaglikse werksreis, die lewensreis ná 50 of 80, ’n Donderdagaand saam met my seun...

Met hierdie reisgenote hoef jy geen geld saam te vat nie, maar soveel bagasie as wat jy wil – selfs al is alles vuil wasgoed.

Julle weet wie julle is. Ek is lief vir almal van julle.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #53 (Maart 2009) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook