Ek was nou die dag weer by ’n padkamp. Op Brandvlei in die Boesmanland. Miskien verbeel ek my net, maar ’n mens sien deesdae maar min padkampe op die platteland. Baie mense weet nie eens wat ’n padkamp is nie.

’n Padkamp behoort aan die provinsiale administrasie – of die plaaslike regering, soos hulle dit nou noem. Dis ’n basis vir die mense wat die streek se paaie in stand hou, veral grondpaaie. Al die padskrapers en lorries en padgoeters word daar gebêre.

Soms woon daar ook mense in ’n padkamp: padskraperbestuurders, vlagswaaiers en padwerkers.

Eens op ’n tyd het byna elke dorp ’n padkamp gehad, altyd iewers aan die buitewyke, toegespan met ’n hoë heining. Om een of ander rede hang die hek skeef of dis gebuig, óf daar is nie meer ’n hek nie. Gaan kyk maar, daar skort áltyd iets met ’n padkamp se hek.

Hoekom, weet ek nie. Ek weet wel hoekom die hek van die padkamp op Daniëlskuil, my grootworddorp, só gebuig was dat dit nie meer behoorlik kon toemaak nie: Pronkie was saam met my in st.3, en sy pa het een Saterdagaand laat op pad terug van oom Uys se hotel af met sy Opel Manta in die padkamp se hek vasgery.

Op Daniëlskuil het almal alles van mekaar af geweet.

Pronkie-hulle het in ’n wit administrasiewoonwa in die padkamp gewoon. Sy pa was ’n padskraperbestuurder, die enigste een in die distrik. Die padkamp was langs die Kurumanpad, naby die begraafplaas, en dit het nie veel anders daar gelyk as by die een op Brandvlei waar ek nou die dag was nie.

In ’n padkamp is altyd een of meer van daardie wit woonwaens, met of sonder bande. Dit lyk of dit ontwerp is deur iemand wat graag ’n Gypsey, Sprite of Jurgens wou bou, maar boedel oorgegee het.

Jy sien ook nooit ’n rally-tent – ’n voortent – aan ’n padkampwoonwa nie. Daar is ook nie ’n skottelbraai of kampstoele buite of handdoeke wat oor ’n tenttou hang nie.

As jy uitklim, hoor jy nie musiek wat iewers oor ’n radio speel nie. Padmense kampeer nie vir die plesier nie.

Elke keer wanneer ek ’n padkamp sien, kry ek ’n gevoel van verlatenheid. Nêrens groei ’n ekstra boom nie. Nêrens is ’n grasperk nie. Daar is dikwels nie lopende water nie. Iewers is altyd ’n tenkwa waarin water vir die padwerkers aangery word met ’n kraan wat drup-drup in ’n modderpoeletjie.

Mooi in gelid naby die heining staan gewoonlik ’n veselglastoilet of twee, omgewe met die reuk van Jeyes Fluid. Eenkant is daar dikwels een of ander skaap- of beesvel met growwesout daaroor gesprinkel. In party padkampe is ook so ’n metaal-igloe of twee waarin van die werkers moet woon.

Watter amptenaar se plan sou dit gewees het om hierdie sort igloe vir Suid-Afrika se padkampe aan te koop? Dis 41ºC in die Boesmanland, en heeldag is jy langs ’n pad in daardie son. Dan, ná werk, kom jy by die padkamp en jy moet jou tuismaak in hierdie byna vensterlose affêring wat deur die Eskimo’s uitgedink is om hulle warm te hou. In die Noordpool...

In ’n padkamp sien jy ook dikwels ’n tent op die kaalte onder die son staan – so ’n ouwêreldse ronde kakietent, en iewers daar naby staan ’n swartgebrande konka.

Saans sit daar werkers by daai konka met lang skaduwees wat rondom hulle dans.

Seker omdat ek grootgeword het op plekke waar daar nie baie teerpad is nie, was ek van kleins af bewus van die mense in die padkamp – dié wat op die paaie werk.

Dis hoe ons gepraat het: “Pronkie se pa werk op die paaie.” Of: “Oom Jimmy werk by paaie.” Oom Jimmy, my ma se een broer, was ’n voorman by paaie. Hy en tant Breggie het ook eers in ’n padkamp gewoon, maar later het hulle ’n administrasiehuis op Warrenton gehad.

Destyds het ’n mens dikwels ’n voorman soos oom Jimmy langs ons land se paaie in aksie gesien. Wel, meestal was daar nie veel sprake van aksie nie: Die voorman het dikwels eenkant in die administrasie se AA-geel Toyota-lorrie gesit terwyl ’n spannetjie werkers die paaltjies langs die pad verf of bossies uitskoffel of wat ook al.

Partykeer het die voorman net daar gestaan en kyk hoe werk die werkers. Hy het altyd vir my so half moedeloos gelyk – met ’n pakkie dertig in die bosak en die gesigsuitdrukking van ’n man wat so 70km is van waar hy wil wees.

En etenstyd, wanneer die werkers vir hulle pap inskep uit ’n potjie by ’n rooklose vuur, dan haal die voorman toebroodjies uit ’n bliktrommel en skink vir hom ’n bekertjie koffie.

Die voormanne was nogal life vir ’n kortbroek en lang kouse by ’n wit of ’n kakiekleurige stofjas. Pronkie se pa het ook, wanneer hy agter die padskraper se stuur was, altyd ’n wit stofjas by ’n kortbroek aangehad. En op sy kop was ’n harde geel helm.

In party padkampe is ook so ’n metaaligloe of twee waarin van die werkers moet woon. Watter amptenaar se plan sou dit gewees het om hierdie soort igloe vir Suid-Afrika se padkampe aan te koop?

Dis iets waaroor ek vandag nog wonder: Hoekom dra padwerkers ’n harde helm op die kop? Op ’n pad kom die klippe tog van onder af.

Soms was Pronkie se pa in die week nie by hom en sy ma in die padkamp nie. Hy en twee werkers het die Maandagoggend die distrik op die skraper ingery, met ’n ander woonwa, ook so ’n witte, agter die skraper gehaak. Daar was ’n draadhok met ’n paar hoenders agterop – hulle vleis vir die week.

Hulle het sommer kamp gemaak êrens langs die pad wat hulle besig was om te skraap. Eers Vrydagmiddae het hulle dan teruggekom.

Deur die jare het ek al dikwels by padskrapers langs die pad stilgehou en met die bestuurder– of drywer, soos hulle hulleself noem – gesels.

Op hulle oudag het hulle baiekeer met rugprobleme gesukkel, want ’n padskraper het nie ’n veerstelsel nie. Hy karring aan jou rugwerwels totdat iets meegee. Party se name onthou ek: Daar is oom Fanie Enslin, oftewel oom Fanie Pad, van Laingsburg; Willie Faasen van die Weskus; Flip Bredenkamp van Thabazimbi, oom Jan Opperman van Mariental in Namibië. Ervare padskrapers, almal van hulle.

In Namibië sien jy meer padkampe en padskrapers as hier by ons, want daar kyk hulle beter na die grondpaaie.

Ek het al een middag laat in ’n padkamp buite Uis in die Namib met oom Wessie le Roux by sy woonwa gesit en gesels. Sy drie handlangers was ook daar by die vuurtjie. Hulle loop heeldag met daardie harde helms op die kop agter die padskraper aan, elkeen met ’n graaf in die hand. Hulle skep die klippe van die pad af wat die skraper loswikkel.

Die pad tussen Uis en Hentiesbaai is mos maar stillerig. “Net 26 karre is vandag dag by ons verby,” het oom Wessie gesê. Hy het dit geweet, want een van sy helpers – ek weet ongelukkig nie wat sy naam is nie – trek ’n strepie met ’n pendoring op sy arm elke keer wanneer ’n kar verbykom.

Soms het ek op my fiets by Daniëlskuil se padkamp verby gery, maar ek het nooit by Pronkie gaan speel nie. My ma sou dit nie toelaat nie, want Pronkie-hulle was anders as ons. Hulle was nie NG nie. Hulle het net een keer per jaar kerk toe gegaan. Dit was op die aand van 31 Desember, vir die middernagdiens. Pronkie en sy pa het dan nie ’n baadjie aangehad nie. Hulle het net hemp en das gedra en nie hulle das soos ons s’n geknoop nie. Hulle het hulle s’n so omgevou.

Daai Manta van Pronkie se pa het Saterdae voor die hotel gestaan en Pronkie se ma het gerook en smiddae Springbokradiostories geluister. Die wildtemmer, Ongewenste vreemdeling, Wolwedans in die skemer…

Pronkie het omlope op sy arms gehad. Soms het ons Pronkie by die skool gespot. Ons het agter hom aangeloop en geroep. “Pronkie bly in die pa-a-d-kamp! Pronkie bly in die pa-a-d-kamp!”

’n Mens weet mos nie wat jy doen as jy ’n kind is nie; en wanneer jy groot is, weet jy nie hoe om dit reg te maak nie.

Ek het nou die middag nie lank daar by die padkamp op Brandvlei vertoef nie. Ek het nie eens by die hek ingegaan nie. Ek het uit die bakkie geklim en alles staan en bekyk: die twee wit woonwaens, die tent, die tenkwa, die skewe hek. Ek doen dit dikwels wanneer ek ’n padkamp sien.

Dan wonder ek wat van ou Pronkie geword het.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 49 (November 2008) verskyn.