Of jy nou glo die geeste van eensame gesneuwelde soldate, treurende verliefdes, veroordeeldes of ontydige gestorwenes wandel steeds snags in die donker op hierdie aarde of nie, ’n goeie spookstorie knaag altyd aan ’n mens.

As kind het ek ’n herhalende nagmerrie gehad dat my ouers om die een of ander onverklaarbare rede na ’n deftige onthaal in die Kasteel in Kaapstad genooi word. Ek het gedroom lady Anne Barnard maak dan haar ongenooide verskyning in die balsaal soos wat sy blykbaar geneig is om te doen. Die ergste was dat ek nie geweet het hoe die antie lyk nie, en dus verder bevrees was dat die res van die mense gaan weghardloop en my alleen los by die spook omdat ek te stupid is om te weet sy’s al 160 jaar tevore dood.

Die Aprilvakansie toe my pa besluit het om Graaff-Reinet langs na my ouma-hulle toe te ry, het ek ná donker toe ons deur die Kammanassieberge naby Uniondale ry, my oë styf toegemaak en die tyd omgewens. Ek het al die stories oor Uniondale se spook gehoor. Ek het ook geweet my pa glo nie aan spoke nie, en as hy ’n natgereënde meisie met lang donker hare langs die pad sien stap, gaan hy wragtag stop en haar oplaai. Dan sou sy hier agter op die agtersitplek langs my kom sit sonder om ’n woord te sê.

Iewers op ’n draai in die pad sou die kardeur oopgaan en dan sou sy met ’n kekkellag in die koue donker verdwyn. Al wat sou agterbly, is die reuk van appelbloeisels.

Ek is genadiglik albei bonatuurlike ervarings gespaar, maar het oor die jare baie eerstehandse vertellings gehoor – van onsigbare ballerinas wat in leë vertrekke dans tot spoke wat gedagtes lees en op die regte tyd sigarette uitdeel voor hulle verdwyn...

My eie spookervaring het later gekom, in st. 7. In ’n woonwapark.

Dit was die skoolvakansie en my beste maat, Tiaan, het saamgekom plaas toe. Ons het in Oupa se rondawel geslaap en saans wanneer die ou Listerenjin sy laaste knor gegee en die ligte in die hoofhuis afgegaan het, het ons mekaar in die flikkerende kerslig spookstories vertel.

Dit was ’n aand vir spoke: Dit was donkermaan en die tengerige wolke het in vuil slierte oor die gitswart hemel getrek. Die kaal bloekombome het soos gefolterde siele boontoe gereik en hulle benerige takke het liggies in die aandbries gewieg.

Later die week het ons hele gesin met die Jurgens afgesit Aliwal-Noord toe, na die warmbronne. Sommer die eerste aand al besluit ek en Tiaan toe om ons manhaftigheid aan mekaar te bewys en ná donker uit die tent te glip en te gaan swem.

Dit was ’n aand vir spoke: Dit was donkermaan en die tengerige wolke het in vuil slierte oor die gitswart hemel getrek. Die kaal bloekombome het soos gefolterde siele boontoe gereik en hulle benerige takke het liggies in die aandbries gewieg.

Soos struikrowers in die nag het ons met handdoeke oor die skouers deur die stil woonwapark gedraf en hier en daar agter ’n braaiplek of sleepkar weggekruip as ons voetstappe op die gruis hoor. Dit was ’n ysige winter in die Oos-Kaap, en ons asem het in bollings wasem voor ons uitgedwarrel.

Ons bestemming was die groot buitenshuise warmwaterswembad naby die klein ablusieblok.

Tiaan was eerste in die water. As gevolg van die temperatuurverskil tussen die koue aandlug en die warm swembadwater het ’n “misbank” net bo die swembad gedryf soos ’n truuk met droë-ys in ’n rillerfliek.

Trouens, die mis was só dig ons kon nie die rand van die swembad sien nie en het mekaar kort-kort uit die oog verloor. Dit het gou in ’n bangmaakspeletjie ontaard om mekaar onder die water te bekruip en soos Jaws uit die dieptes te voorskyn te kom.

Hoe lank ons daar geswem het, kan ek nie sê nie, maar die wete dat ons oortree – en die adrenalien van die speletjie – was genoeg om ’n effense senuagtigheid in die lug te laat hang. Dis tóé dat sy haar verskyning maak van regs af, uit die klein ablusieblok se rigting.

Ek het haar eerste gesien – ’n lang wit figuur wat geruisloos oor die water sweef. Alles was wit, van haar kop tot daar waar sy een geword het met die wasem bo die swembad. Dit het gelyk asof sy ’n baba in haar arms dra. Tiaan was besig met ’n onderwatersluipaanval.

Dit was eers toe hy weer uit die water skiet dat hy en die vrou mekaar gewaar. Sy het haar gesig in ons rigting gedraai. Haar gelaat was groen en haar oë donker en diep in hulle kaste gesonke.

Sy het bloedstollend gegil, amper soos een van die wraakgodinne in ’n Wagner-opera. Waarheen sy toe verdwyn het, kan ek nie verklaar nie, maar toe ek weer tot my sinne kom, was Tiaan halfpad woonwa toe, en ek kort op sy hakke.

Ons het in ons slaapsakke ingeduik en die flitse naby gehou, maar heelnag nie ’n oog toegemaak nie. ’n Mens weet mos nooit hoe vinnig so ’n spook beweeg nie en of sy een Jurgens Magnifique van ’n ander kan onderskei nie.

Die volgende oggend het ’n tannie ’n klag by die oordbestuur gaan lê oor twee laaities wat haar die vorige aand glo byna ’n hartaanval gegee het. Sy het laataand die dag se swembadchloor uit haar hare gaan was in die klein ablusieblok omdat die storte by die groot blok nie meer warm water gehad het nie.

Sy het haar hare in ’n handdoek toegedraai soos wat vrouens mos maar doen, ’n japon aangetrek en haar gesigmasker opgesit.

Op haar pad terug woonwa toe, net mooi toe sy met haar badkamersakkie in haar arms by die buitenshuise warmwaterswembad verbystap, skiet ’n hoërskoollaaitie toe glo soos Jaws uit die water uit om haar skrik te maak.

Ek het later uitgepluis haar “gesweef” was omdat ons nie haar voete in die wasem bo die swembadrand kon sien nie.

Dit beteken egter nie ek glo nie meer nie, want ek weet wat ek daardie aand gesien het. Ek het ’n wonderwerk beleef: Ek het gesien hoe loop my beste vriend op die water.