Koos Kerewên van Knelpoort is ’n bok vir vakansie, maar as boer kan hy nie net sommer wegbreek nie, want die baas se oog maak die perd vet. Vir stedelinge is dit makliker. Hulle kan sonder té veel bekommernis die pad vat en in Desember by die see gaan lê.

Nie boere nie. ’n Plaas wat oor Kersfees en Nuwejaar aan die genade oorgelaat word, kan vinniger uitmekaar val as wat jy jou oë kan knip.

Ou Giel Geelhoek het dit só gestel: “As ek my draai, het ek skade!”

My eie familie wat boer, ook. Hulle’t kwalik afgeklim ná ’n lang reis of die selfone begin lui.

Namate die vakansie vorder, word die frons op hulle voorkop ál dieper terwyl hulle na die jongste teëspoed luister.

’n Windpomp se pype het in ’n boorgat geval. ’n Hek na ’n lusernland is oopgelos en ’n klomp grootuierooie het opgeblaas. ’n Veldbrand het handuit geruk. ’n Duur bul is siek…

My susterskind, ’n boer van Pongola, noem op vakansie sy selfoon, met apologie aan Robert Lee Frost, “a bearer of evil tidings”.

Maar ’n boer maak ’n plan. Pleks daarvan om weke voor die tyd allerhande reëlings te tref glip party op die ingewing van die oomblik vir ’n paar dae weg as hulle die kans kry.

Jy staan een môre op, kyk die kat uit die boom, gee die nodigste opdragte, en dan laat waai jy. Sonder om te sê waarheen jy gaan en wanneer jy terugkom. Voor jou werkmense hulle oë kan uitvee, verdwyn jy in ’n stofwolk oor die bult.

Dit werk soos ’n bom. Die verantwoordelikheid wat skielik op hulle skouers geplaas word, kweek trots en betroubaarheid. Ek weet van sulke boere wat hulle plase in ’n eksieperfeksie toestand kry wanneer hulle terugkeer.

Toe Koos, ’n eksponent van hierdie weggaantegniek, ligdag op ’n môre rondom Kersfees met ’n beker koffie op sy opstal se klipstoep uitstap en suid kyk, het hy skielik lus gekry vir vars kabeljou en koue witwyn op Gonubie by Oos-Londen, die naaste see aan Knelpoort.

Op pad na die stoor, waar sy werkers vir die dag se opdragte gewag het, het by die ou flentergat-Gypsey-karavaantjie op die werf verbystap wat hy vir ’n appel en ’n ei op ’n bankortvendusie gekoop het vir oornagplek wanneer hy op ’n veepos skeer. Hy het skielik die lig gesien.

Hy het vasgesteek, teen een van die afgeloopte bande geskop, die lendelam deurtjie oopgemaak en onthou wat sy oorle’ vader van hulle eerste Toyota Corona-bakkietjie gesê het: “Die dingetjie is soos ’n two-seater-kar, net meer beknop!” Maar hulle sal inkom, het hy gedink.

By die stoor het hy vir sy voorman, Gert Perd (hy was ’n kranige inbreker van perde) gesê: “Gaan werk maar draad.” Op ’n skaapplaas, waar normaalweg net die windpompe en ramme werk, word draadwerk – die herstel van heinings – uitgedeel.

Gert Perd en sy handlangers was skaars buite sig, toe trek Koos sy dorptoegaanbakkie uit die waenhuis: ’n wit Ford F100, nuut gekoop in ’n goeie woljaar en by sy pa geërf, en stoot haar terug teen die woonwaentjie se geroeste sleephaak.

Sy vrou Lettie, sewe maande ver met ’n laatlam, het van ’n kastrol krummelpap op die Esse deur die kombuisvenster opgekyk en hom van die Gypsey af sien aanstryk. Lettie het sy lyftaal gelees en geweet wat kom. Terwyl sy die pap roer, het nie ’n tinteling nie, maar ’n lydsame sug deur haar swaar lyf getrek.

By die onderdeur het Koos vasgesteek en gesê: “Pak, ons gaan see toe!” Dié reis sou hom sy bynaam besorg: “Koos Kerewên”.

Die jaar daarop skiet ek in die winter op Knelpoort. Ons kom teen sononder met ’n moddervet blesbok by die huis aan. Toe Gert Perd die vel aftrek, lyk die karkas soos dié van ’n uitgevrete viertand-dorperhamel.

Lettie draai die lewer in die bok se netvet toe, ryg dit vas met tandestokkies en bring dit saam met wors en ’n lamsrib in ’n skottel na waar Koos reeds vuurgemaak het.

Terwyl die son sak en ’n ysige aandwindjie oor die Suid-Vrystaatse grasvlaktes opstaan, gooi hy viervingerdoppe. Toe die vet om die lewer sissend op die kole begin drup, kom daar ’n vonkel in sy oog.

“Jong,” sê hy terwyl hy nog ’n Lexington opsteek, “ek wou jou nog vertel van ons trip see toe met die F100 en die Gypsey. Was dit nou ’n bokkerop!” (Eintlik het hy toe ’n ander woord gebruik.)

Nadat sy die tyding gekry het, het Lettie tot laataand bontgestaan. Sy het frikkadelle, vetkoek en kookeiers vir padkos gemaak, Oros in plastiekbotteltjies aangemaak, hulle klere en kooigoed ingepak, en die Gypsey se koskassie by ’n flits se lig bevoorraad.

Koos het hulle agtjarige tweeling, Pietie en Santie, se tjoepies en swemvlerkies ingepak, pakkies bevrore skaapvleis tussen yssakkies in ’n koelboks gepak, ’n bottel Viceroy in die F100 se domkragsak agter die sitbank se rugleuning versteek, en sy tjekboek saam met sy .38 Special in die smelterboks toegesluit. Toe het hulle gaan lê.

Toe Gerd Perd en sy span die volgende oggend nader staan om te hoor of hulle weer moet gaan draad werk, het Koos die huis en stoor se sleutels vir Gert Perd gegee en gesê: “Hou die velddamme vol en die krippe skoon en maak die windpompe vas as die wind sterk waai.” Net dit.

Toe het hulle geklim. Hy, Lettie en Pietie en Santie al vier voor in die F100, die kosmandjie en koffiebottel by hulle voete. Koos het wel ’n voorbode gekry toe hy die rathefboom in “Drive” druk en in die truspieëltjie sien hoe die Gypsey soos ’n koliekperd swik toe die F100 inskop, maar hy het deurgedruk.

Gonubie het geroep.

By Smithfield het die gasbottel losgeruk en afgeval. Hy het dit in die bosse langs die pad gaan optel en met bloudraad op die Gypsey se neus vasgemaak. ’n Boer ry nooit sonder bloudraad en ’n draadtang nie.

By Aliwal-Noord het ’n stuk van een van die Gypsey se oorgetrekte bande afgevlieg.

Naby Kookhuis is hulle by ’n padblokkade afgetrek. Die spietkop het om die Gypsey geloop, sy kop geskud en begin skryf. Hy het lank geskryf.

Intussen het die kindertjies in die ry aan die padkos begin weglê. Nadat hulle ook deur ’n sakkie nartjies is wat Koos by ’n padstalletjie gekoop het, het hulle karsiek geword.

Naby Kookhuis is hulle by ’n padblokkade afgetrek. Die spietkop het om die Gypsey geloop, sy kop geskud en begin skryf. Hy het lank geskryf.

Duskant Oos-Londen het ’n dwarswind die waggelende Gypsey se agterruit uitgewaai. Koos het die gat toegeplak met die kunsmissak waarin sy rooster was.

Gonubie is ’n gewilde vakansieplek. As jy nie maande voor die tyd bespreek nie, het jy nie ’n kat se kans om in Desember daar blyplek te kry nie. Toe hulle laatmiddag by die woonwapark insleep, was die plek stampvol. Maar ’n skaapboud uit die Vrystaat verrig wondere.

Wonder bo wonder het hulle ’n laaste oop staanplekkie in ’n hoekie sonder ’n boom gekry.

Pietie en Santie se maag het van die nartjies en vetkoek begin werk. Hulle moes baie ver loop na die ablusieblok.

Dit was die minste van hulle probleme. Die Gypsey se dak het begin lek toe ’n week lange landsreën uitsak. Bote kon nie uitgaan nie en van vars kabeljou was daar nie sprake nie.

Toe Koos ná drie dae die bottel Viceroy leegmaak en ’n tierende stormwind die Gypsey se ou gaar tentseiltjie aan flarde ruk, was dit die laaste strooi. Hy het Gypsey gehaak en hulle het in die pad geval Knelpoort toe.

Maar nog ellende het gewag. Op pad huis toe het al twee die Gypsey se wiellaers naby Rouxville opgepak. Koos het op sy tande gebyt en sy voet neergesit. Rook het by die Gypsey se wiele uitgeborrel toe hulle by ’n garage intrek.

Toe Koos hoor dit sal drie dae neem om nuwe laers van Bloemfontein af te kry, het hy die Gypsey afgehaak, vir die garageman gesê hy sal die @#$#! later kom haal, hulle goed op die F100 oorgelaai en gery. Só vinnig dat Lettie

en die kleintjies heelpad tot op Knelpoort gehuil het.

Maar troos het gewag. Toe hulle skemeraand op Knelpoort stilhou, het die ligte-enjin geloop, asof Gert Perd hulle te wagte was.

Die etenstafel was gedek en die reuk van ’n skaapboud in die Esse se louoond het deur die voorhuis getrek.

Toe hulle aansit, Koos opkyk en sy oorle’ ma se geraamde “Home, sweet home! There is no place like home!” teen die muur bo die sideboard sien, het hy ’n roerende dankgebed gedoen.

Hy het later die Gypsey met sy lorrie gaan haal en op blokke gesit. Lettie wou dit as ’n hoenderhok vir haar koekoeke hê, maar dit het uiteindelik Santie se pophuis op Knelpoort geword.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #85 (November 2011) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien. 

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook