Skets: Fred Mouton

Die Donderdagaand jaag my ma my vroeg kamer toe. Ons moet almal vroeg gaan slaap, want Vrydagaand as my pa van die werk af kom, ry ons Johannesburg toe vir my ma se jonger suster se troue.

Daar is al baie gepraat en beplan aan die ryery bruilof toe. My ouma het ’n paar dae vantevore al uit die Baviaanskloof Port Elizabeth toe gekom sodat sy kan saamgaan. Ons is ses wat Johannesburg toe ry vir die troue.

Johannesburg is baie ver – omtrent 750 myl. Nie een van ons was al in Johannesburg nie; nie eens my ouma wat al oud is nie. Hulle ken almal net die Baviaanskloof, die dorpe in die omgewing en natuurlik Port Elizabeth, oftewel “PE”.

Die dogters wat nie met boere in die omgewing getroud is nie, het in PE gaan werk en hier hulle lewensmaats ontmoet.

Maar ná skool wou my tannie Johannesburg toe vir verpleegopleiding. Daar het sy later ’n man wat in ’n ernstige motorongeluk was verpleeg, en hulle het verlief geraak en besluit om te trou. En dis hoekom ons nou Johannesburg toe gaan.

Ek is opgewonde, maar nie lus vir die ver ryery nie, want ek raak karsiek en ek hou nie van lank stilsit nie. Almal sê ek het rooimiere, maar ek is net vyf jaar oud; dus is dit seker te verskone.

Vrydagnamiddag toe my pa van die werk af kom, sukkel hy om alles in die kar gelaai te kry. Dis mense uit drie verskillende huishoudings se trouklere, ’n hoededoos (waarin al drie vroue se hoede op mekaar gestapel is), drie trougeskenke, ’n geskenk vir ons gashere, en natuurlik die kosmandjie.

Dis ver en ons gaan lank ry en ons sal gereeld moet stop om langs die pad te eet. Daardie jare was daar nie restaurante langs die paaie nie, en ook nie tyd om in die dorpe te stop en vir kos te wag nie.

Dis al amper vyfuur toe ons uiteindelik vertrek. Ons ry in my pa se 1955 Vauxhall Velox, ’n lelike kar met ’n lelike donkergroen kleur en ’n liggroen dak. Ek sit voor tussen my pa en my neef. Daar is baie plek, want die rathefboom is aan die stuurwiel en die voorsitplek is aaneen soos ’n rusbank. My neef Chris is al 17 en gaan Pa help bestuur.

Agter sit my ma, ouma en tannie Jana, neef Chris se ma. Die vroue gesels oor die troue en die bruid. My pa en my neef gesels oor motors en dinge wat hulle langs die pad sien. Gou slaap ek en raak eers wakker toe ons vir aandete stop. Die piekniekmandjie word uitgehaal en ons sit by ’n sementtafeltjie langs die pad. Dis al sterk skemer en my pa haal sy flits uit.

“Gee aan die toorts!” sê my ouma, en maak lig in die kosmandjie. Ai, daar kom lekkernye uit daardie kosmandjie: gekookte eiers, koue hompe skaaprugstring, tuisgebakte brood en selfs koeksisters vir soetigheid!

'Maar Chris verduidelik vir my dat dit ’n plek buite Johannesburg is waar alle vreemde mense gehaal kom word en dan vat die Johannesburgers jou die stad in.'

Nadat almal ’n draai geloop het, vat ons weer die pad. Gou voel ek naar. My pa is ongeduldig en wil nie stop nie. Later voel ek darem beter en sluimer weer in.

Ek word wakker toe ons stop vir petrol en die vroue na die vulstasie se badkamer gaan. Hulle praat van “Uncle Charlie” wat ons in Johannesburg by die padkafee gaan kom kry. Ek het nie eens geweet my ouma het ’n Engelse broer nie; en dan bly hy nog in Johannesburg ook! Maar Chris verduidelik vir my dat dit ’n plek buite Johannesburg is waar alle vreemde mense gehaal kom word en dan vat die Johannesburgers jou die stad in. Die bruidegom sal ons vroeg Saterdagoggend daar kom haal. Maar my tannie sal nie by wees nie, want sy mag nie die bruidegom voor die troue sien nie. Gelukkig het my ouma al die bruidegom gesien toe hy kom ouers vra het. Hy sal haar darem seker eien.

Dis al lig toe ons by Uncle Charlie’s kom. Die bruidegom ry voor ons uit in sy nuwe linkerhandstuur-Volvo na sy broer se huis waar ons sal oornag. My pa moet vetgee om by te hou. My ma raak haastig, want sy wil nog kerk toe gaan om te oefen saam met die meisie wat gaan sing, en om die gevoel van die orrel te kry. My tannie wou hê my ma moet by die troue speel.

Die kerkraad moes glad toestemming gee dat ’n vreemde op hulle orrel speel. Ons ander moet ’n bietjie slaap inkry, veral die bestuurders.

Voor die troue is dit ’n gejaag vir die huismense en ons ses om ’n beurt in die badkamer te kry. Toe my pa wil aantrek, is sy nuwe, varsgestrykte hemp weg. In die plek daarvan hang ’n ou hemp; die gasheer moes in die geharwar seker my pa se hemp aangetrek het. My pa is omgekrap, en wil nie die ou hemp aantrek nie. My ma moet mooipraat.

Van die seremonie in die kerk onthou ek nie veel nie, maar die onthaal was baie lekker. Maar toe raak dit ’n bietjie te gesellig na die Baaienaars se sin. En my pa voel steeds verontreg oor die ander man se hemp. Die grootmense sit koppe bymekaar en besluit om net te wag tot die bruidspaar vertrek, en dan sommer die pad terug te vat PE toe. Hulle het genoeg gehad van Sodom en Gomorra!

So kom dit toe dat ons nie die aand oorslaap nie. Ons gaan pak ons bagasie by die gasheer se huis, my pa los die gebruikte hemp nét daar en ons vat voor middernag die pad terug na ons bekende en geliefde PE. Gelukkig weet die bruid van niks – sy’s op haar wittebroodsreis.

Met dagbreek raak ek wakker. Ons is op die vlaktes in Philippolis se omgewing. Chris bestuur en my pa het ook pas wakker geword en nou gesels hulle iets ernstigs. Die Vauxhall spring blykbaar uit top gear uit. Daar is drie ratte vorentoe en hy wil nie in derde bly nie. Ons trek af en my pa vroetel onder die enjinkap, maar raak niks wys nie. Dis Sondagmôre en van ’n werktuigkundige is daar nie sprake nie. Ons ry toe maar verder, in tweede rat. Al verder weg van Johannesburg...

Die Vauxhall spring blykbaar uit top gear uit. Daar is drie ratte vorentoe en hy wil nie in derde bly nie

Later begin die Vauxhall kook. Ons stop oral waar ons ’n windpomp sien. Houers word vol water gemaak, dan ry ons weer ’n ent, dan moet ons weer stop. Ry en stop. Ry en stop.

Iewers in die Karoo klim Chris oor ’n heining om water by ’n dammetjie te skep en sy hand gly van die paal af in die hakiesdraad in – ’n yslike winkelhaak in sy handpalm. Dit bloei.

“Pleks ek het daai hemp saamgebring, dan was hy darem ten minste goed vir verbande,” sê my pa. My neef kan nie meer help bestuur nie. 

Ons kom eers Sondagnamiddag in PE aan. Ons bad en gaan slaap. Maar voor my pa gaan slaap, bel hy eers iemand. Ek hoor hy vra: “Wil jy nog jou kar verkoop? Want ek is klaar met Vauxhalls...”

Maandag kom my pa van die werk af met ’n amper nuwe 1961 Hillman. Dis kleiner as die Vauxhall, maar mooier. Hy is two-tone geverf: geel en swart.

“Nou kan ons lekker Johannesburg toe ry!” sê ek uitbundig.

“Nie sommer gou nie,” was al wat my pa gesê het.