Richmond. Droë plek hierdie met vriendelike mense.

Terwyl ek soos ’n taxidrywer aan my ou Defender staan en wieg by die vulstasie om die laaste moontlike druppeltjie diesel in die tenk te kry, kyk ek rond.

Ek was al hier. Vyf of ses jaar gelede.

Ek het geryloop en tannie Bessie het my opgetel, met haar omgekrapte lewe en ’n krappende ratkas. Met háár Land Rover van háár Hermaans. Ek onthou dit asof dit vandag voor my afspeel…

Dit was vroeg een somersoggend.

Anders as my ou Defender was hare splinternuut. En hy’t sommer baie groter gelyk met die grys tannietjie agter die stuur. Met ’n luide gekla en gesteun het ons dit eindelik tot op die grootpad gemaak nadat sy eers in derde rat en toe in reverse probeer wegtrek het.

Tannie Bessie se bebrilde, helder ogies het dit net-net tot oor die stuurwiel gemaak. En sy’t gepráát en gerook en gepráát en gerook. Deurmekaar.

Nog voor Richmond se koppie in die spieëltjie verdwyn het, het ek haar lewensverhaal geken. Veral die deel oor háár Hermaans en die buurvrou. Ai, wat ’n skande. Dit ná sy drie kinders amper op haar eis grootgemaak en haar vir dertig jaar lank afgesloof het om huis en haard aanmekaar te hou.

Die Landie het gesnork soos tannie Bessie met die ratte gestoei het. Sy het duidelik nog nie ’n lang verhouding met die vierde rat gehad nie. Ek het sit en wonder wat sy met die centre diff lock sou doen …

Maar met die stories het sy nou eers op spoed gekom.

“Julle mannetjies vannie binneland. Julle verstaan nie van droogte nie,” het sy op ’n stadium gesê.

En voor ek kon antwoord: “By julle reën dit mos of water verniet is. Mens kry tot ’n ding soos waterbesoedeling. Nou vir wat laat julle die water so lank alleen staan dat dit kan vuil raak man?”

En dis toe dat die hele storie uitkom.

Háár Hermaans was glo ook baie lief vir water, al het hulle op ’n plek gebly waar dit nie in oorvloed was nie.

So lief, vertel sy verbete, dat hy een oggend soos mis voor die son verdwyn het saam met die tandarts-buurman se “verveelde blonde skouponie van ’n vroutjie”.

Hy’t al sy aardse besittings, sy vrou en twee honde net so gelos en sy huis in Richmond verruil vir ’n woonstelletjie in Margate. Tannie Bessie se geordende, voorspelbare bestaan is oornag in chaos gedompel. Vir weke lank het sy nie die huis verlaat nie. Sy’t haarself en die honde aan die slaap gehuil. En dan weer wakker gehuil.

Uiteindelik, na twee maande, het haar besorgde vriendin Malie haar uit die kamer kom sleep om haar die groot nuus te gee: Háár Hermaans het die tydelike met die ewige verwissel. In die arms van die verveelde blonde vroutjie. Maar dit was nie al nuus nie. Háár Hermaans se drif en vuur vir die meisie blyk hom so besig te gehou het dat hy nooit sy testament laat verander het nie.

En so erf tannie Bessie toe alles. Van die splinternuwe Defender tot die getekende World Cup ’95-olieverfskildery en die mini-satellietskottel wat van enige kampplek in die republiek Sewende Laan kon opvang. En die tandarts se vrou sit met niks.

Ek kon sweer ek het op daai stadium van die vertelling ’n tikkie genoegdoening in tannie Bessie se stem bespeur. Veral toe sy vertel hoe sy een oggend besig was om die honde kos te gee, en toe langsaan sien hoe die treurende minnares druipstert met haar tassies uit ’n taxi klim.

Volgens tannie Bessie is haar vriendelike groet nie met dieselfde entoesiasme beantwoord nie.

Haar Hermaans se liggaam is toe in Bloemfontein veras en die erdekruikie met die oorskot is met ’n lykswa aangery Richmond toe, na die dorp waar hy as laaitie albaster gespeel het in die stof en hitte.

Daar het sy dit vir ’n dag of twee op die buffet laat staan, waar vriende en familie drupsgewys eerbied kom betoon het.

Dis toe dat tant Bessie die bevlieging van die water gekry het. “Die dae was net te droog,” het sy gesê terwyl haar ligblou ogies in die verte gestaar het. “En jy weet mos hoe’s ons oor water in die Karoo my kind. Selfs die van ons wat vir die ou lummel lief was, kon nie huil nie. Ons het net ons gesigte so getrek.”

Vroeg die volgende oggend het sy ’n tassie met ’n paar kledingstukkies en die kruikie “omtrent so driekwart vol  Hermaans” in die Landie gepak en op die N1 geklim. Suid. Water toe.

Hierdie reis sou egter op geen manier op Hermaans se voorwaardes geskied nie.

Die Landie se binnekant het soos Tokio in die nag gelyk soos die liggies aangegaan het. ’n Hele paar Karoohektaar was verlig.

Dis dié dat sy spesifiek suid gemik het en nie Natal toe nie. “Daar by Koeëlbaai is so ’n strandjie waar die berg en die see mekaar dophou. Waar die water en die land net reglê. Daar is waar ek hom wil laat gaan,” het sy gesê. Weer eens het die Landie se ratte geknars soos sy ’n trok probeer verbyvat het sonder om die koppelaar se hulp in te roep.

By Beaufort-Wes het ons onder ’n boom afgetrek om iets te eet. Tannie Bessie het sweerlik ’n volledig toegeruste kombuis uit die agterkant van die Land Rover uitgevou. Daar was ’n vrieskas op ’n laaitjie, nog groot laaie wat uitgetrek het vol borde, glase, messegoed en vadoeke, ’n netjiese speseryrakkie, ’n gasstofie, noem maar op.

Die Landie se binnekant het soos Tokio in die nag gelyk soos die liggies aangegaan het. ’n Hele paar Karoohektaar was verlig.

Ons het om ’n opvoutafeltjie aangesit vir ’n heerlike tannie-Bessie-allegaartjie (varkribbetjie, tjoppies en regte egte Karoowors) net daar langs die pad op  vlekvryestaalbraaiertjie gebraai. Op kole van regte sekeldoringhout.

Haar Hermaans se erdekruikie het ’n ereplek aan die tafel gehad en dit het glad nie vreemd gevoel om saam met hom ’n ete te geniet nie. Ek meen, ek het die man mos teen dié tyd al amper intiem geken.

Tannie Bessie se aanhoudende geselsery het my in elk geval nie kans gegee om te veel te dink nie.

Van Beaufort af het die pad skielik kort geraak. In die vroegoggendure het die dorpe verbygeflits. Tannie Bessie het iewers tussen Beaufort en Leeu-Gamka die Defender se vyfde rat ontdek en toe trap sy daai petrolpedaal ráák.

Ek het nog altyd gedink dat die Kaapse dorpe, so deur die Karoo, die lekkerste name het. Vol en romerig op die tong.

Leeu-Gamka, Laingsburg, Touwsrivier, De Doorns, al die pad tot by die Paarl se tonnel.

Iewers tussen die De Doorns en die tonnel moes ek aan die slaap geraak het van die gezoem van die Landie se veldrybande op die pad.

Tussen Stellenbosch en Somerset-Wes het ek vervaard wakker geskrik. Ons het nie meer gery nie. Die heerlike geur van gebraaide spek het my deur die oop venster aan die neusvleuels gegryp en buitentoe gesleep. Op die skouer van die pad buite ’n kwekery was tannie Bessie besig om haar laaste koue gekookte eier heel in haar mond te prop.

“Kom hartjie, ons kan nie op ’n leë maag die lummel gaan vrylaat nie,” mompel sy langs die eier verby en druk ’n beker koffie in my hand.

Ná ’n hartlike ontbyt in die skadu van die Helderberg vou tannie Bessie die padkombuis weer netjies agter in die Landie in, en laat wiel.

Teen hierdie tyd was my aanvanklike plan om Kaapstad toe te ryloop nie eens meer ’n kwessie nie. Ek moes eers vir tannie Bessie gaan help om háár Hermaans te gaan vrylaat.

By Koeëlbaai het tannie Bessie haar weg op die rowwer veldpaadjies met verbasende doelgerigtheid gevind. Kort voor lank het ons teenaan die strand tot stilstand geruk. (Hoekom nou ’n voertuig afskakel as jy bloot jou voet van die koppelaar kan afhaal?)

’n Paar minute lank het ons net so gesit. Ek, die bebaarde en padvuil ryloper, en sy, die klein, weerlose tannie. Nie een van ons het iets gesê nie. Waaroor sou ons nou praat? Ons en haar Hermaans het dit gemaak tot in Koeëlbaai.

Skielik het die lewe wyd en vry gevoel, soos ’n onverwagse reis in ’n 4x4 wat jy nie eintlik ken nie. Al het die ratte gekraak en geknars, het ons dit tot by die see gemaak. Die meeste mense maak dit tog uiteindelik tot by die see, het ek gesit en dink.

Tannie Bessie het met ’n sug uit die kar geklim. Sy’t my met droë oë beduie dat ek net daar moes wag. Nie dat ek enige trane verwag het nie. Haar woede oor die tandarts se flerrievrou het nog vlak gelê. Sy het die erdekruikie onder een arm vasgeknyp en versigtig die vlak water ingestap.

Die grys-wit as het ’n ongereëlde waaier om haar gevorm soos sy dit gestrooi het. Die leë kruikie het stadig tot langs haar sy gesak.

Lank het tannie Bessie net so bly staan en na die horison gestaar.

Later het sy uit die water geloop tot by die agterkant van die Landie. “Kyk voor jou of maak jou oë toe, boetie,” het sy gesê, “anders sien jou ogies vandag iets wat die Liewe Vader nie wil hê jy moet sien nie.”

Ek kon hoor hoe sy droë klere aantrek en het in stilte gewag tot sy uiteindelik langs my ingeskuif het.

Vir ’n oomblik het sy net na haar hande op die stuurwiel gestaar. Toe kyk sy op. “Net hier my kind. Net hier begin my nuwe lewe. Nou voel ek vry.”

En eers tóé trek sy haar gesig.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegry (Mei 2011) verskyn.